You are browsing the archive for 2020 March.

by maraja

Hallo…en Koebaai Juffrou…

March 4, 2020 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Hallo…en Koebaai Juffrou…

“Mamma….Juffrou het so gesê…” is ‘n rympie wat ek deesdae al te dikwels hoor…My reply klink dan gewoonlik erg tiener-agtig in my eie ore…as ek antwoord met ‘n :  “Wie dink sy is sy?”

“Sy is my JUFFROU mamma…” laat my so ‘n titsel jaloers voel, want ek weet dis ‘n gewonne stryd…en mompel dan saggies en half vir myself….”maar eks dan ook ‘n juffrou…”  Maar dit beteken absoluut boggerol in die bigger scheme van ons nuwe lewe wat absoluut draai om S-K-O-O-L…

Want van dou-voor-dag tot laat saans is dit broodjies-maak-tasse-pak-klere-pak-en-en-en…dis holderstebolder jaag van die een punt tot die volgende en die volgende…dis roosters en reëlings en vergaderings en komitees en fondsinsamelings en volunteer en broodjies maak en lootjies verkoop en en en…

Hoe doen ander ma’s dit en dra dan nog make-up en high-heels daarby?  Ons is maar slegs aan die begin van hierdie skool-monster…maar ek kan sien dat ek definitief nie opgewasse is hiervoor nie…en eks dan self ‘n juffrou? 

I’ll be honest…dis ‘n baie confusing tyd vir my…

Ek’t sopas by die groot Hoërskool op die dorp begin werk (na die afgelope tien jaar by ‘n klein plaasskooltjie) en dis nogal ‘n skok vir my gestel om daagliks 200 kinders by my klaskamerdeur te sien in en uit maal…en wonder dan deur die dag…maak ek regtig ‘n verskil in hulle lewens?

Die ander middag lê ek voos na vyf, ‘n bietjie horisontaal  (net om my seer voete ‘n bietjie van ‘n break te gee en myself op te saaik om te gaan aandete maak…) toe Sussie en Kleinsus op die bed klouter en my voos-geit waarneem… “Wil mamma ‘n mer-saach hê?” vra Kleinsus…en voor ek kan respond… begin die een aan my skouer-spiere woel en die ander een kry my eina-voete behendig beet… “Waar leer julle dit?” wou ek floutjies weet…terwyl ek voel hoe die moegheid my verlaat onder al die aandag van my eie home-spa-treatment...

”By Juffrou mamma…” sing die tweetjies in ‘n koor…en daar kom die jaloerse teenager weer in my te voorskyn….”Waaaaat?  Is dit waarvoor ek duur skoolgelde moet betaal?”  Ek sit sommer regop (al die luxury van my eie mer-saach vergete) en vertel vir die tweetjies van die struggles van ‘n hoërskool-juffrou…en verklaar sommer hard-op en aan niemand in particular nie :  “In my volgende lewe wil ek ‘n graad een juffrou wees!”  Want al help ek jong mense om hul skoolloopbaan klaar te maak (en voel ek vreeslik bly en trots as hul goeie punte behaal) is ek heimlik verwonderd, vreeslik impressed en natuurlik… bitter jaloers dat ‘n ander juffrou my blompotte binne ‘n maand of twee kan leer lees en somme doen…wie dink hulle is hulle…Cinderella se Fairy Godmothers? Imangine net…as ek hulle skills gehad het…

Maar wie dink hulle is hulle?  Dit vebyster my altyd as ek in ‘n lang, vervelige ry met my shopping trolley staan en die persoon voor my (gewoonlik ouer, gryser…met ‘n aura van wysheid) se beurt breek aan…en die kassiere verkrummel sommer in hul teenwoordigheid… Ewe skielik word daar flinker getik op die till, die hoflikheid het toegeneem en die groceries word sekuur gepak asof dit Madiba of Winnie self is wat hier voor my staan… Daar word dan beleef uitgevra na die kassiere se mammie en pappie…en as die betaling gedoen is, groet die klein dogtertjie agter die till :  “Totsiens Juffrou…”  Ek bly in ‘n klein dorpie en het dit nou-al gewoond geraak…al verstaan ek dit nie mooi nie, want eks mos ook ‘n juffrou…en waars my special treatment dan?

Tot noudie dag…terwyl ek besig is om vir die kleintjies te leer (altyd die juffrou) hoe om met die wit sanitêre lappie die shopping trolley se handvatsels mooi te ont-kiem (mamma het hulle mos vertel van die nare Chinese kieme…) word ek in die middel van my higiëne storie ge-interrup met ‘n “Is dit dan nie my gunsteling st.2 leerling nie?”  En daar kyk ek op in die gesig van my favourite juffrou van dertig jaar gelede…en voel weer tien jaar oud…bloos bloed-rooi…en groet  skaap-agtig :  “Hallo Juffrou Brown…”

Eerste dag van skool 2020…