by

Die Hand van God…

February 8, 2020 in Uncategorized

 Mens is nooit te oud om te leer nie…

Die Hand van God….

“Mamma…wat is dit daardie?”…vra Sussie een hel-warm-middag terwyl ons huistoe ry op ‘n klipperige plaas-pad…  Ek klou verbete vas aan die sweterige stuurwiel en probeer al die potholes en boulders in die pad vermy, maar kyk tog op na waar die klein handjie oor my skouer beduie… “Dis ‘n war-rel-wind my skat,” sê ek half-ingedagte en vee geirriteerd die sweet en hare (ek het nie air-con nie en ry met my venster waaaaa-wyd oop)… uit my oë….en skielik hardloop ‘n groot, vet veldmuis oor die pad met die warrelwind agterna en die twee verdwyn saam die bosse in…

Sussie sit pen-regop en fluister in my oor : ”Het Mamma dit gesien?” “Ja, my skat,” antwoord ek (nogal self impressed met die laat-middag drama op ‘n stowwerige pad)…maar Sussie fluister verder :  ”Weet Mamma wat was dit?”… en terwyl ek my St. 7 handboek van 30 jaar gelede se definisie van ‘n warrelwind probeer re-call…kom die antwoord oor my skouer :  “Dis die hand van God Mamma….wat ‘n muisie kom haal het om hemel toe te neem…”   Woweee….ek het nog NOOIT so daarna gekyk nie….en eks seker dit was definitief NIE in my handboek NIE….

Laat-aand…met die kamakazi-muskiete wat om my kop zzzzzz en Eskom wat my waaier nie laat waai nie…kan ek nie slaap nie…en ek dink terug aan die wonderwerk wat ek die middag gesien het… Onwillekeurig dink ek ook aan die kleintjies se pa…Het die Hand van God hom ook daardie herfs- dinsdag-middag kom haal so 4 jaar gelede?  As dit wel so is…hoe voel dit om deur ‘n warrel-wind opgesuig te word, sommer-so…uit jou liggaam uit?  Slaan dit ook jou asem weg…soos Dorothy s’n in die Wizard of Oz?  Of is dit wat “Die Op-ra-ping” eintlik beteken?

Ek was baie klein in 1980 toe ek E.T. die eerste keer gesien het.  Ek was net so oud soos Drew Barrymore en sy was (obviously) my eerste Hollywood-heldin in Sub A…Op daardie stadium was my greatest achievements:  Grootskool, Sondagskool en Fietsry….Een middag, tewyl ek ingedagte fietsry, dink ek aan die movie…en onthou skielik hoe die kinders met hul fietsies die hemel ingery het…en skrik my boeglam…want wat van as Jesus besluit dis vandag die einde van die wêreld en ons vlieg met ons fietsies die hemel in?  My ma was al besig met aand-ete in die kombuis en ek het in die half-skemer van ‘n laat somers-middag my klein groen fietsie getrap dat die wiele sing…want ek wou by my ma wees as so iets groots gebeur….net in-case…en ek onthou dit so goed… asof dit gister gebeur het…

Soos alles in die lewe is daar altyd twee kante aan dieselfde muntstuk…the good and the bad…Dit is ‘n baie scary gedagte dat die hand van God ons soos ‘n verskrikte veldmuisie oor die pad kan jaag die bosse in…en ons wat oor ons skouers benoud gil :  “’Seblief Jirre…eks noggie reggieeeeee…” ek bedoel….was die kleintjies se pa regtig reg om op 43 aan ‘n hartaanval te sterf?  Ek twyfel…. maar dis eintlik ook baie gerusstellend…om te dink…..die hand van God wat soos ‘n onsigbare sambreel (soos SANTAM) twenty-four-seven oor jou waghou…tot jou laaste uur (die een waarvan jy onbewus was) maar wat soos jou geboortedag….al lankal opgeteken staan in jou Book of Life…en niemand… iemand…. kan hiervan weghol nie…..selfs nie die arme klein hondjie…wat noudie-oggend met ‘n spoed uit dieselfde bosse oor die pad genael het…net toe ek om die draai gery kom nie….

Kleinsus en Pappa op haar Geboorte Dag…

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *