Groot Verseboek is ‘n barometer van goeie Afrikaanse gedigte, alhoewel Groot Verseblik (die nuutste weergawe) sommige verassings bevat. Nietemin, ek dink die volgende gedigte behoort altyd in te bly. Ek kan my nie die mooiste taal in die wêreld voorstel sonder hierdie meesterstukke nie:
Gebed om die Gebeente van DJ Opperman. Jammer hy is bietjie lank om volledig in te sit. Dus net die slotstrofe:
“- dat ons as een groot nasie in die gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.”
Sproeireën (DJ Opperman)
My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand …. iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!
As ek ’n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met die nartjies om my heen
weet ek hoe dat ’n vrou kan troos.
My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand …… iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!
Ma (Antjie Krog)
Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
sonder fensie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
‘n kaalvoet gedig-
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste Bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie
Winternag (Eugene Marais)
O koud is die windjie en skraal.
En blink in die dof-lig en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ‘n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
blink ‘n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
tot ryp in die kou!
Wys My Die Plek (C Louis Leipoldt)
Wys my die plek waar ons saam gestaan het,
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die silwer see
Blink in die sonskyn, soos lang verlee
Dit eenmaal geblink het, ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.
Wys my die plek waar ons saam gekniel het,
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou,
Lag soos voorheen op my en op jou;
Dit skitter nog altyd ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.
Wys my die plek waar ons saam geloop het,
Eens, toe jy myne was –
Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,
Vroeër, toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra,
Wie van ons twee moet die meeste dra?
Jy wat vergeet het – of ek wat boet
Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?
Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif (Breyten Breytenbach)
Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin op jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Mooi aand vir julle
Onlangse kommentare