Jy blaai in die argief vir 2011 November.

Vir DsP. Matriekreunie en Frans Lodewyk Smit

November 14, 2011 in Sonder kategorie

DsP, thanks vir jou skerp kommentaar op my vorige pos.

 

Frans Lodewyk Smit, die man wat sy hand hieronder opsteek,  se voorletters het inderdaad op skool al legendaries geword.  Hier is ietsie wat na ons 30ste reunie (in ‘n losie op Loftus) geskryf is.

 

 

Ek en Frans roep die enkle geleenthede in die herinnering toe ons mekaar hier op einste Loftus raakgedrink het. Suppliers wat ‘n deal wil deurhaak nooi jou Loftus toe; trakteer jou op biltong en booze, en kroegmeisies met lae halse en ferm boudjies, maar ek en Frans ken die reëls, cleavage en skoorsoek rym nie, of is dit nou alleterasie of assonansie? Anyway hierdie kernbegrippe is skrikwekkend naby aan mekaar.

 

Yes, ‘n koue skouer en weeklange emosionele snotklap vir ‘n klam lyf is dalk jou ergste lot as jy mammie weer sien, maar parfuum aan jou lyf, hei ouboet, dis ‘n waardige sinoniem vir die donkerste hel van die eerste lewe binne die geslotenheid van die heilige eg. Nederige beantwoording van onophoudelike vrae met oorbekende antwoorde sal jou eensaam lot wees vir die res van jou heteroseksuele lewe.

 

Ons troos onsself by die berusting dat kyk nie sonde is nie, en die wit toppie en die misterieuse swart ragfyn kouse van ‘n metgesel bly in die oog. Sakkie, ons waardeer jou fyn waarneming, maar is jou kommentaar by Frans se foto: “rokjagter?” nie dalk so bietjie ‘n wye draai nie? Waar is jou logika Sakkie? Dink jy nie vir ‘n vlietende wyle soos die Evasgeslag nie?

 

Ek dink onwillekeurig aan die wysgeer Prof PS Dreyer se inspirerende lesings in Logika. Alle honde eet vleis. Vlekkie is ‘n hond. Dus Vlekkie eet vleis. Vlekkie, jou hond!

Weer matriekreunie

November 13, 2011 in Sonder kategorie

Weens die nie-beskikbaarheid van ‘n paar kernkarakters is

ons 40ste matriekreunie uitgestel tot vroeg volgende jaar

Hier is grepies uit 35 wat in 2006 plaasgevind het

Ouboet (regs) en sy groot plotvriend Attie

Frans Lodewyk Smit, wie se voorletters op skool al

legendaries geword het, steek sy hand op.

Die grap was die moeite werd.

Soos altyd sal ek weer ‘n opstel skryf oor die skouspel

en speechmaak.

Sorry, ek het al van hierdie grepe geblog

MATRIEKAFSKEID 1971

Die meisies is vanaand aangrypend mooi. Veelkleurige skeppings versier hul bykans volmaakte kurwes en lenige soepel lywe. Vanaand lyk hulle anders, en in die vloeiende werklikheid van wasigheid en lig tas jy half onsamehangend maar sekuur na die buitelyne van ‘n droom; dit is asof jy uit ‘n diep slaap wakker skrik en nie kan glo wat jy om jou sien nie. Het hulle oornag vrou, of jy oornag man geword?

 

Vir ‘n vlietende oomblik vertroetel jy altwee moontlikhede, maar die patriargale orde wat die afgelope twaalf jaar in jou ingedril is roep jou tot jou sinne. Hulle ruik soos die mooiste rose en die tentakels van ‘n verruklike aand roep jou oorblywende sintuie tot hoër diens. Skielik besef jy die intense sagtheid aan jou verkennende hand is nie meer die standerd sessie wat jy natgegooi of gekoggel het nie. Hel ouboet, die girls het groot geword.

 

Agttien jaar van jou lewe het skrikwekkend gou verbygegaan.  Matriekafskeid 1971 is hier. Die eksamen lê voor die deur, maar vanaand is jou aand.  Vanaand rook jy daai Rhodesia Club sigaar met die plastic nipple voor whoever.  Vanaand vat jy ‘n sluk of drie uit daai bottel gedokterde cream soda in die kar se “boot.” Vanaand is die groot aand.   Maar diep binne-in jou diepste wese is jy so half verlangend na mense en dinge wat jy nie ken nie.

