Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

Afrikaans: Gesond of sterwend?

Januarie 20, 2012 in Sonder kategorie

Is Afrikaans gesond of sterwend? Kom ons hoor die man wat van sy perd afgeval het. se opinie “Die taal van my moeder kan en sal nooit, nooit sterf nie.”  Wat sê die doemprofete? Afrikaans is sterwend. Dis net ‘n kwessie van tyd.

 

Wat sê ek? Ek sê hoor en kyk en luister en ruik. ‘n Ding wat doodgaan sal jy aanstons begin ruik. Al wat ek ruik is my seun se pragtige nooi in ‘n nartjie en sy ouma in anys.  ‘n Ding wat groei hoor jy.  Ons hoor hom groei, van die KKNK in Oudtshoorn tot by Aardklop in Potchefstroom, van Witrivier tot blogland.

 

Wat sê julle?

Idiome vir Korra

Januarie 19, 2012 in Sonder kategorie

Taal is pragtig. Hier is vir jou ietsie:

My jongste het gereeld gewen in Afrikaans-Ekspo.  Hier is nuwe idiome wat hy vir een van sy voorleggings geskep het:

Handtekening soos ‘n fietsongeluk    
So oorlaai soos ‘n Limpopo-bakkie
‘n Ou taxi is ‘n ongeluk wat plek soek om plaas te vind

En, o ja, ouboet jnr se poging waaroor ek geblog het: ‘n Broek vol planne

Hier is nog een:

‘n Gat soos ‘n polisieperd

Een van die mooistes wat ek in die idioomwoordeboek raakgelees het:

Honger maak rou bene soet

Jy is lief vir taal

Hier is ‘n poging deur my 86 jarige moeder:

Aandgloor

Is daar ‘n mooier skeiding

mens, waarop jy wag?

 

Sawens op my bed

sien ek bleek die maan

skugter tussen sterre

wentel na die weste

soos die skepping

sy koers bepaal

waar die purper aandgloor

weggesak het vir die dag

Skeiding tussen dag en nag

wat hier ook koers bepaal

laat strewes boontoe rig


Is daar in hierdie groot heelal

‘n mooier skeiding, mens,

waarop jy ooit kan wag?

Die Titanic, burokrasie en arrogansie

Januarie 19, 2012 in Sonder kategorie

Dit is interessant dat heelwat bloggers oor die sinkende skip geblog het. Ek het so ‘n tyd gelede iets oor die burokrasie geskryf wat ek hier aanhaal. Sorry Korra, ek het hom reeds op jou blog geplak.

 

 

The Titanic tragedy must have fuelled many a good day’s pondering about the demise of bureaucracy, although the exact timeframes may not suit the argument. Life’s not perfect. OK, let us say the grand margue’s fate sealed the end of the Victorian age, another long overdue farewell in history. (Prose and business might just have more in common than meet the eye).

 

Fact of the matter is the sheer arrogance of the liner’s builders. Even the Almighty cannot sink this ship. Tight compartments sealed off any possibility of surprise. The ship is unsinkable. Surprise struck in the vulnerable hours; those lonely hours when bureaucrats started finding new comfort in the fading pigeonholes of Victorian chastity.

 

The depth of though was inward focussed. Larger wholes, escape routes and mechanisms did not form part of the planning. The ship will outperform its conditions. The rest of the tragic story is history. Lifeboats to rescue the passengers were hopelessly inadequate.

 

The grand margue sank with its captain on board. 

Black screen en flou grappie.

Januarie 19, 2012 in Sonder kategorie

Ek was gister erg omgekrap oor Wikipedia se black screen uit protes teen die Amerikaners se planne met die Internet. Ek was besig met ‘n projek en die black screen het my spoed gebreek.

Nietemin, hier is ‘n ou flou grappie. Wat is die verskil tussen ‘n padda en ‘n parra? Een vang jy in die vlei en eet hom in die restaurant. Die ander een vang jy in die restaurant en eet hom in die vlei

Geen mens met ‘n siel sou dié een kon oorslaan nie.

Januarie 18, 2012 in Sonder kategorie

Jammer ek het hom baie lank terug geblog, maar intussen baie vriende bygekry

Ja, die ABO was wreed.

Geen mens met ‘n siel sou dié een kon oorslaan nie. Wie is dié mens, en hoeveel geluk of pyn het hy in sy kort leeftyd ervaar? Dalk is daar ‘n meer grondige rede as blote verweer waarom dié uitsonderlike foto verdof het, en spaar die liewe Vader ons die felle leed wat ‘n helder blik sou gee.

