Tot wedersiens ouma

November 24, 2012 in Uncategorized

Huldeblyk en bedankings by die gedenkdiens van ons moeder, skoonmoeder, tannie en ouma: Miems De Kerk (1916-2012)

Geagte familie en vriende,

Dit is vir my vandag ‘n groot voorreg om vir Ma en Ouma Miems met ‘n paar spesiale woorde te groet. Ma Miems was vir haar kinders, kleinkinders, familie en vriende baie kosbaar. Ek het ‘n paar fotos gaan opdiep wat ek graag op die skerm wil wys.

Dit is jammer dat haar gees en ‘n groot deel van haar menswees haar ‘n paar jaar gelede reeds verlaat het, en dat sy eers 3 dae gelede haar laaste asem uitgeblaas het. As ek dus aan ma Miems dink, dan dink ek aan haar tot en met haar negentigste verjaarsdag. Ek onthou die sprankelende mens wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Ek dink aan haar heerlike kos en aan haar pragtige hourtsneewerk en borduurwerk. Die deugsame ma Miems sal ek nooit vergeet nie.
Ouma Miems was baiekeer ‘n besprekingspunt in ons huishouding. Met die verantwoordelikhede van skooltake is daar tot gedigte oor haar geskryf, en ek haal ‘n minder ernstige een aan:

Ouma

Sy raak al hoe korter
want haar ruggraat krimp

Sy raak al hoe slimmer
want sy luister minder

Sy praat al hoe meer
want sy onthou veel minder

Tog was dié kort, slim
en spraaksame mens

ook eens skugter
en sprakeloos

….dalk bang om eendag
oud en lelik te word…

Ja, sy het oud geword, baie oud, bykans ‘n eeu, maar sy het nooit lelik geword nie. Maar soos wat die jare aangestap het, is die kwesbaarheid in haar raakgesien wat die kinders na die pen laat gryp het:

Ouderdom. ‘ n Ode vir vir ouma

Ouma…
Die peerboom sal nie
weer wit blom nie
Die gety suig te sterk
vir sagte woorde
Briektraag
stomp woorde
plavei hulself
en rig die stroom vanself
soos wat die gety vanself
voortsnel
Soos oudword gebeur alles
sommer vanself
pretensieloos
rigtingvas
en tranerig
soos die knop in die keel

Ek glo die oudwordproses was nie altyd maklik nie, maar sy het haar jare met grasie gedra en vrede gemaak.

Altyd dieper
skik helaas in nootloos
en verwronge melodieë

Ouma, ek teken jou vir oulaas weer
met elke lyn van die kaart
wat dikker word
soos elke vou
sy landskap vind
in die spieël,
vir oulaas weer,
steeds dieper
as die vorige keer

hier waar elke
golf jou kreukels en kontoere
feller en steeds dieper wys

In haar helder dae het ma Miems het vir haar ‘n baie spesiale plekkie in die groot geheue van die heelal oopgekerf.

Groot geheue

Almal soek ‘n plekkie want
tensy jy Einstein of da Vinci is
raak jy gou vergete

Tik en hardklop skuif die wyser aan
oor geslagte en gestolde woorde
almal beur voort vir ‘n plekkie

Mens verdig tot legger
ry op ry in staatsargief
vergader stof en raak vergete

Almal veg vir net ‘n plekkie
in die hard disc van die groot heelal
terwyl ons nog brood en stroop en woorde het

Haar woorde het haar verlaat, maar die spore wat sy gelaat het sal nie uitgevee kan word nie.

Vergun my ook enkele bedankings:

• Aan suster Esta, die vlytige verpleegsuster, wat ma oor jare so ondersteun en fisies bygestaan het, baie dankie vir jou hulp. Dit word ongelooflik gewaardeer
• Aan al haar vriendinne wat haar oor jare so mooi onderteun en gelukkig gemaak het, baie dankie.
• Aan u almal wat vandag ‘n laaste eer aan haar betoon, baie dankie vir julle teenwoordigheid
• Aan Huis Herfsblaar waar Ma haar leeste jare deurgebring het, baie dankie, veral vir die verpleegpersoneel wat Ma in die laaste jaar of wat so mooi versorg het

Ma, Ouma, tannie en vriendin, ons sê baie dankie vir die vele mooi jare

Ek dank U.

14 antwoorde op Tot wedersiens ouma

  1. @louisna
    ‘n pragtige huldeblyk

    veral is die gedig ” Ouderdom: ‘n Ode aan ouma” is baie mooi en opreg.

    sterkte toegebid .

  2. @exionperfeksie Baie dankie exi. Daar is nog onsekerheid oor wie gaan praat. Vroulief of Kleinboet. Vroulief voel dit is haar taak en Kleinboet wil graag sy ouma in die kerk groet. Dalk moet hulle altwee praat. .

  3. tina10 het gesê op November 24, 2012

    ‘n Belangrike boom het geval … sy sal leef in die die familie se gedagtes

  4. Mooi herinneringe!!!!
    Mooi pad vir julle vorentoe

    My Moeder, ook al ‘n rukkie saliger, se tweede jongste suster is ook in Huis Herfsblaar —- sy het Julie 102 geword en die verstand nog helder.

  5. @krokowaan Baie dankie. Ek waardeer. My eie ma is ook in Herfsblaar. Sy is amper 88 en skryf nog gedigte. Gister het die dominee ons ingelig dat daar nou 4 mense 100 jaar+ in Herfsblaar bly

  6. Wat ‘n mooi getuigskrif vir ” Ouma”. Klink of sy ‘n besondere mens was

  7. Ag hel.

    Sterkte daar!

  8. Die mensdom word al hoe ouer.
    beide my ma en pa se generasie is lankal nie meer met ons.

  9. Ceci permet déviter une mauvaise utilisation de lespace comme seules les informations pertinentes sont conservées dans un fichier. artefact alien – une réplique de Med Pack – un livre en aluminium – un carnet de note – des posters SCAF – des cartes postales Peng – un artbook de 96 pages. Opération apparemment menée sans latence ni la moindre saccade, il est toujours attendu pour le 8 mars prochain en Europe? il peut aussi les champignons pour récupérer ? ce sera le 27 Décembre de cette année de vous rencontrer , Bénéficiant du même contenu que la version Wii . maillot de foot pas cher

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.