Prof JC Kannemeyer wat as die wandelende biblioteek van die Afrikaanse letterkunde bekendgestaan het, is Kersdag in Stellenbosch aan ‘n beroerte oorlede. Ons verloor ‘n reus en eer sy besonderse nalatenskap.
Prof Kannemeyer het my jongste by 3 geleenthede onbaatsugtig en meesterlik gehelp met sy Afrikaans-Ekspo-projekte, deur of vralyste in te vul of opinies per epos te gee. Al wat hy wou gehad het is ‘n gebinde kopie vir sy boekrak, wat Kleinboet dan met groete en dank Stellenbosch toe gestuur het.
Die feit dat ‘n grootmeester sy werk opsy skuif om ‘n skoolkind te help, is werklik prysenswaardig.
In 2010 was sy onderwerp: “D.J. Opperman as skeppende reus, held en rolmodel van Afrikaans: ’n Perspektief geïnspireer deur die wandelende biblioteek van die Afrikaanse letterkunde“ Weer eens het Prof Kannemeyer ‘n reuse bydrae gelewer. Ek haal Kleinboet aan uit sy nasionaal bekroonde werk:
Hy skryf:
Ek ag myself buitengewoon bevoorreg om ’n baie spesiale stuk deur prof Kannemeyer aan te haal wat in geen van sy publikasies voorkom nie, aangesien hy dit spesiaal vir my geskryf het. Ek beskou myself geroepe om kommentaar in kursief by te voeg.
“Reeds tydens my jare op hoër skool het ek kennis gemaak met die poësie van D.J. Opperman en alle bundels van hom wat toe gepubliseer was, vir myself aangekoop. Ek het onder die indruk gekom van sy besondere beeldende vermoë, die kriptiese wyse waarop hy verbande tussen ver uiteenliggende sake kon lê en die hegte konstruksie van sy verse. As ek poësie kon of wou skryf, sou ek graag wou hê dat my poësie soos dié van Opperman moes wees. Maar afgesien van ’n gebrek aan talent was juis dít waarskynlik die rede waarom ek nie verder op dié pad ontwikkel het nie. Toe ek Opperman in 1960 as een van sy studente in die honneurs die eerste keer persoonlik ontmoet het, was sy sterk historiese bewussyn, sy besef van ’n literêre tradisie en sy afkeer van epigonisme vir my dadelik opvallend. En ek wou nie epigoon van Opperman wees nie! ”
Prof, geen mens kan in al die letterkundige genres ewe goed wees en op u vlak merk maak nie. Die “gebrek?” aan digtalent het u kans gebied om inderdaad die wandelende biblioteek van die Afrikaanse letterkunde oor al die genres te word. Ek vermoed laasgenoemde verg heelwat meer talent. Aangesien ek nog woordskepper nog kritikus is, interpreteer ek bloot u brief.
Duidelik het Opperman reeds op skoolvlak ‘n beduidende invloed op Kannemeyer gehad. Hy het sy werk reeds as kind waardeer. “….ek wou nie epigoon van Opperman wees nie!” dui op objektiwiteit deur Kannemeyer en nie bloot die van emosie Opperman se poësie nie. Persoonlike kennismaking met die digter op nagraadse vlak het Kannemeyer, wat toe reeds ‘n Afrikaanskenner van statuur was, in staat gestel om Opperman verder objektief te leer ken en waardeer.
“Hoewel Opperman dus nie ’n dosent van my in my voorgraadse jare was nie, het ek in 1960 besluit om die geleentheid te gebruik en ook alle voorgraadse kursusse van hom as besoekende student by te woon. Dit was vir my ’n verrykende ervaring en bepalend vir my verdere ontwikkeling. ”
Om op nagraadse vlak voorgraadse klasse vrywillig by te woon wil nogal gedoen wees. ‘n Skrander Honneursstudent erken dat voorgraadse lesings deur ‘n meester tot sy eie verdere ontwikkeling bydra.
“Wat my telkens in sy voorlesings getref het, was die uiters logiese en geordende verdeling en aanbieding van die werk, die wyse waarop hy die jong student aan die belangrikste bronne kon bekendstel en sy vermoë om die hoofpunte van ’n saak kernagtig, sistematies en begryplik saam te vat. Dikwels kon hy die kern van ’n hele digterskap, ’n betreklik omvangryke gedig of ’n bepaalde aspek van ’n oeuvre aandui en terselfdertyd riglyne vir verdere ondersoek aan die hand doen wat die student dan self kon opvolg.”
