So ‘n jaar gelede stap ek die hotel in Bloemfontein binne. My regterbeen reageer nie soos normaal nie en my regtervoet begin effens moeilik optel. Ontvangsdame vra of ek OK is. Na elke vliegtuigrit daarna sukkel ek om vir ‘n ruk ordentlik te loop.
Na herhaalde onsuksesvolle opvolgbesoeke aan die radioloog, ortopeed, neuroloog, fisioterapeut en ander ondersoekers wat my “shock” en naalde in my rug en boude inwurg, stuur GP my neurochirurg toe wat my laat opneem en verskeie rugmurg- en breinscans by die MR Instituut laat doen.
Ek ly aan klausterfobia en daai kop eerste in die tonnel het my amper letterlik laat kopuittrek. Gelukkig het hulle my goed gespuit voor die tyd vir “kalmte”, maar niks help teen daai oorverdowende byklanke wat soos klippe op ‘n sinkdak klink nie.
Ek verstaan nie heeltemal die spesialiste se taal nie, maar ‘n operasie (loslating) tussen 4 en 5 (whatever dit ook al mag beteken), mag verligting met die beenbeweging bring. Ander “letstels” in die senuweesisteem (whatever dit ook al mag beteken) kan moontlik verbeter word met medikasie, of ten minste verdere verswakking onderdruk.
Wat was nog negatief in die hospitaal? Hulle wou my nie gister ontslaan nie en toe mis ek ouboet jnr se 26ste verjaarsdagparty. Die klein porsies aandkos wat nie eers ‘n klein en ondergewig kleuterdogtertjie sal volkry nie is ook myns insiens teen die grondwet. Toe stap ek maar hospitaalcafe toe.
Op hierdie trant groet ek julle vir eers.
Hinkende-pinkende-groete
ouboet
Onlangse kommentare