Dalk sou ons ‘n Naudé-uitdrukking in die ongeleefde gesig té bedreigend vind. Tog het hierdie uitsonderlike lewensles oor jare behoue gebly, en met die genade het die felle realiteit effens versag.

Met die skoon dooprok aan sy koue lyf het die jongeling se jong moeder sy hande behendig oor sy bors gevou, en daarmee die onafwendbare aanvaar: hy is gereed. Sy moet hom nou groet. Die enigste troos wat sy het is dat dié tenger wese van haar liggaam geen kwaad geken het nie, en in sy kort lewe waarskynlik net geluk gebring het, voordat die felheid van die eerste lewe hom van haar weggeruk het.

Dan sien jy, soos die jong moeder, die eerste lewe deur die wasige sif van die dood, en meteens verlang jy saam met haar na die waters waar daar rus is.   

Allermooiste kreatiewe opmerking (idioom)

Januarie 17, 2012 in Sonder kategorie

 Ons kyk nou die aand TV. ‘n Parate jong klong lê by die allerpragtigste meisie aan.

Hy kwyl soos wat hy stap vir stap deur die motions gaan en sy honger oë die kontoere van die vol landskap volg

 
Ouboet jnr maak die opmerking: Daai perd het ‘n broek vol planne.

Vroulief betig hom saggies met haar oë.

Mooi aand vir julle

Inspirasie by die skryf van ‘n gedig (Afrikaans-Ekspo-inskrywing deur Kleinboet)

Januarie 16, 2012 in Sonder kategorie

Oor die eeue heen is digters deur verskillende dinge geïnspireer. Die skryf van ‘n gedig is moeilik en verg inderdaad besonderse inspirasie. Om ‘n essay oor hierdie moeilike onderwerp te skryf, is dalk nog moeiliker as om ‘n gedig te skryf, maar dit word effens makliker as mens vanuit jou eie ervaring, en dus oor dit wat jou inspireer, skryf. Hiermee wil ek gladnie te kenne gee dat ‘n tweede Van Wyk Louw of Opperman aan die ontwikkel is nie. Hoegenaamd nie! Tog was elke haasbekversie wat vanuit my pen ontwikkel het die resultaat van baie spesiale stukkies inspirasie. Ek wil graag twee uitsonder.  

 

Seker my heel aangenaamste ervaring tot op datum was ‘n besoek aan Disneyworld in 2003.  By my terugkeer het van my maats gevra wat die lekkerste van die vakansie was. My antwoord was bloot: “alles.”  

Hierdie plek “praat” met almal, oud en jonk, en so is die volgende gediggie gebore:

Disneyworld 2003

Hierdie plek is
ver van die huis af
want niemand raas nie

Hier’s geen generasiegaping
nie want almal dink
en doen dieselfde

Pa se kind is pragtig groot
hy speel en ry so goed
soos Pa en Ma

Pa en Ma is vinnig om die draai
soos wie weet wat se kind
net die lyf en gadgets pla

Hier is grille, brille én pille met magic gelaai
…hier waar grootmense kinders word
en kinders grootmense word…

‘n Paar jaar gelede het my pa ‘n dik boek oor die Naudé-famlie geskryf en pragtige leergebinde kopieë aan my ouma, my tannie en sy twee seuns gegee.  Ek het nooit die boek volledig gelees nie, maar hier en daar het iets treffends my oog gevang.  Die stukkie oor my oupagrootjie se begrafnis was roerend en ek haal die volgende deel aan wat my na die pen laat gryp het:

“Oupa Adriaan se afsterwe en begrafnis in April 1964 was my eerste nadere kennismaking met die dood en die impak daarvan op die agtergeblewenes. Oom Andries het ‘n roerende laaste woord by die graf gedoen. Sy slotwoorde ‘vaarwel ons vader, vaarwel’ het Ouma se trane asook dié van haar kinders, kleinkinders en vriende spontaan laat vloei. In daardie dae is ‘n lied nog by die sak van die kis gesing: ‘Rus my siel. Jou God is koning.’ Die plaaswerkers is met ‘n trekker en sleepwa aangery om Oupa te kom groet. Hul laaste lied was aangrypend mooi. Hulle sing in nootvaste en suiwer stemme met verskillende toonhoogtes en invalshoeke, en die emosie wat hierdie laaste offer in jou wakker skeur, laat jou besef dat die dood die mens se heel laaste groet van sy eerste skof is.”  Hier volg my weergawe van Oupa (my oupagrootjie) se begrafnis:

Oupa se begrafnis

Vaarwel ons
vader vaarwel

Rus my siel
jou God is koning

maar toe die soetste
 Hemelsange draal

en rou emosies in
ons wakker skeur

was almal nootloos
en sonder woorde

Ons groet
verlaas

‘n oupa, ‘n trekker
en ‘n sleepwa

…en salueer
sy vrag

 

Is daar ‘n “algemene” tipe inspirasie wat mense aanspoor om gedigte skryf? Ek dink die woord baie inspireer nogal baie: baie lekker, baie aangenaam, baie ver, baie mooi…. baie treurig….  Ek dink daar is baie mense wat baie gedigte in hul gedagtes en harte ronddra wat net tyd en plek soek om….. kom ons sê maar….. ‘n baie lekker stukkie lêplek op papier te kry.

