by

Begrafnisreelings vir Dummies

August 28, 2016 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

Begrafnisreelings vir Dummies

Vandat ek ‘n klein dogtertjie was, het ek onomwonde geweet : ek wat Maraja is, gaan nooit ooit in ‘n wit rok voor die kansel eendag staan nie! Dis net te deksels aandag trekkerig met ooms en tannies wat uitrafel hoe later hoe kwater….Ek het selfs eenmaal ‘n bruid sien flouval in die studentekerk in Bloemfontein! Al die tannies het ge “ShameSiestog” maar ek het gedink : ”Kry sy nie genoeg aandag nie?”

My eie troue op 35 was nes ek dit wou he….Gewone rokkie by Binnelandse Sake in Worcester….”Till death do us part.” Ek het natuurlik net geluister na die “…in sickness and in health” gedeelte en breed gesmile (I’ve got this)….en boy, was I wrong!
So bevind ek my toe waaragtig drie weke gelede voor die bleddie kansel, in swart, alleen met ooms en tannies wat voor die tyd uitgerafel het….

My man het toe nie siek geword nie…..Hy is net dood…Morsdood neergeval een sonnige middag van sy hart….en so leer ek toe, teen wil en dank, die volgende (op die harde manier) dat begrafnisreëlings definitief nie vir sissies is nie….

Heel eerstens moet ‘n beskikbare dominee gevind word wat nie te kwaad vir jou is omdat jy so lanklaas in sy kerk was nie….Op die telefoon vra hy jou: “Watse dag van die week mevrou?”…Hel, ek trap so verbete water dat ek self nie eens weet watter dag van die week vandag is nie!
Ons besluit op ‘n mooi middel van die week woensdag (die skoonfamilie moet van ver kom, sien)
Dan moet ‘n beskikbare kerk gevind word wat nie alreeds gebruik word nie (gaan die mense dan deesdae soos vlieë dood…..wonder ek)
Dan die orrelis (sy moet ten minste ‘n paar dae gegun word om al die droewige liedjies op die orrel te oefen)
Die blommetannie vra bekommerd : “Waar gaan ons mooi blomme vandaan kry, jy weet dis winter, my kind?” (Seker die berge tannie….waar die Bybel belowe ook hulp vandaan sal kom?….dink ek)
Moenie die koster of sy sleutel weggooi nie (die sluit deesdae nie meer die kerkdeur oop sonder betaling nie…..(What, are you serious?)
My ma vra my waar gaan die verversings aangebied word….(Wat van die hemel…hoop ek stilweg by myself….wie het nou inelkgeval ‘n eetlus?)
Eks so moeg…maar daars nie tyd vir rus op my louere nie (my ma maan juis gedurig : “Rus is in die dood my kind”…)
Goed….dan die nuus breek aan die wêreld….Begrafniskennisgewing in Die Burger (wat ‘n verregaande pond se vleisprys eis) en ook die plaaslike koerantjie….

”Jou ou control freak!” se ‘n klein stemmetjie agter in my benewelde brein terwyl ek self die berig en kennisgewing op my laptop uittik….(“Shut up!”, dink ek….. I’ve got this)

‘n Wenende skoonma arriveer uit die ou Transvaal. Ek moet nou sterk wees vir ons albei (die eerste en laaste vrou wat hierdie man geken en liefgehad het)….Ons huil en lag saam….Dan gaan besoek ons haar kind by mnr die Begrafnisondernemer in sy koelkamer…Daar lê hy in diepe slaap en sy ma en ek neem vir oulaas afskeid van hom…
Ons soen hom op die voorkop en vryf ons vingers deur sy pragtige krulhare…
”Forever Young” soos James Dean…..

Volgende is ek gereed om die fensieste kispak vir my man te gaan koop (going out in style) maar word ingelig dat ek eerder my geld by die Spur kan gaan verkwis, want : “Die doodskleed het nie sakke nie, mevrou…en jou man word veras”……”O….ok”…..
Al wanneer ek en skoonma koppe stamp is toe sy besef ek laat een van my skilderye op die Begrafnisbrief druk….Dis ‘n hond sien, en sy hou nie van diere nie, wat verlangend oor die vlaktes tuur…

En daar gebeur dit (Time waits for no one, dear)… Woensdagmiddag 3 uur….Kleedrepitisie klaar…..(let the show begin!)
Ek was betyds by die kerk….My man het altyd gesê ek gaan nog laat wees vir my eie begrafnis …….(ek was nie, so whe, maar dan, dit was nie my eie begrafnis nie, ne?)

Die 2 dogtertjies wat altyd handmedowns van hul niggies dra is uitgevat in splinternuwe rokkies wat oral krap…
Ek kon nie op foto’s besluit vir die dominee se powerpoint nie (daar is letterlik duisende) so het hom toe maar ‘n 3min selfoonvideo gegee waar die dogtertjies saam met hul pa op die strand loop….Toe hulle dit natuurlik in die kerk sien roep een uit : “Pappa!” (what a show)

Ek het my huldeblyk soos ‘n ware hoofmeisie by die podium gelees….Daar was vriende en familie van heinde en ver….
Van my drie broers was darem een daar (die sterk een, thank god) wat Breytenbach voorgelees het en Koos (du Plessis) het vir ons sy Gebed gesing….

Toe die kis later die middag, stadig by die kerk uitgedra word deur ses sterk broers en neefs (met Proteas van die Montagu berge daarop), kon ek nie help om deur die trane te smile toe ‘n klein stemmetjie in my oor fluister : “Skaam jou…..nou het jy darem vreeslik aandag getrek” nie…..

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *