Reunie. Nog stukkies opstel

November 19, 2011 in Sonder kategorie

Ons 40ste matriekreunie vind plaas op 11 Februarie 2012 , so 3 maande na die vorige geskeduleerde datum. Ouboet het opdrag gekry om ou en nuwe opstelle saam te vat in ‘n “versamelde werk” wat daai aand uitgedeel sal word. Hier is nog ‘n stukkie

Mnr. Tom Marais wat vir ons Duits gegee het en ook ons klasonderwyser in matriek was, het van al my onderwysers die grootste indruk op my gemaak. Ek vertrou dat lesers uit die onderhawige tydperk my die ietwat gedramatiseerde weergawe van oom Tom se verhaal sal vergewe. Hy was werklik ‘n groot gees.

Ek het eenkeer in my lewe gekrip (crib).Ons moes ‘n moeilike Duitse woordeskattoets skryf en daar was konsensus onder ‘n paar van ons om vier bladsye uit die handboek te skeur en as riglyn tydens die toets te gebruik. Ons sou later die blaaie netjies met sellotape terugplak. Toe ons groep bloot gemiddelde en aspirerende innoveerders beter vaar as ‘n konsekwente toppresteerder, het sy iets vermoed en gaan kla. Oom Tom het ook snuf in die neus gekry. Ons moes kon dink dat ‘n sprong van iets in die vyftig tot volpunte iewers ‘n klokkie sou lui. Die speurwerk het begin en houers van boeke met die teruggeplakte bladsye is na die hoof, Mnr.Grabe, se kantoor begelei.

‘n Paar van die bestes was ons, die hoofseun inkluis, se lot, en sy dreigemente het kort duskant die Minister van Onderwys se kantoor gedraai. Die inboeseming van vrees was een van die vernaamste strategieë van die ou orde. Dit is na die beste van my wete die eerste en enigste keer wat ‘n skoolhoof my met ‘n rottang in sy kantoor geslaan het.  Hierdie nadere kontak met FOF se opvolger was my eerste en seker ook enigste. Indien hy ander kwaliteite gehad het, het hulle my dus grootliks ontglip.

Oom Tom was ‘n belese man. Uit hoofde van sy vakgebied het hy veral baie van die Duitsers se rol in die Tweede Wêreldoorlog geweet. Hy het ons onder andere vertel van die tegnologie wat hulle in staat gestel het om ‘n volledige brief in ‘n punt aan die einde van ‘n sin vas te vang en te ontsyfer. By die geringste poging om sy kennis te tap het hy erg onderhoudend en sinvol aan die praat geraak. Almal het aan sy lippe gehang.

Ons het later beurte gemaak om iets oor die oorlog te gaan oplees en oom Tom aan die begin van ‘n dubbelperiode met ‘n kernvraagstuk of tema met meriete gekonfronteer. Sê net iets aanvegbaars en jy het sy onverdeelde aandag en taktvolle regstellings met die nodige ondersteundende verklaring vir ‘n volle twee periodes. Afhangende van die kwaliteit van die navorsing wat die betrokke lid van die klas gedoen het, het oom Tom vir twee volle periodes aaneen oor die onderwerp uitgebrei, en op hierdie manier het ek besonder baie van Duits begin hou.

Een aand in 1986 in ‘n kroeg in die skilderagtige mooi dorp Ludwigsburg in Duitsland het ek ‘n oppervlakkige dog onderhoudende gesprek met die kroegman in Duits gevoer. Die diensmeisies daar, dis nou dié wat die beddens opmaak, is van ander stoffasie as die waaraan ons in donker Afrika gewoond geraak het. Hulle gebruik parfuum wat jou gedagtes koggel.

Oom Tom se voorlesing uit Die Biene Maja was aangrypend mooi. Met die ontsyfering van Duitse dokumente tydens die genalogiese navorsing het oom Tom se onderrig ook handig te pas gekom. Onderwysers soos dié is die sout van die aarde. Op universiteit het ek oom Tom ‘n keer of wat in die Universiteitsoordkerk raakgeloop en ons het lekker oor die ou dae gesels.

Snaaks genoeg, die onderwyser wat die minste, indien enige, indruk op my gemaak het, was ook by taalonderrig betrokke, vir die standerd sesse. Dalk is dit beter om nie die kalant se naam en van te noem nie. Toe hy eendag die enigste sinvolle opmerking wat ek ooit uit sy mond gehoor het in die in die klas maak, iets soos ‘n grootse prestasie deur iemand iewers vêr, het ek my waardering met ‘n effense sis-fluit deur die tande bekend gemaak, amper soos wanneer jy jou waardering vir ‘n mooi meisie spontaan tot uiting bring.

“Wie het gefluit????  Wie het gefluit, vra ek???? Laat die voël wat gefluit het onmiddellik opstaan en saam met my kom.” Ek het sy waansinnige afwagting sover moontlik uitgerek en my uiteindelik aan die oordeel van die groot orde oorgegee. “Quit the fight my mate. The order wins.” Hy het my buite die klas gaan straf vir die ongemanierde daad met vyf van die beste of so iets. Sy grinnikende orgasme roep ek nog vars in die herinnering.

Oom Tom verdien ‘n pluimpie dat hy my die voorliefde vir die Duitse taal aangeleer het, die wankelrige fondamente ten spyt.

6 antwoorde op Reunie. Nog stukkies opstel

  1. TS het gesê op November 19, 2011

    Lekker gelees

    Ek het ook deur die skool Duits geworstel

  2. Grinnikende oprgasme vertel alles…die ou moes ‘n doos gewees het, of is dit eerde sweine hundt of so iets.

  3. louisna het gesê op November 19, 2011

    Thanks, Poephol kwadraat

  4. louisna het gesê op November 19, 2011

    Danke schon.Guten Abend

  5. Lekker hier op die stoep.
    Dankie!

  6. louisna het gesê op November 19, 2011

    xx Thanks Lou

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.