Dankbaarheid

Januarie 16, 2012 in Sonder kategorie

Hierdie is my seun se werk. Hy skryf:

10 Julie 2005 staan by ons bekend as ‘n dag van intense dankbaarheid. Op pad jagveld toe swaai ‘n ou skedonk, wat ‘n lang string voertuie probeer verbysteek, direk voor ons in.  Die enigste opsie wat Pa gehad het, was om vinnig na links uit te swaai. Ons voertuig begin onbedaard tol, val al tollend by ‘n redelike hoë wal af en kom bo-op ons Venter-waentjie in ‘n digte doringbos te lande. Terwyl ons al tollende na benede stort, skiet die gedagte my binne dat ons nie almal lewend gaan uitkom nie.  Die genade van Bo was aan ons kant. Al bewend het ons ons goedjies wat nog heel was, begin optel.

Almal was ongedeerd, behalwe Pa wie se linkerknie soos ‘n Bafana Bafana sokkerbal begin opswel het.

Dankbaarheid

10 Julie 2005

‘n Swartdroog
dag breek in
vlymskerp
krummels op

Ons goedjies lê rond  
soos vergruisde vullis
langs die smal weg
na Potchefstroom

Soos verwarde
kuikens tuimel
ons voortydig
uit die nes

Ons dank U
Heer vir hierdie
wondermooi  
geleende dag

Moedervalk se
wye omvouvlerke
breek hom sag
soos nat anysbeskuit

Terugskou

Jare saam verdig
tot repies lig
niemand kon
hul geel, hul rooi,
hul flikkers sien

Die waansin-                                            
mallemeulewiel
bly tol en wink
koebaai vir een
of meer van ons

‘n Mosaïek van blou
genadetrane stol
Die droom van sien
jul anderkant ‘n
skugter hartklop ver

Tien Julie flikker
teen ons stortvloed
vreugdetrane, Heer
oor en oor U
helder aangesig

Ouboet en komplimente

Januarie 15, 2012 in Sonder kategorie

‘n Kontoervriendelike en hoogs stylvolle vroegmiddeljarige vrou, keurig verpak in getailleerde smaraggroen boetiek-outfit het my eenkeer vroegoggend in ‘n hysbak die mooiste kompliment gegee. 

 

“Ag verskoon tog dat ek dit sê langman, maar jy ruik vreeslik lekker”, en die lekker het maar uit die gewone wit botteltjie Old Spice wat jy by Clicks koop gekom.  

 

Ek hoor middeloorontsteking gee mens  balansprobleme. Hierdie kompliment het het my die hele dag van balans afgegooi, maar gelukkig was alles laatmiddag weer  soort van OK toe toe beter helfte  my met ‘n soengroet by die deur inwag.

Ouboet verlang

Januarie 13, 2012 in Sonder kategorie

My beter helfte en twee van haar vriendinne is vir 4 dae op ‘n cruise. Hulle het vanoggend vertrek.

So ‘n tydjie terug het ek met haar gepraat.  Die oceanliner se bus vanaf Shaka Zulu tot by die hawe se aircon het nie gewerk nie en hulle moes 35 grade trotseer.   Die drywer het hulle verbied om vensters oop te maak. Hoekom sal niemand weet nie.

My raad: “Los die saak vir my. Ek sal hoog op gaan golwe maak en uit die Grondwet aanhaal. Dit is onaanvaarbaar. Dalk kry julle (nog) ‘n trip op die huis.”

Ouboet het ‘n passie vir fight wat lei tot seevierende getregtigheid as die diens swak is terwyl jy deur jou nek daarvoor betaal. 

Die cruise klink heerlik, maar nou moet ek en ouboet jnr vier dae self kosmaak. Ons sal maar beurte maak, of take aways gaan koop as ons kreatiwiteit ‘n dip vat.

Ek verlang al klaar.

Mooi naweek vir julle almal.

Stoepgroete,

ouboet