Dis heerlike Lente…..
September 19, 2016 in Uncategorized
Mens is nooit te oud om te leer nie…
Dis heerlike Lente….
Die soet reuk van Jasmyn hang alweer in die lug…..en ek assosieer dit van kleintyd met die liedjie….”Dis heerlike lente….die winter’s verby…..weer nodig die somer……vir jou en vir my!”
Ons het ‘n motorhek gehad (kleintyd) wat met die begin van die lente nie meer kon toemaak agv die swaar trosse Jasmynblomme wat daaraan gehang het nie…..amper so swaar soos die dik, soet reuk van die Jasmynblomme self…..soos ‘n bruid het die hek ook ‘n groot wit sluier gehad… wat dramaties op die grond gesleep het elke keer as ons dit oop of toe gemaak het…
Almal in ons huis se neuse was toegeswel van lentesinus….maar myne het die soet reuk van nuwe lewe en nuwe hoop ingedrink….
My heel eerste lentedag by die skool het bestaan uit ‘n secret admirer se whispers of sweet nothings….en ook ‘n klein bossie Jasmyn….sorgvuldig toegedraai in ‘n nat tissue en foelie (sekerlik deur sy ma) sodat dit heeldag kon lewe…..
My universiteitsdae op Grahamstad was dieselfde….lente het gekom met die reuk van soet Jasmyn en liefde…..in die lug…. Winter in die Oos-Kaap was ‘n deksels koue besigheid….met dik kouse, stewels, wol jasse en musse…..maar Jasmyn het ‘n hedonistiese, sorgvrye tydperk ingelei….jaarliks
Dis alweer lente…..my ma druk my die ander dag ‘n handvol Jasmyn in die hand…en verklaar ek moet ontslae raak van die aaklige sinus blomme wat iemand haar gebring het….ek kon nie….Jasmyn bring tog hoop? Ek het dit stilletjies in my kamer gaan wegsteek…..waar ek so af en toe ‘n skeut in die neus kry as ek verbyloop….dis onweerstaanbaar lekker…
Tot vanoggend…..
Terwyl ek besig is om in te pak….na hierdie lang en koue winter waarin ek my man aan die dood moes afstaan….kom ek af op ‘n spierwit sak met die klere wat hy die laaste oggend van sy lewe aangetrek het….Versigtig (amper heilig en gewy….soos mens maak as jy ‘n geliefde se graf gaan besoek….) het ek die pakkie klere oopgevou….en my neus daarin gedruk….om te onthou hoe hy geruik het…..maar wat ek tussen die voue van sy jean en hemp geruik het was nie hy nie……dit was die soet reuk van Jasmyn…..maar hierdie keer het dit nie nuwe lewe of hoop gesimboliseer nie……
dit was die soet reuk van die dood….
Recent Comments