Kuisheid. Toe en nou.

Januarie 25, 2012 in Sonder kategorie

Hierdie pos vind aansluiting by my vorige inskrywing oor kuisheid. Meester Karel Schoeman skets die agtergrond in die eerste 2 paragrawe. Dan interpreteer ouboet.

Wat die vroulike liggaam en hofmakery betref, is Schoeman weer eens in die kol: “Die beperkte mag en invloed wat hulle (vroue) wel besit het, is meestal op ‘n indirekte wyse verkry- “a little weeping, a little wheedling, a little self-degradation, a little use of our advantages”, soos Lyndall dit beskryf – maar alhoewel trane en selfs histerie dikwels hierby te pas gekom het, is vleiery en koketterie in die algemeen verkies en oor die generasies tot ‘n kuns ontwikkel.  

Blikke, waaierspel en blommetaal is almal hiervoor ingespan en gebare soos die laat val van ‘n sakdoek of ‘n blom het wapens in die stryd geword;  maar bowenal het die vroue geleer om gebruik te maak van hul vroulikheid, en besonderlik hul liggame. In ‘n tyd waarin die vroulike liggaam selde blootgestel is afgesien van hande en gesig het daar ‘n geweldige erotiek uitgegaan van selfs die glimp van ‘n enkel onder die afskermende lae rokke en onderrokke.”  En verder: “ …..smeulende. erotiek wat geskuil het in die onverwagte aanskouing of selfs die blote áánduiding van enkel, arm, skouer of boesem.”  

Dus: hofmakery, en heel dikwels ook die gevolge daarvan, was in hierdie bevange tyd heel anders as in die permissiewe jare sestig en sewentig waaraan ons gewoond geraak het. Die oorbekende spel was lank reeds daar, maar met ander reëls, en tegelyk ook ander beperkings en geleenthede. Ofskoon die aanloop, plek en strategie dalk ingypend van vandag verkil het,  was die einddoel en waarskynlik ook die motief opmerklik dieselfde.

‘n Mens wonder onwillekeurig of die verliefdes of wellustiges in daardie jare nie lekkerder as die mense in ons tyd gevry het nie. Seer sekerlik was die brandende begeerte daar, maar die uitlokking was straks minder, fasiliteite beduidend kariger, die straf swaarder, en verkenning en vind dus skrikwekkend nader aan mekaar. Daar moes dus planmatig en behendig te werk gegaan word om vir daardie behaaglike oomblik tydelik van die oorbekende smal weg af te dwaal, en kreatiwiteit om die stelsel te fnuik en om die gewete te sus, moes hoogty gevier het.

Mens kan aanvaar dat die gemiddelde begerende jongmens van daardie tyd aangewese was op die gesteelde oomblik by die vetkers, of die drukkie, of selfs raakvat, agter die kraalmuur. Menslike feilbaarheid, morele beperkings, ‘n gebrek aan ander vorms van afleiding,  beperkte tegnologie en plek en helaas, die brute krag van die vlees, was dalk net genoeg om die ware ongeïnhibeerde menswees in die ontluikende en soekende jongmens van die negentiende eeu na vore te bring. Begeerte, soek en vind bly genadiglik met ons.

Die enigste sekerheid in ons huidige deurmekaar wêreld is die brandende feit dat die groot vlees die mens sal bly betower, ongeag tyd en plek, en dat die normale heteroseksuele man se taak nog lank onafgehandel sal bly.  Grobbelaar (1977, p 146) werp meer lig op die saak en beskryf ‘n ou vrygebruik waarvolgens kêrel en nooi voor hul troue ‘n nag saam in die bed deurgebring het. Daar was egter ‘n insiggewende beperking: die een was onder die kombers en die ander bo die kombers. Hierdie beperking was waarskynlik ook op die jongeheer se hande van toepassing. ‘n Dik verekombers versag wel die kontoere maar neem nie die gedagtes en begeertes weg nie, en ongekarteerde landskappe stuit geen soektog nie.  

Die kêrel sal op ‘n gegewe nag die venster van die huis oopmaak, daardeur klim om “bij de dochter op het bed boven de deken te gaan liggen en op die manier een praatje te houden, de vrijagie voort te zetten en aldaar te blijven tot een uur voor sonsopgang, wanneer hij wederom in stilte vertrek en de venster sloot……”

Onthouding is inderdaad ‘n besonderse gawe, en na hierdie emosionele en fisieke foltering was die paartjie gereed vir eise én wettige voorregte van die huwelik.

14 antwoorde op Kuisheid. Toe en nou.

  1. avega het gesê op Januarie 25, 2012

    Karel Schoeman? Het jy sy Die Laaste Afrikaanse Boek gelees? Die enigste vrou wat in sy lewe feature is sy ma. (As ek reg onthou…)

  2. louisna het gesê op Januarie 25, 2012

    Ek lees al Karel Schoeman en JC Kannmeyer se boeke. Briljant.

  3. avega het gesê op Januarie 25, 2012

    Het jy ‘Die Laaste Afrikaanse Boek’ gelees? Sy outobiografie? Party van Kannemeyer se boeke is te langsaam ek sukkel.

  4. louisna het gesê op Januarie 25, 2012

    Yes. Kannemeyer is die wandelende biblioteek van die Afrikaanse lettekunde. briljant. Hy het jongste met ‘n paar Afikaans-Ekspo-projekte gehelp.

  5. avega het gesê op Januarie 25, 2012

    So, na aanleiding van ‘Die Laaste Afr Boek’ wat dink jy van Karel Schoeman se siening oor vroue?

  6. Wel een ding is seker. Die jong klomp vry nie meer so nie!

  7. louisna het gesê op Januarie 25, 2012

    Hy verkies nie vroue nie, maar dit doen nie adbreuk aan sy briljantheid s skwywer nie

  8. louisna het gesê op Januarie 25, 2012

    Ja, ek dink ook so

  9. kuisheid. soms wonder ek oor die woord as sulks

  10. louisna het gesê op Januarie 25, 2012

    Ja, kuis, ek wonder waar die woord vandaan kom

  11. eros01 het gesê op Januarie 25, 2012

    Wellus is niemand se speelmaatjie nie,nie toe of nou nie.:) xR

  12. louisna het gesê op Januarie 26, 2012

    Ja, die mens bly lus

  13. monetsa het gesê op Januarie 26, 2012

    as ons jeug maar nog so kon vry………

  14. louisna het gesê op Januarie 26, 2012

    Dan was dit OK. Geen spykerspeurders.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.