Appels … Appels … Appels

Januarie 5, 2016 in Uncategorized

Hierdie is nou nie ‘n oorspronklike idee nie. Ek het vanoggend na ‘n video gekyk wat iemand vir my gestuur het. En dit het my lekker laat runnik. Ek dog ek sal dit hier deel. So as jy die video gesien het of die grap (storie) al gehoor het … Jammer.

Die man stap in die kroeg in en hy bestel ‘n rum en coke. Die baarman sit ‘n groot rooi appel voor hom neer. Die man kyk verbaas na die kroegman.

“Ek het gevra vir ‘n rum en coke!”

Die kriegman verseker hom dit is wat hy voor hom het. Hy verduidelik dat hy enige geur in ‘n appel kan sit en die man moet ‘n hap vat. Die ou dink wat het hy om te verloor … en hy vat ‘n byt.

“Dit proe regtig soos rum!”  se die man verbaas.

“Draai hom om en hap weer…” se die kroegman.

Die man maak so. Weer is hy stomgeslaan. “Hierdie kant proe na coke. Dit is werklik merkwaardig.”

Met die stap daar nog ‘n ou in die kroeg in en bestel ‘n Gin en tonic.

Hy kry ‘n gelerige appel voor hom. “Ek het gevra vir ‘n Gin en tonic my oom …”, mompel hy vir die kroegman.

Weer verduidelik die kroegman dat hy met appels kan toor en dat dit enige geur kan bevat. Die man met sy rum en coke appel por hom aan.

Die man vat ‘n byt. “Dit proe regtig na die beste Gin wat ek al geproe het.” Se die man verbaas.

“Draai hom om…” se die kroegman.

Die man hap die ander kant van die appel. “Jy is reg. Dit proe soos gin en tonic…”

Met die stap daar nog ‘n ou in die kroeg in en gaan sit langs die ander twee. “Wat is dit met die appels ? vra hy.

Die twee verduidelik hom van die appels en die kroegman se belofte oor die geur.

 

Nou moet ek net gou inspring in die storie en verduidelik dat die volgende deel bietjie gesensor is deur my.

 

Die man kyk na die kroegman en dink so sekonde. “Kan jy dit laat proe soos ‘n vrou se vy ?”, wil hy weet.

Die kroegman sit ‘n groen appel voor hom neer.

Die ou vat ‘n byt en trek sy gesig terwyl hy die mondvol appel uitspoeg. “Dit proe kak…”

“Draai hom om…”, se die kroegman.

 

Ludwig (My vy)

 

 

Een Dominee, Een Vibrasie

November 2, 2015 in Uncategorized

So vinnige storie voordat ek vergeet. Hierdie is ‘n ware verhaal. Name en plekke is verander om die betrokke persone se identiteit te beskerm. ‘n Vriendin vertel die storie vir ons so paar aande terug. Daar was bietjie wyn en baie vleis betrokke. Die verhaal speel af so paar jaar terug toe ‘n Dominee nog huis besoek gedoen het.

Vriendin het haar man begrawe en dit is bietjie van ‘n hartseer tyd vir haar. Skielik was sy alleen et haar twee seuns. So probeer die seuns haar so bietjie opbeur en hulle vat haar stad toe en in ‘n kompleks gaan hulle haar nou bederf met ‘n splinternuwe fliek sensasie. Hulle noem dit I-Max of so iets.

Toe daardie fliek begin en jou stoel bewe en alles is in jou gesig word vriendin naar en verlaat die fliek vinniger as wat jy jou geld op die lotto verloor. Buite het die naarheid bedaar maar die verlange was skielik te veel en sy het net daar voor die plek gaan sit en haar hart uitgehuil. Heelwat later toe sy nou beter voel begin sy notisie neem van wat om haar aangaan terwyl sy vir die seuns sit en wag. Sy sien toe die ding waaroor die storie eindelik gaan.

