Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Pitkossies

Augustus 28, 2010 in Sonder kategorie

 

Tydens genealogiese navorsing kom mens soms op juweeltjies af wat jy boekstaaf om die saai geslagsregisters op te helder:

 

Oom Jannie onthou dat ouma op ‘n keer baie siek was en dat sy deur ‘n sekere Dr Albertyn behandel is. Dr Albertyn het ouma op die plaas besoek en as deel van sy ondersoek het hy gevra of ouma al ‘n wind gelaat het sedert sy siek geword het. Toe sy bevestigend antwoord, het hy gesê hy kom agter dat die “kwaad besig is om uit te werk” en dat haar toestand reeds “gedraai” het. Hy het gesê ouma sou gou weer gesond wees, en sy was.

 

Tannie Bes skets ’n waarheid: Die tydperk tussen geslagsrypheid en die voltrekking van die huwelik was in daardie dae dus baie korter as vandag. Die tyd vir foute was dus minder, en tog het glipsies hier en daar soos ‘n dief in nag die ingesluip om die heersende orde en waardes van die volk te versteur. Die oorgeslaandes van die lewe het die nuus van die oortreding soos ‘n veldbrand deur die kontrei versprei. Praat sag maar slaan hard is die onderliggende strategie, selfs vandag nog. Normale mense wat voortydig met die verstommende krag van die vlees kennis maak het min begrip vir hierdie  gedrag, wat deurspek is met intense afsku én groot onderliggende verlange.

 

Ouboet skryf: ‘n Insident tussen my en pa wat ek tot my sterfdag sal onthou was die keer toe ek vir ‘n mediese ondersoek moes gaan voor my militêre diens. Die ou voor my het dit nie gemaak nie vanweë verskeie ongesteldhede. Die beampte het ‘n uitvoerige relaas gegee oor hoekom hy nie geskik is vir militêre opleiding nie. Toe hy die ou uiteindelik oortuig, het hy ‘n treffende slotopmerking gemaak: “Jou p.. ( die bekende drieletter woord vir urine) is al genoeg rede om jou uit die Army te hou.”

 

Toe ek pa die aand oor die insident inlig,  het hy gelag soos ek hom in my lewe nie hoor lag het nie. Hy het maande daarna nog oor die insident gelag. Hy wat kan lag het vrede, en dit is soos ek my pa onthou: ‘n vredemaker.

Vir MaanKind. Eerste skooldag en ander grepies uit die ou orde

Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie

Januarie 1960. Voor seker die meeste bloggers se ouers gebore is, het ouboet die 12-jaartydvak van onderrig dienswillig en met ’n oop gemoed betree.  Wat ’n ervaring.

 

By die skoolhek hou Pa die skool se leuse patriargaal aan my voor: Ek wil, ek kan. Snaaks hoedat hierdie voor-die-handliggende leuse van die Valhallase Laerskool my steeds bybly. Yes, berge begrens soms ons verbeelding en soms klim onsle uit, en die leuse “If you can dream it, you can do it” het al ‘n keer of drie gewerk.

 

My sewe jaar op laerskool koester ek as van die aangenaamste herinnerings uit my jeugjare. My graad een-juffrou,  Juffrou Viviers, was inderdaad ‘n goeie mens wat my die eerste ferm greep op die geletterde lewe in ‘n onbaatsugtige en aanvarende leeromgewing gegee het. Sy was baie streng maar regverdig. Ek het eenkeer die k met die r verwar, en sy het my so mooi reggehelp, ek het skoon trane in my oë gekry.

 

Ons het toilette in die klas gehad en sommer so half in die hoek van die klas kamerverlaat. Ek was heelwat later in my lewe, seker so aan die einde van my hoërskoolloopbaan tydens ‘n kermis of iets weer in my graad een-klas. Ek onthou die toilette as verspot klein en peteuterd.

 

Soggens het ons ons boeke uit ons tasse gehaal en in die skoolbank gepak. Eenkeer het dit baie gereën en die hele skool was letterlik onder water. Die oggend na die reen was daar seker nog so een of twee duim vuil modderwater op die vloer. In die uitpak het my leesboek in die water geval en ‘n lelike bruin vlek op die buitekante van al die bladsye gelaat. Ons moes altyd een-een voor by juffrou se tafel gaan lees. Ek was so bang sy sien die merk dat ek my regterarm oor die vlek gehou het sodat juffrou nie nie kon sien nie. Sy het ongemak en seker ook vrees in my houding gesien en my arm wegevat. Ek wou huil.

 

Sy het my kindergemoed so oneindig goed gedoen met: “Toemaar Louis’tjie, dit is mos nie jou skuld nie.”

 

Die volgende stukkie is baie hartseer.

 

Maart 1960. Die aanbou van nuwe klaskamers het min of meer ordelik verloop totdat die soveelste steurende dinamietslag sy tol geëis het. ‘n Dik rubbermat trek deur die lug, ‘n reuse stuk dolomiet tref ‘n handlanger en ruk hom kragdadig uit die eerste lewe uit. Hy word onseremonieel met sy bloedbevlekte blou overall agterop die tipper gelaai, bo-op die reuse dolomietklippe, gesig ondertoe, en weggery. 