 

‘n Taamlike groot hap van iets spesiaals uit jou comfort zone moet jy hier agterlaat. Afskeid was nog nooit so intens en finaal soos vanaand nie.

 

Ouboet, Attie en metgeselle.

 

Grepie uit 30 by Loftus

Louise was ook daar, alleen soos ek. Sy is nog net so lank en slank soos destyds. Ek het nou nog ‘n passie vir lang girls, maar somehow skiet my gawes tekort vir hulle. Een aand, lank gelede op ‘n bokjol vang my oog ‘n besondere lang girl. Sy is werklik uitsonderlik mooi, met die allermooiste rooi hare en ‘n winkende noupassende geborduurde bostuk wat watte, lugblase, cross your heart-tegnologie en derglike ydelhede ferm uitdefinieer. Eureka! Nee, wag eers, en ek kry my idiome agtermekaar.

 

Vanaand ruk ek haar van haar voete af met die soetste beeldspraak uit die mond van ‘n maplotter. Sien met my looks en rough edges moet mens ander tegnieke probeer, soos ‘n eenoogversie op ‘n servet, ‘n Skakespeare quote, die vakuum wat ‘n goedbedoelde kompliment skep of iets dergliks. Ek vertroetel elke denkbare stukkie uit my memoirs van die groot meesters. Ek dink selfs aan ‘n alibi, in geval van ‘n onverwagte snotklap. Shakespeare se “The quality of mercy is not strained. It droppeth as a gentle rain from heaven” sal die ding doen.

 

Ter inleiding maak ek tydens ons eerste dans ‘n opmerking oor haar pragtige hare, die eksotiese sjampoe wat sy gebruik, en versterk dus op ‘n pragmatiese manier daai essensiële vars-uit-die-bad gevoel. “Skep ‘n voëlvriendelike omgewing” het BCom vanslewe altyd gesê, maar vanaand is ek ernstig. Vanaand raak hierdie trougirl verlief op die primêre deugde van my tong, en ‘n woordvlotte selfvoldaanheid raak vaardig oor my.

 

Sy smile net knusserig oor die “jeugdige varsheid van haar hare wat mens noop om skilderagtige landskappe te skilder”, en dans verruklik verder. Min girls het die regsom two-step onder die knie, maar sy doen dit meesterlik. “Time is tight”, die beste “close”-danssong van alle tye, speel verruklik deur die hi fi se enorme speakers in Nicholhuis se eet/danssaal met sy wiegende plankvloer. Met die voetwerk in volmaakte harmonie kan jy beter op die voor-die-handliggende konsentreer, en ek sê julle sy is lank. Die tyd is reg, en ek trek los met die mooiste kompliment wat ek enige meisie nog ooit gegee het.

 

Ek verweef rooi, skoonheid, grasieuse lengte, vleeslike sagtheid en die hemelse sinergie van haar sjampoe en parfuum in ‘n tappeserie van die soetste woorde. “O”, reageer sy terloops, en dans verder asof ek iets oor die weer gesê het. “O”, niks meer nie. Die mosaïek van vroegaandmoontlikhede vervlak tot ‘n suur trek op my strak gesig en die gentle rain from heaven p.. my vuur onseremonieël dood.

 

Tot vandag toe bly lang girls veilig buite my bereik.

 

Grepie uit 5 by die fonteine


Die geleentheid was by die Fonteine en die bring en braai was nogal lekker. Bacchus was ook ‘n genooide gas wat luister aan die geleentheid verleen het. My 4-track in die Volla het musiek gemaak en my kar was dus oop. Laataand toe ek wou vertrek het twee heteroseksuele lede van die geselskap hulle op die agterseat van my pers Volksie tuisgemaak. Simon & Garfunkel se Cecilia het kliphard gespeel. “Be fair, gee hulle ‘n kans”, mompel Attie. Ek wou nie pla nie en ek en Attie het ‘n verdere bydrae of drie tot die wins van SA Brouerye gemaak. 

 

Tydens 30 gesels ons weer oor die geleentheid. Attie, ‘n fyn waarnemer, het ‘n paar beauties opgediep. Ek dog my geheue is goed, toe verras hy my met meticulous detail uit die tuin van herinnering. Yes, van die 5-jarige reunie by die Fonteine onthou hy sekere grepe in technicolour, onder andere die gebeurlikhede op die Volla se agterseat, en wys my daarop dat die betrokke lede teenwoordig is.