Hulle is besig om die nuutste tegnologiese oefenmasjien af te laai by die winkel oorkant haar. Sy keer toe een van die winkel se verteenwoordigers voor en vis bietjie uit omtrent die nuwe oefen foefie. Hulle verduidelik haar mooi hoe die kontrepsie werk en vriendin is ‘n kranige entrepeneur en sy het dadelik die masjien se moontlikheid raakgesien. Dit was toe een van daardie masjiene waarop jy klim en dan st jy ‘n gordel om die sitvlak of gedeeltes wat nou begin pla en dan stel jy die masjien en hy vibreer die area skoon weg.

So koop sy die masjien en stel hom in haar huis op. Nou die huis was groot en die masjien het sy eie kamer gekry. Die oefenkamer. En vriendin verwittig almal wat leef en beef op die dorpie van die masjien en dat hulle vir twee rand ‘n minuut kom skud. Soos enige nuwe ding op die platteland word haar drumpel duergetrap en maak sy fluks geld met die masjien. Mense stap enige tyd van die dag of nag met hulle sakkies en handoekies en wag geduldig om tyd te kry om geskud te word.

Aan die ander kant van die reenboog is daar nuuskierige mense waarvoor geen geskud gaan help nie. Die jaloerse koek en tee brigade wat ‘n lekker storie nie kan los nie. So hoor die dominee later iewers tussen die druiwelyn deur dat daar snaakse dinge by vriendin se huis aangaan. Goed wat die e kerkraad se aandag moet geniet. Die duiwel kry houvas in die gemeente. En nie lank nie of Dominee doen noodsaaklike huisbesoek. Tipe van ‘n nood ondersoek.

By vriendin se huis is dit toevallig ook toe ‘n redelike besige periode en daar is ‘n paar mense voor die huis geparkeer. Vriendin is besig in die ‘wagkamer’ wat voorheen net die sitkamer was. Vriendin kan toe nou nie vir die dominee in die sitkamer tussen die ander neerplak nie want huisbesoek is mos ‘n privaerige gedoente. So sy beduie hom na haar kamer. Die dominee raak rooi in die gesig toe hy amper ‘n kop aan kop botsing in die gang veroorsaak met die hoof ouderling se vrou. En die mevrou hoof ouderling het ‘n knap sweetpak aan. Baie knap. En hulle mompel so half ontwykend in die verbygaan, en die dominee se gedagtes hardloop teen honderd kilometer per uur.

En nou moet hulle boonop in vriendin se kamer sit en huisbesoek doen. Die dominee weet nie watse verskoning om te gorrel nie en vir die tweede keer in sy lewe het hy erg met die versoeking om ‘n leuen te vertel, geworstel. Maar vriendin plak hom op die hoek van die bed neer an gaan sit met gekruisde bene en skink tee. Dominee vat sy koppie tee maar hy is nie meer die man wat hy vroeer die oggend was nie. Hy verkeer in ‘n vreeslike tweestryd. Die koppie rinkink so bietjie in sy hand.

En in die gang sien hy ‘n broer verbystap. ‘n Heel onbekende man. Met ‘n handdoek om sy nek. En in die sitkamer kan hy mense hoor gesels en lag. En hy skraap later moed bymekaar om te vra wat hy nou oor sit en wonder. Vriendin hou intussen die televisie agter die dominee dop want sy hou van krieket en alhoewel die klank af is hou sy die telling op die skerm so skelm dop. En sy konsentreer nie eindelik op die dominee nie.

En daar waar die oorsese span ‘n ses slaan en sy amper van die bed af val vra die dominee haar die vraag.

“Suster wat gaan aan in jou huis? Wat maak al die mense hier? vra hy toe hy sy koppie neersit.

En vriendin wat meer krieket op daardie oomblik in haar kop het antwoord.

“Dominee van my man oorlede is moes ek maar geld begin maak op enige manier wat ek kon. Hulle betaal my om my vibrator te gebruik…”

Vriendin se sy kon nie glo hoe vinnig daardie dominee reggop gekom het nie. Met ‘n stywe rug en ‘n geprewel van ‘n groot bid sessie is hy daar uit sonder om behoorlik te groet.

