Huldeblyk en bedankings by die gedenkdiens van ons moeder, skoonmoeder, tannie en ouma: Miems De Kerk (1916-2012)
Geagte familie en vriende,
Dit is vir my vandag ‘n groot voorreg om vir Ma en Ouma Miems met ‘n paar spesiale woorde te groet. Ma Miems was vir haar kinders, kleinkinders, familie en vriende baie kosbaar. Ek het ‘n paar fotos gaan opdiep wat ek graag op die skerm wil wys.
Dit is jammer dat haar gees en ‘n groot deel van haar menswees haar ‘n paar jaar gelede reeds verlaat het, en dat sy eers 3 dae gelede haar laaste asem uitgeblaas het. As ek dus aan ma Miems dink, dan dink ek aan haar tot en met haar negentigste verjaarsdag. Ek onthou die sprankelende mens wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Ek dink aan haar heerlike kos en aan haar pragtige hourtsneewerk en borduurwerk. Die deugsame ma Miems sal ek nooit vergeet nie.
Ouma Miems was baiekeer ‘n besprekingspunt in ons huishouding. Met die verantwoordelikhede van skooltake is daar tot gedigte oor haar geskryf, en ek haal ‘n minder ernstige een aan:
Ouma
Sy raak al hoe korter
want haar ruggraat krimp
Sy raak al hoe slimmer
want sy luister minder
Sy praat al hoe meer
want sy onthou veel minder
Tog was dié kort, slim
en spraaksame mens
ook eens skugter
en sprakeloos
….dalk bang om eendag
oud en lelik te word…
Ja, sy het oud geword, baie oud, bykans ‘n eeu, maar sy het nooit lelik geword nie. Maar soos wat die jare aangestap het, is die kwesbaarheid in haar raakgesien wat die kinders na die pen laat gryp het:
Ouderdom. ‘ n Ode vir vir ouma
Ouma…
Die peerboom sal nie
weer wit blom nie
Die gety suig te sterk
vir sagte woorde
Briektraag
stomp woorde
plavei hulself
en rig die stroom vanself
soos wat die gety vanself
voortsnel
Soos oudword gebeur alles
sommer vanself
pretensieloos
rigtingvas
en tranerig
soos die knop in die keel
Ek glo die oudwordproses was nie altyd maklik nie, maar sy het haar jare met grasie gedra en vrede gemaak.
Altyd dieper
skik helaas in nootloos
en verwronge melodieë
Ouma, ek teken jou vir oulaas weer
met elke lyn van die kaart
wat dikker word
soos elke vou
sy landskap vind
in die spieël,
vir oulaas weer,
steeds dieper
as die vorige keer
hier waar elke
golf jou kreukels en kontoere
feller en steeds dieper wys
In haar helder dae het ma Miems het vir haar ‘n baie spesiale plekkie in die groot geheue van die heelal oopgekerf.
Groot geheue
Almal soek ‘n plekkie want
tensy jy Einstein of da Vinci is
raak jy gou vergete
Tik en hardklop skuif die wyser aan
oor geslagte en gestolde woorde
almal beur voort vir ‘n plekkie
Mens verdig tot legger
ry op ry in staatsargief
vergader stof en raak vergete
Almal veg vir net ‘n plekkie
in die hard disc van die groot heelal
terwyl ons nog brood en stroop en woorde het
Haar woorde het haar verlaat, maar die spore wat sy gelaat het sal nie uitgevee kan word nie.
Vergun my ook enkele bedankings:
• Aan suster Esta, die vlytige verpleegsuster, wat ma oor jare so ondersteun en fisies bygestaan het, baie dankie vir jou hulp. Dit word ongelooflik gewaardeer
• Aan al haar vriendinne wat haar oor jare so mooi onderteun en gelukkig gemaak het, baie dankie.
• Aan u almal wat vandag ‘n laaste eer aan haar betoon, baie dankie vir julle teenwoordigheid
• Aan Huis Herfsblaar waar Ma haar leeste jare deurgebring het, baie dankie, veral vir die verpleegpersoneel wat Ma in die laaste jaar of wat so mooi versorg het
Ma, Ouma, tannie en vriendin, ons sê baie dankie vir die vele mooi jare
Ek dank U.
Onlangse kommentare