 

Soos met die eier en die ham wonder ons of hulle involved of committed was, en die een verlore geleentheid na die ander, asook die verdwaalde hit of twee, word uit die oeuvre van die gryse verlede opgediep. Met mammies in die midde verskans ons elke greep in die Monavoni-idioom van destyds. Na ‘n Bells of drie (hy drink nie meer skuimkoppe nie want dit laat sy massiewe pens nog groter uitswel) konfronteer Attie die manlike heteroseksuele lid.

 

Sy flink brein roep die gedagtes op, eers langsamerhand, maar ‘n helder oomblik tref hom en sy oë verklap alles, lock, stock & barrel. 



Vir Bertrand. Kammi ek sal jou respons waardeer.

November 12, 2011 in Sonder kategorie

Jou blogteenwoordigheid laat my dink aan ‘n B-baan matrikulant wat naelskraaps in die tweede klas (sonder wiskunde) slaag en homself bekwaam genoeg ag om ‘n professorale intreererde in kernfisika by Harvard te gaan doen.

 

As jy nie kan swem nie, bly op droë grond, anders gaan jy voor die hoofpawiljoen versuip. Duidelik  is die stoep nie jou niche nie. Probeer iets anders, want my slim vriende gaan…………….

 

Volgende vraag asseblief

 

Stoepgroete,

 

 

ouboet

Die slegste gebeurtenis van 2011 tot dusver

November 12, 2011 in Sonder kategorie

‘n Tyd gelede het ek die volgende versie oor ‘n pragtige vrou geskryf. Sy was mede-eienaar van ‘n uiters suksesvolle maatskappy (‘n groot kliënt vir wie ek baie werk gedoen het.)

Die inspirasie het tydens ‘n ontbytsessie saam met haar en haar professionele span in Cafe 41 oor my vaardig geraak.

‘n Onlangse begrafniskennisgewing en ‘n uitsonderlike mooi foto van haar in die kerkblad het my laat wonder hoekom ‘n uiters suksesvolle vrou, beeldskoon, hiper talentvol, welvarend en oënskynlik stralend gelukkig, haar eie lewe neem?

Café 41

 

Praat soos ‘n omroeper

lyk soos ‘n engel

trek aan soos

‘n Versace model

kaats ‘n nuwe reënboog

teen elke somber horison

en smeltende mirage

 

vier jaar se flawsoek

gee ‘n ronde nulopgaaf

ja ouboet,

die opstel is veel mooier

as sy mooiste enkelwoorde

die prentjie meer flawless

as sy sagste lyne

 

41 winterslape word

30 lentebloeisels

hier waar metafore

teen ‘n café se ruit veredel…

en die silhoeët se

magic buitelyne

jou stotterend

sonder woorde laat

Ouboet leef nog

November 5, 2011 in Sonder kategorie

Jammer ek lê bietjie laag deesdae. Dit is maar as gevolg van onrealistiese deadlines wat gestel word deur hulle wat hulp nodig het, die demokrasie dien,  en tjeks teken/betalings goedkeur.

In elk geval, my gesin is voltallig tot volgende week Woensdag wanneer Kleinboet teruggaan om sy laaste vraestel te skryf.

Hou duimvas dat my oudste ‘n trougirl kry, want ouboet wil oupa word. ‘n Tannie by sy werk push hom haar kleinniggie saam te neem na die jaarlikse afskeidsfunksie. Toe besluit hy hy word nie voorgeskryf nie, en beluit om sy broer saam te vat. Kleinboet en buurman (oudste se werkgewer) se seun is sedert geboorte groot pelle.

Nou dink werkgewer en sy gesin dit is ‘n puik gedagte dat hy sy broer saamvat want hulle like hom, maar almal mis die punt, want die nulopgawwe in die derde geslag spook by my.

Wat dink julle? Ek dink op 25 moet ‘n seun sy pa se ideale begryp, respekteer en vrou soek. Ek wou bittergrgraag ook ‘n dogter gehad het, toe loop die tyd uit en nou is ‘n skoondogter die enigste logiese opsie.

Tussen ons, die Leeus het die Skarks ore aangesit.

Mooi naweek verder.  Intussen skryf ek speech vir ons 40ste matriekreunie.

Stoepgroete,

Ouboet

.