Die struktuur van Opperman se gedigte kan heel moontlik direk na sy logiese werkswyse as dosent herlei word. Ons het dus met veel meer as ‘n skeppende woordkunstenaar te doen. Dit wat mens in sy gedigte raaklees word sistematies aan sy studente oorgedra sonder dat hulle hom slaafs navolg. Opperman leer studente interpreteer en gee riglyne eerder as “resepte.” Kreatiwiteit met woorde word sodoende gestimuleer. Kernagtigheid dui ook op Opperman se gawe om baie in min woorde te sê. Die essensie van iets groots vind beslag in min woorde.
“Hy was geensins ’n dogmatiese dosent nie, maar iemand wat probleemstellend te werk gegaan het en op dié wyse die student verder aan die dink gesit het. Ek onthou sy enorme belesenheid, die wyse waarop hy die student aan ’n skat van inligting kon bekendstel, maar veral hoe hy vanuit dié kennis ’n verrassende aspek van ’n gedig kon belig en op dié wyse ’n hele wêreld vir ’n mens kon laat oopgaan.”
Ten minste die volgende gawes van Opperman val op:
- Goeie probleemstellings is die voorvereistes vir sinvolle oplossings. Hierdie gawe is uiters belangrik uit ‘n skeppende sowel as kennisoordragingsperspektief.
- Mens kan bloot nie briljante gedigte skryf sonder om baie gedigte te lees nie. Goeie oordrag van kennis is ook nie moontlik sonder belesenheid nie.
- Opperman se skat van inligting kon inderdaad “ ’n hele wêreld vir ’n mens kon laat oopgaan.”
“Hy het nie, soos mindere geeste, in teorieë verstar nie. Sy voorlesings was ’n pragtige balans van oorsig en insig, ’n sintetiese en analitiese benadering van die letterkunde, ’n verbinding van teorie en literatuurgeskiedenis aan die een kant en die praktyk van die letterkunde aan die ander kant.”
Die verwysing na mindere geeste herbevestig dat Opperman inderdaad geen mindere gees was nie.
“As ek vandag aan Opperman terugdink, onthou ek sy onopgesmuktheid. Daar was geen vertoonsug by dié man nie, in teenstelling tot so baie mense wat van allerlei klein kunsies gebruik moet maak om hul belangrikheid te illustreer. As hy indruk gemaak het – en dit het hy altyd gemaak op mense naby aan hom – was dit deur sy hele wese as mens, nie deur een of ander stuk aanplaksel nie. Daarby is daar sy ontsettende eerlikheid en integriteit. Daar was geen bedrog in hom aanwesig nie.”
Die reus se nederigheid, onopgesmuktheid, eerlikheid en integriteit verleen verdere statuur aan ‘n meester wat ek deur sy gedigte leer ken het.
“In die jare 1975-1981 was ek sy kollega op Stellenbosch en het ons toegeneentheid tot mekaar en ons vriendskap verder ontwikkel. Ek het min mense in my lewe geken met wie ek so eerlik, hartlik en direk kon gesels. Hy het dikwels, tot ergernis van baie van sy studente, dikwels in halwe sinne gepraat, maar vir my was dié halwe sinne dikwels sleutels tot ’n volkome begrip. Ek het nie grammatikale volledigheid nodig gehad nie.”
Is halwe sinne nie deel van Opperman se gawe om veel meer te sê as min woorde nie? Grootmeester het ‘n unieke gawe aan sy “leerling” oorgedra. Dit is dan ook geen wonder dat Prof Kannemeyer as die grootste kenner van Opperman se werk beskou word nie. Hy dink ten minste op die vlak van sy leermeester. Tydens verlede jaar se projek het ek lank geswoeg om “Gebed om die Gebeente mooi te verstaan”. Toe verwys Prof Kannemeyer my na sy opstelle, en toe eers gaan die lig aan.
“Ek is gelukkig dat Opperman en my paaie in ’n betreklik vroeë stadium van my lewe met mekaar gekruis het. ’n Mens is dankbaar daarvoor. So ’n mens vergeet jy nooit nie.”
Veral nie met ‘n olifantgeheue nie.
“J.C. Kannemeyer
Onlangse kommentare