Eers later het sy besef wat die dominee gehoor en verstaan het uit haar betalende vibrator besigheid. Sy het hom toe darem later reg gehelp en verduidelik dat dit eindelik ‘n vibrasie masjien is vir oefen. En die dominee het die volgende week ook daar begin skud. Seker omdat hy skuldig gevoel het oor sy gedagtes.

Ludwig (Biscuit skud)

 

 

 

 

 

 

‘n Studie van die vlieg

Oktober 1, 2013 in Uncategorized

Ek het solank gelede iets hier geskryf ek voel skoon nuut. Daar is soveel nuwe gesigte as mens dit so kan noem. Ek het ‘n studie van die vlieg en al sy bondgenote gedoen.Die gevolgtrekings het my so verbaas ek dink ek gaan dit oor die volgende paar dae hier plaas sodat die slim mense hier my kan help om my foute op te spoor.

Voordat ek dit doen wil ek oor iets wonder. Hoeveel mense skryf nog stories,kort of lank, hier ? Hoe lewendig is die blogs nog?

Is daar kompetisies,uitdagings ensovoorts ?

Ludwig (Wonder Net)

 

 

Superman se neef

Maart 11, 2013 in Uncategorized

So rukkie terug hoor ek die storie uit die perd se bek. En ek besef ek staan om die vuur saam met Superman se neef…RepoMan.

Ek bevind myself een aand omsingel deur beslagleggers of skuldinvorderaars en opspoorders. In kombuis Afrikaans is dit repomen en tracers. Groot sterk manne wat meer soos boksers lyk as besigheidsmanne.

Nou luister ek na die stories en daar is ‘n paar wat oorvertel kan word en ander nie. Die wette word soms erg verdraai,gerek en soms gebreek. Die snaakste een is die een waar ‘RepoMan’ Superman se neef, ‘n konstruksie maatskappy se toerusting moet ‘terugvat’ of daarvan moet beslag neem. Alles goed en wel totdat die toerusting onder oog kom. Alles onder die son waaraan jy kan dink is op daardie terrein gewees. Seker die een artikel wat die meeste aandag getrek het was ‘n helikopter wat eenkant gestaan het. Deel van die kontrak was dat alles op een slag van die perseel af verwyder moet word. Nou alles het goed gegaan totdat daar plan gemaak moes word met die helikopter. Die vliegmasjien was te waardevol om daar te los. En al sluit jy die hek kan iemand hom daar uitvlieg. Geen probleem vir Superman se neef nie. Op die terrein is ‘n vragmotor met ‘n plat bak. Hy gaan sorg dat die vragmotor, wat ook terug gevat word, gebruik gaan word om die helikopter op te laai. Maklik.

Maar op die terrein kon hulle nie ‘n kraan kry om die helikopter op die bak te sit nie. Weer los Super Neef die probleem op. Hy was in die army dertig jaar terug. Sy buddy was ‘n chopper pilot en hy het baie verduidelik hoe vlieg jy ‘n Alhouette met een oog toe. Hy gaan die helikopter tot op die bak vlieg. Die bak is nie hoog nie. Net opstyg en paar meter links en weer land. Maklik.