 

Die Polisieman in sy blou uniform maan die kontrakteur om tog effens versigtiger te wees. Dit was die eerste keer wat ek ‘n dooie mens gesien het. Later in die jaar het die Sharpville-onluste plaasgevind en ‘n sestigtal mense word deur manne in blou uniforms doodgeskiet. 

 

So het ons die brute krag van die ou orde leer ken.

Ietsie van alles

Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie

 

Vir diegene wat sin soek

 “Knowing others is intelligence; knowing yourself is true
wisdom. Mastering others is strength; mastering yourself is
true power.”

— Lao-Tzu

 

Vir die knorgatte

 Gaan blaas af

Vir die oorgeslaandes

Gaan staan in die ry.

 

Vir die blogdames

 Heerlike naweek. Ek drink ietsie op julle ander helftes se smaak.

 

Vir die rugbygeesdriftiges

 Ons gaan wen 37 16

Vir Kelly

Ons is trots op jou

Twee lesse

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

Oor die wet van Transvaal: Koop altyd threeply

Oor die demokrasie: Poep sê die koning en die volk sug

Lekker aand

Wie onthou nog die autograph-boekies?

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

 

Tydens my prille jeug was die autograph-boekies in. Ek lees nou die dag deur myne en my oog vang die volgende:

 

Gedroogde blaar

Gevoude brief

Net vier woordjies

Ek het jou lief

 

Toe sit ek die Lazyboy in overdrive en oortuig myself dat ek ’n Skotse spierverslappertjie verdien.

 

Toe lees ek:

 

As onweerswolke saampak

en vriende raak ontrou..

Dink aan hierdie niggie

wat jou altyd sal onthou.

 

Toe gooi ek nog enetjie in.

 

Toe lees ek:

 

If the ocean was Whisky

and Louis was a duck

He would dive to the bottom

and never come up

 

Toe strip ek my moer

Lewenslessie

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

 

“Life is too short to spend your precious time trying to
convince a person who wants to live in gloom and doom
otherwise. Give lifting that person your best shot, but don’t
hang around long enough for his or her bad attitude to pull
you down. Instead, surround yourself with optimistic people.”

— Zig Ziglar

 

Tog so waar. Moangatte, Martie-martelgatte en ander wat heeltyd foute soek pas nie mooi in nie.  Selfs ’n nederige plek soos die stoep het dit al bewys.

 

Lekker aand. Deadlines pla nou bietjie in terme van tyd

Moenie bang wees vir skaduwees nie

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

 

Ek kry vanoggend die volgende stukkie waarheid in my in-mandjie:

 

Today’s Inspirational Quote:

“Never fear shadows. They simply mean there’s a light shining
somewhere nearby.”

— Ruth Renkel

 

Toe dink aan skaduwees en lig. Toe wonder ek of selfs plakkersmet nie dalk iemand gelukkig gemaak het nie.

 

Lekker dag.

Kajuitraadwysie

Augustus 25, 2010 in Sonder kategorie

 

Toe ek jou kon haat was woorde stom

en toe ek jou wou groet was wysies vals

 

In voorjaarsoeltes het ’n lied geblom

wat sag kon skik in note op die stoep

waar vriende woordewysies knoop

 

Maar nou, in hierdie uitgedoofde uur

waar bitter woorde kwes

en uitgeblom se najaarskuld

so fel bly hang, het laat woordjies

soet die legkaart wreed laat skik

 

Toe ek jou kon haat was woorde stom

en toe ek jou wou groet was wysies vals

Het julle al ’n UFO gesien?

Augustus 25, 2010 in Sonder kategorie

 

Oor baie goed wonder mens, maar praat nie juis daaroor nie want jy is bang mense lag vir jou en wonder of jy nie dalk gesertifiseer behoort te word nie.

 

Baie goed laat my wonder, soos die UFO wat ek en my gesin so 14 jaar gelede gesien het. Helderoordag op pad van die Weskus af sien ons die sigaarvormige tuig in die lug wat teen die spoed van lig beweeg.  Ware verhaal.

 

Maar nou ja, oor sekere goed praat mens nie graag nie, soos jou familie destyds op Grassmere, Oumagrootjie wat voor die Boereoorlog buite-egtelik “gevat” het, die enigste toets wat jou tot “crib” gedryf het, die snotklap op die Plympouth se enkelvoorseat in die inry en dies meer.

 

Het julle al ’n UFO gesien?

Wat is ongeletterdheid?

Augustus 25, 2010 in Sonder kategorie

 

Baie groot leiers het al presteer sonder enige formele opleiding.

 

Dit bring mens by die vraag: Wat is ongeletterdheid? Wanneer staan iemand as ongeletterd bekend?

 

Selfs sommige bejaarde mense besef vandag die waarde van rekenaars en veral die Internet. Die vrese vir die tegnologie is aan die afneem en gevolglik word almal wat wil tot ‘n groter mate bemagtig.

 

Tot onlangs toe nog is iemand wat nie standerd ses geslaag het nie as ‘n ongeletterde beskou.

 

Vandag is ‘n ongeletterde iemand wat nie rekenaarvaardig is nie, en dit sluit hooggeleerde mense in, mense wat in burokrasieë deur bekwame sekretaresses omring word.

 

Lekker dag.