You are browsing the archive for 2021 October.

by maraja

Drama by die Boekteek…

October 20, 2021 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Drama by die Boekteek…

Dis alweer einde vannie kwartaal…en dit beteken net een ding…in hoofletters…CHAOS…want dis punte, assesserings (met 5 s’e), toetse, en  e-mails  en punte en tabelle en en….en dis nie net my werk by die skool nie, maar ook Sussie en Kleinsus s’n…

Sussie kla al van vroeg Maandag oggend dat sy nie vir Zakkie kan kry nie… “Wie de hel is Zakkie?” vra ek in die verbyhardloop kar toe….besig om boeksakke, toebroodjies en ekstra klere te laai, want ons is alweer laat vir skool… en ingedagte wonder ek of dit dalk ‘n nuwe soft toy of troetel-gogga is wat sy die naweek in die veld gevind het (ons bly op ‘n plaas, sien) en gril…hopelik het hy sy weg weer veld toe gevind… “Neeeee Mamma” antwoord sy, “Z…is vir Zakkie, en dis my biblioteekboek!”

Verlig antwoord ek met ‘n “Oh” en skakel die kar aan…”Toemaar skat, ons sal hom vanmiddag soek…hy lê seker onder jou bed…” En so begin ons week van drama met Zakkie…

Daardie aand maak ons die kleintjies se kamer behoorlik skoon met besem en skoppie…vind ou lost treasures onnerie bed, plus ‘n magdom missing sokkies, maar geen Zakkie nie…en die volgende oggend gaan Sussie huilerig skooltoe, want sy weet sommer Juffrou gaan haar skel.  Ek paai haar en praat haar moed in…miskien het ons die klein boekie dalk by die dorpsbib gaan ingee saam met ons ander 22 boeke laasweek?  Ek glo kinders moet van kleinsaf ‘n liefde vir lees ontwikkel so ek oorlaai hulle al van baba-dae af met boeke… Hulle het selfs tande gesny op van my favourite boeke…en ja, dit het my hewig ontstel toe Sussie my Truman Capote (In Cold Blood) gerecycle het into paper mache, maar dis ‘n heel ander storie…

Ek troos haar vir oulaas met ‘n… “Sê vir juffrou ons gaan vanmiddag na skool kyk of Zakkie by die verkeerde biblioteek is. Eks seker sy sal verstaan”… toe ek haar by die skool afgooi en kyk in die tru-spieel hoe sy sleepvoet by die skool se hek insluip (versigtig-bang) “Simpel ou Zakkie”…dink ek…toe ek by my eie skoolhek indraai…

Juffrou het toe nie verstaan nie, want teen eerste pouse kry ek ‘n kwaai Watsup om te sê die biblioteek tannie soek dringend Sussie se bib boek…”Hoekom is ou tannies by biblioteke altyd so uptight oor hul boeke?” wonder ek geïrriteerd terwyl ek my peanutbutter broodjie afsluk met koue tee…

Laatmiddag… by die dorp se Boekteek (soos Kleinsus dit noem)  verduidelik ek vir Rene (die baie vriendelike en jong bibliotekaresse) dat ons vir Zakkie verloor het en kan sy dalk help om hom te vind?  “Geen probleem” antwoord sy met ‘n smile…  en soek gou op haar computer… Daarna skakel ons oor na die stapels boeke wat eers in kwarentyn moet lê en wag (dankie Covid, selfs die arme boeke moet gesanitise word) voor hulle weer op hul rakke kan gaan slaap… maar selfs daar is Zakkie spoorloos…Die arme vrou het eers gestaan, toe gesit en later op die grond gesoek…rak vir rak…met my en Sussie soos stertjies agterna…Kleinsus (wat maar sukkel om te focus) het gou moeg geraak vir die speletjie en haar by ‘n klein tafeltjie gaan tuismaak om met helderkleurige vetkryt prentjies in te kleur… Soos die sweet in my nek afloop van paniek en angs (dit was nou vir my duidelik dat Zakkie elders kuier) het ek op ‘n stadium uitgeroep : “Hoeveel boeke het Jaco Jacobs al geskryf?” want die hele biblioteek was vol van die man se boeke… Van die kleintjies, tot die tieners en ook die grootmense se rakke het gewemel  van J vir Jacobs…en dit was ‘n uitgemake saak dat ek nou my plat beursie sou moes leegmaak en dat mnr Jacobs al die pad bank toe toe lag…

Sussie ken haar Ma al teen hierdie tyd goed en het met ‘n klein stemmetjie toestemming gegee dat ek haar verjaarsdag-geldjies kon gebruik om ‘n nuwe Zakkie vir die biblioteek te koop…en dit was dan ook die oomblik wat ek gebruik het om haar ‘n nuwe groot woord te leer (sy hou mos van fency woorde in haar woordeskat)…”Jy moet ophou om so AGTERLOSIG te wees my kind…”  skoon vergete was Zakkie en baie impressed met haar nuwe woord, het sy uitgehuppel by die biblioteek (nadat ek eers vir haar die HAT verduideliking gegee het daarvan)

Later die aand het ons wel vir Zakkie gevind op die laaste plek waar ons dit verwag het…haar biblioteeksak…en Kleinsus wou opgewonde weet of ons dan more weer Boekteek toe gaan?

Kleinsus..en die Groot Lees…