So gepraat so gemaak en Super Nefie klim in die helikopter. En daar is meer knoppies as wat sy buddy van gepraat het. In die middel is ‘n roerstang. Of as jy die engelse naam van ‘joystick’ direk oorvertaal is die genotstok. Aan die kant van die sitplek nog ‘n stang. En Superneef begin twyfel in sy bloedlyn. Maar hy bly sterk. Hy doen sy ‘preflight’ checks maar dit is eindelik ‘n gesoek vir die ‘start’ knoppie. En toe die toeskouers begin wonder of Superneef weet wat hy doen begin die vlieg gogga tekens van lewe toon. En neef sit die ding in eerste rat en hy trek die choke heeltemal uit en hy draai die ref stang tot in die rooi, en daardie helikopter het nog nooit so opgestart nie. Met ‘n bol rook en ‘n onaardse gil van die turbine en ‘n gekners van yster slaan die hoof skroef of propeller teen die bak van die vragmotor vas. Nou dink mens die skroef sal breek. Nee daardie skroef is sterk. Nou staan die skroef stil maar die turbine is lus vir werk, die ratkas is lus vir werk en superneef is te besig om agter te kom iets loop skeef buite. Die mense buite hardloop in alle rigtings en duikrol rond en algehele chaos bars los. Veral toe die helikopter nou in die rondte begin swaai. Omdat die skroef of rotor nie kan draai nie draai die onderste gedeelte. Maar die onderste gedeelte is swaarder as die boonste helfte en elke roerende en bewende deel kraak en kners en rook en maak geluide wat nie in die ‘workshop manual’ beskryf word nie. Binne die kajuit is Superneef vasgedruk teen die binnekant van die kantvenster. Snot en sweet vorm ‘n hegte vriendskap oral oor die ruit en neef se gesig. En hy kry nie die ‘kill switch’ nie. En die spul spin in die rondte asof dit ‘n ‘merry-go-round’ is en toe neef begin dink al die vloeistof het sy liggaam verlaat breek die ratkas en alles kom in ‘n wolk stof en blou rook tot stilstand.
Die rekening vir die skade op die helikopter was toe meer as die betaling vir die kontrak. En so het Superman se neef ‘RepoMan’ besef al het jy super genes in jou bloedlyn dit maak nie noodwendig van jou ‘n chopper pilot nie.

Ludwig (Muur Vlieg)

Lekker onthou. Deel Een.

Januarie 23, 2013 in Uncategorized

Op my verjaarsdag sit ek toevallig in ‘n stilte tyd en ek begin dink oor die jare wat ek platgetrap het. Alles wat ek gedoen het. Alles wat met my gebeur het. Die lekker en die hartseer en die plein kommin moerse seer. Ook aan al die mense wat ek ontmoet het. Kennisse en pelle en fake friends. Die bliksems en die koeksisters. Die Moerdyke en die van der Merwes.

So hier gaan dit. So vinnige swaai deur my laaste vyf en veertig jaar. Hierdie skrywe gaan in ‘n paar dele opgedeel word want dit is gelukkig te lank vir een blog inskrywing. Party van die mense was nogal stouterig en ander souterig so ek sal die stout dele paslik merk. So as jy skelm moet rook hou by die stout dele verby.

My hele sien van die lewe is een van balans. So as jy net soet is of net stout is, die hele tyd, dan verloor jy die balans en dan, as jy nie klaar ‘n dominee is nie, gaan een jou dalk besoek. Hang af watter kant toe die skaal toe trek.

Een van die oudste onthou stukkies is die een wat my al die jare nog nagmerries gee. Op my Oupa Colin se pynappel plaas naby Oos-Londen het Middelboet en ek op die stoep gesit en speel. Nou my Oupa het al die plaagdiere, bobbejane en so, daardie tyd geskiet en dan het die werkers dit geslag en die velle laat droog word. Vir watter rede weet ek nie. Maar hulle het die gewoonte gehad om die velle so oopgespalk in ‘n doringboom te hang. En as iemand die onderste deur van daardie stoep oopmaak het ek daardie velle gesien en aan die gille gegaan. Tot groot vermaak van my een sadistiese tannie wie se naam en gesig ek vandag gelukkig nie meer kan onthou nie. Een oggend sit ons en speel op die stoep en die onderdeur is toe. Ek het iets gehoor krap aan die deur en bang opgekyk. En toe spring daardie tannie op en brul ‘n onaardse geroggel uit bokant die deur. En oor haar kop het sy een van die velle van die boom gehad. En ek het soos ‘n bobbejaan gemaak wat ‘n slang onder ‘n klip ontdek het. Ek het agteroor geval en my liggie het afgeskakel. Toe ek weer bykom het ek deur die trane en gille my ma herken en bedaar. Maar tot vandag toe kry ek nagmerries oor daardie dag.

Ek het al gewonder hoe daardie tannie dood gegaan het. En ek het gehoor iemand se dit was ‘n lang pynlike siekbed en tot vandag toe kon ek nog nooit in my hart iewers ‘n plekkie kry waar ek ‘n bietjie jammerte vir haar kon opspoor nie. Ek moet erken ek soek nie te lank of te hard nie.

