by

Republiek van Zoid-Afrika

March 28, 2022 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Republiek van Zoid-Afrika…

Ek kyk al vir dae lank aaneen gefassineerd, aaneen geskok, na kort (en lang) selfoon-videos wat in ‘n ver land (met ‘n blou-en-geel vlag) gebeur met ma’s en hul kindertjies in prams wat landuit vlug…en ouma’s (so oud soos my eie ma) wat huilend agtergelaat word buite brandende huise…

“Hoekom doen jy dit aan jouself?” vra my ma my vanoggend toe ek kla van nagmerries van uitgebrande skole en bunkers vol huilende kinders… Ek konnie aan ‘n goeie antwoord dink nie, maar het by myself gewonder of die wortel van al hierdie aardse hel (aka mister Poetin) nie ook het wat ons almal aan ly na die afgelope 2 jaar nie?  Ekt êrens gelees van Covid-Fatigue…en ek dink ons almal ly in ‘n mindere of meerdere mate aan hierdie aaklige “Post Traumatic Covid Stress Syndrome”…want saam met die 21ste eeu se cyber-hacking, artificial intelligence en social media probleme het daar ook ‘n virale oorlog gekom.  Het Hollywood ons nie al jare gelede hierop voorberei nie?  ‘n Mens kan ook net soveel handle voordat jy gaan crack… Anders as mnr Poetin is ek nie regtig ‘n vegter nie, eerder die vlug-van-my-probleme tipe…maar ek moet bieg dat ek deesdae korter van draad is (by die skool en ook die huis) en ek soek oral verskonings hiervoor soos: “Weet jy hoe erg dit is om klas te gee vir veertig 14 en 15 jariges in een klas met ‘n masker voor jou en hulle monde?  Niemand kan hoor wat iemand sê nie…dis somer- sweet en sanitering heeldag…”

Toe ek laasweek die een uit die klas stuur vir slegte gedrag…hoor ek onderlangs…”Juffrou se p%$#@$”…Ek was so onkant gevang (en in my pedagogiese eer gekrenk) ek wou sommer in my kar klim en huis toe ry…en gaan huil op my bed, but i kept it together…tot laat daai middag… toe ek ant Raaitjie (met haar besem) se troos-woorde onthou… “Onthou juffrou, jy los die slegte goed by die skool se hek…”

‘n Rukkie gelede (toe al die vakansiegangers weer huis toe is) sê ek vir my huismaat ek wil see toe gaan vir my verjaarsdag (wat laasmaand was)…en as hy my nie wil vat nie…”sal ek sommer loop” het ek heel dramaties ge-eindig.  Shame, hy het my begaan, die wiele gepomp en die kar vol over-priced petrol gegooi, en ons het die saterdag-oggend vroeg ini pad geval met hardgekookte (blou) eiers, wors en toebroodjies vir langsiepad brekfis…en dit was nes ek dit beplan het…perfek… Die kleintjies het hul baaibroeke aangehad, ekstra handoeke en sunscreen is ingepak en ons het “Die-een-wat-eerste-die-see-sien…”  gespeel toe hulle begin ongeduldig raak.  Witsand se strand was idillies-mooi, toe ons eindelik daar stop (met ons vuil plaaspad kar) en ons het uitgespring en vinnig ‘n kolletjie strand gaan opeis tussen die ander mense…maar na 2 jaar van myself gedra en al die reëls slaafs navolg…was die oomblik net te groot and i threw all caution overboard…

Ek kan dit nie regtig explain nie, maar ek het elke dogtertjie aan die hand gevat en begin hardloop vir die branders (en kan regtig nie onthou wanneerlaas ek so opgewonde en uitbundig gevoel het nie) Ek was ewe skielik ook 8 jaar oud (juffrou-mamma…die control-freak) en daar duik ek (vir die eerste keer in my lewe) met bril-en-al die branders in… Die oomblik toe ek my sien-bril nie meer kon voel of sien nie…en die skok van ongeloof-verwyt en algehele bevryding kan ek moeilik beskryf…maar dit was asof ek al my sorge, stress en sonde in die Jordaan-rivier afgewas het.  Heelwat later (na my halfhartige poging om my bril in die skuim te probeer vind) het ek drippend en blind soos ‘n mol op my handdoek neergeval…en gelag vir my eie silliness…who cares dat ek nie die fondse het vir ‘n nuwe bril nie…en who cares dat ek 200 toetse by die huis het wat gelê en wag het om gemerk te word? I was living the moment…en dit was priceless…geen geld kon dit koop nie…

Ons was gistermiddag by ‘n plaas-konsert waar Karen Zoid (oppad na die KKNK) ons moeë travelers verwelkom het met ‘n glas wyn by die grens van haar Republiek… en alhoewel ek moes hoes vir die kaartjies, sien ek dit as deel van my nuwe post-Corona identiteit…aka Carpe Diem..

Sy het ons laat lag (en soms ook laat huil) met doodgewone mens-wees staaltjies uit haar verlede…en toe ons teen skemertyd moes groet, het haar afskeidswoorde  my meer geraak as haar musiek : “Onthou om gedurende die goeie tye happy memories te maak vir die slegte, swaarkry tye wat voorlê…” want ons bly maar net mense…altyd geraak deur ander mense…

My seën…

1 response to Republiek van Zoid-Afrika

  1. Hello.This article was really fascinating, especially since I was browsing for thoughts on this subject last Saturday.

Leave a reply

Your email address will not be published.

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.