Dit bring my by die tweede groot bang in my lewe. Weer op ‘n plaas. Hierdie keer ‘n paar jaar later. Oupa Colin was nie meer met ons nie en Ouma Paulina, ons het haar Ouma Pollie genoem, het op ‘n ander plaas net buite Stutterheim gebly. Dit was nogal ‘n moderne huis vir daardie dae. Dit het soos ‘n skoen gelyk.’n Onderste gedeelte en aan die eenkant was dit ‘n dubbelverdieping. Die plaas was in die Waterlily vallei en aan die kant van ‘n inheemse bos.

Ons mag nooit in daardie bos alleen ingegaan het nie. Ouma en pa het die verskriklikste stories oor daardie bosse vertel. Ek het al van Toorbos geskryf in een of twee stories. Nou sit Middelboet en ek op ‘n hoop hout planke wat so ent van die huis af was. Seker so honderd meter of so agter ons begin die bos. En as jy verby die eerste takke kyk is die bos donker binne. Asof die nag nie daar kan ontsnap nie. Hier in die laat middag begin ons dors word en begin huis se kant toe kyk. Agter ons in die bos is daar die onaardigste geluid wat voëls verward laat opvlieg uit die takke uit. Ons is asvaal geskrik. Skielik het die huis baie verder gelyk en die bos baie nader.

Op ons eiland van houtplanke het ons veilig gevoel. Soos ‘n eiland of ‘n fort. Maar ons is bang en honger en dors. Saam het ons besluit om huis toe te hardloop. Na baie planne en besprekings is ons teen daardie hoop planke af en ons het ‘n Habana getrek huis toe. Geen monster sou ons daardie dag vasvat nie. My ouma het net in jack russells geglo en daardie dag het Middelboet en ek onder daardie honde uitgetrek asof hulle op die krukkelys was. So dit was groot benoudheid nommer twee in my lewe.

En daar was nog baie, so deur die loop van die jare, maar wees rustig, ons sal daar uitkom.

En nou net so voor ek deel een afsluit wil ek onthou van my niggie ‘Annemarie’. Sy was blond en stout. As Topsy Smith haar geken het sou sy dalk die boks in Boksombende gewees het. Sy was ons Trompie. Sy het ons geleer klip gooi, suikerriet skil en kou, guava boom klim en mango’s eet. Ek kan nie onthou dat ons daardie jare in Empangeni ooit middagete in die huis geëet het nie. Ons het vrugte en bessies van die bome geëet. Wortels, koolblare, tamaties uit die tuin gepluk. Water by jou maatjies se huise gedrink. Iewers in ‘n tuin en dit het nie saak gemaak wie sin nie.

Ek kan min van daardie rooi baksteen spoorweghuise se binnekant onthou.  Annemarie was ‘n laggende, skreeuende rabbedoe wat kaskar gery het, Foefieslide gegly het, wat ons leer leef het. Kettieskiet, klippe op die dam laat hop, en teen die kleiwalle naby hulle huis het ons glybane gebou en afgegly. Hoe my ma ooit daardie klere skoongekry het wonder ek nou eers oor.

Annemarie se ma, tannie Anna, wou so graag ‘n fyn dogtertjie gehad het, maar haar twee ouer boeties en haar nefies het dit nie laat gebeur nie. Tannie Anna het haar rokkies laat aantrek. Met fyn kant onderklere. Maar net buite die huis het Annemarie een van haar boeties se onderbroeke uit haar sak gehaal en vinnig die wit pantie vir ‘n onderbroek geruil.

Annemarie het ons geleer dat meisies ook poep, en dat die baie kool wat ons geëet het, ook dieselfde uitwerking op ‘n vrou se poep het. Hy kan bietjie vrot. Annemarie het ons ook agter die buitekamer geleer om met vuur te speel en dat meisies nie pypies het nie. “My snytjie en jou pypie en daar lê die ding…” Het sy altyd gesing. Ek glo nie sy het ooit geweet wat se ding sy van gesing het nie. Ek het nie. Sy was so jaar of wat stouter as ons gewees maar ons het opgevang. Dit is vir later.

Nou eers soos tannie Stienie altyd gesê het. “Bye for now”

Ludwig (Onthou Kou)

Sal later die regte kalkoen storie opsit

Desember 20, 2012 in Uncategorized

Die vorige inskrywing oor die kalkoen is waar maar nie die sappige storie nie. Sal dit more of so opsit. Maar hy is rof. So wees gewaarsku.

Ludwig (Amper daar)

Kalkoen storie

Desember 20, 2012 in Uncategorized

My vriend van Henley begin ‘n pluimvee besigheid op sy grond langs die rivier en ek gaan saam met hom om ‘n teler te gaan sien.

Die teler stap deur sy grond en hokke en dit is net pluimvee waar jy kyk. Ry op ry hokke. Hoenders van elke soort. Hy gaan groot met kalkoene en daar is seker so 400 nesse waarop gebroei word. En hy wys ons hokke wat in aanbou is.

Binne een van die skure kom ons af op verskillende kleur tarrentale. Allerhande kleure. Ek het nie geweet hulle bestaan in ander kleure behalwe grys met spikkels op nie. In een van die hokke sien ek toe ook iets wat my asem wegslaan. ‘n Pou en sy vrou. Ok ek weet dit is sy wyfie maar wyfie wou nie rym met pou nie.

In elk geval… Die twee is spierwit. NIe ‘n spikkel ander kleur op hulle nie. Pragtig verby. Soos ‘n sprokiesverhaal. Die prys is net so mooi. Maar hy gaan nou met hulle begin teel en een van die dae sal daar kleintjies wees. En ek gaan ‘n paar aanskaf al moet ek my sente twee keer omdraai. Waar die storie nou eindelik ‘n lekker kinkel inkry is toe hy ons vertel van die maniere wat hy teel en die verskillende hoenders en rasse ensovoorts.

En met al die verskillende pluimvee gebeur daar soms ‘n snaakse ding as jy nie mooi beheer uitoefen nie. Hy se hy broei eenkeer ‘n kalkoen uit met 4 bene. Twee op die regte plek, onderkant die pens, en twee bene op die verkeerde plek, op die rug. So besluit hy nee hy sal ontslae moet raak van die kalkoen want die kalkoen is nie opreg nie en hy lyk nie goed nie.

Nou probeer hulle die kalkoen vang. Maar die kalkoen is toe nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Hy is slimmer as twee. En hulle jaag hom daar in die veld rond maar hy hadrloop met die regte bene. Later raak die resies nou ‘n uitputtende gedoente en hulle dink ok… nou gaan hy moeg raak. Maar toe gebeur dit. Daardie kalkoen rol deur die stof en toe hy opstaan is hy onderstebo en daar trek hy weer weg met die spaar stel bene wat op sy rug is.

En sodra hy moeg word dan rol hy weer om en hardloop met die ander stel. En van vang is daar nie sprake nie. Hy hardloop nie so vinnig nie maar so aanhoudend. Vandag hardloop daardie kalkoen steeds op die plaas rond. Partykeer regop en partykeer onderstebo.

Ludwig (Raar Waar)

 

Net om te kyk

Oktober 23, 2012 in Uncategorized

Ek sukkel om die voorkoms van die blog te verander maar ten minste lyk dit of al die stories die trek gemaak het.

Ludwig

Nog steeds is die Skim weg

Oktober 10, 2012 in Sonder kategorie

Ek wag vir die trek na WordPress. Dan sal ek kyk wat werk en wat werk nie. Intussen lees die skim maar so in die stilte hier rond.

Ek maak solank stories reg vir die terugkeer na die blogs. So wees rustig. Dit gaan lekker wees.

Ludwig (Kaptein Geheim)

Amper weer terug

Junie 2, 2012 in Sonder kategorie

Hi mense, een van die dae sal ek weer op die lug wees. Kan nie meer wag nie.

Ludwig  (Groot Skim)

Gaan direk na nutsbalk.