Laaste gesprekke tussen twee virtuele vriende.

Julie 31, 2010 in Sonder kategorie

Opvolg op my vorige pos aan Kobus en Flenters

 

Ouboet deel graag met julle ’n paar baie spesiale stukkies uit ’n baie treurige ware verhaaltjie wat in die kuber afgespeel het. Inge Lotz se moordblog het na die hofuitspraak ’n nuwe blog tot stand gebring genaamd Oom Louis se Bloubulhuis. Vriende het baie lekker in die huis gekuier en swaaiende hande was tot enkele sporadiese metaforiese mislese beperk. 

 

’n Spesiale vriendin Marion wat onder die naam Reguit-leef geblog het, is voortydig oorlede. Haar kinders het my versoek of hulle korrespondensie tussen ons op ’n omvangryke huldigingsblad in die kuber mag publiseer. Ek het dit as ’n eer beskou.  

 

29 Januarie 2008. Reguit-leef, Loer in by Bloubul. Ek mis jou sprankel baie.

 

31 Januarie 2008.  Dagse ou Louis. So bly om van jou te hoor.  Verlede Donderdag teruggekom van Dubai. Ons hele gesin was saam en dit was ‘n wonderlke tyd. Voor ons weg is, het ek besef my gesondheid is skielik aan die inkolk, maar het maar anti-inflammatoriese pynstillers gedrink en vir my man belowe sodra ons terug is, sal ek dokter toe.

 

My dogter het vir elke dag ‘n uitstappie gereel en ek het maar gesukkel om myself regop te hou.  Hulle het egter gou onraad vermoed en wou my met alle geweld daar dokter toe sleep (haar groot universiteitvriend en vriendin het hul eie praktyk daar en woon in dieselfde kompleks) en ek het gesoebat dat ek liewer sal gaan sodra ek terug is.(was doodbang hul prop my daar in hospitaal)

 

Jy is seker nie lus vir my mediese geskiedenis nie, maar ek noem net kortliks: mastektomie einde 1992 gevolg deur chemo. Daarna 5 jaar lank als gedoen wat dokters se en toe vir 10 jaar lank enige dokter en hospitaal vermy en gewerk soos ‘n bees.

 

Moet die week nog onkoloog sien, maar het nou reeds gehoor (bloedtoetse) die groot K is nou oral versprei! Kry net my kinders  en man so verskriklik jammer—-My dogter bel elke dag uit Dubai en  huil net heeltyd en my seun in die Kaap het so ‘n diep-moedelose hartseer.   Hoe op aarde kry ek hulle getroos?

 

En hoe meer ek vir hul se: “Ma was 15 jaar lank vir julle gespaar en ons kan net dankbaar wees vir die geleende tyd”— hoe harder snik my meisiekind en se sy wil nie sonder my leef nie! ! Dan probeer ek grappie maak en se dat ek buitendien ‘n lelike ouvrou wou word nie—-dan huil sy eers en se ek is dan nog so jonk!

 

Ai ou Louis moet maar niks aan die ander meld.  Jy is so ‘n dierbare, begaafde en vredeliewende ou.  Op die oomblik is ek  regtig nie baie goeie geselskap nie —veral nie vir die prettige bloubulhuis nie. Ek waardeer jou brief baie !Liefdegroete. Marion

 

29 Januarie 2008. Ag Marion,  Ek bid vir jou. Weet jy, jy is werklik die blogger met wie ek die lekkerste kommunikeer. Ons deel ‘n metaforiese agtergrond. Ek kan ‘n special deel van myself in jou skrywes raaklees.

 

Die groot K klink verdoemend, maar daar bly hoop. As dit enduit loop, is dit God se wil. Ek het in 2005 ‘n voordoodse ervaring gehad toe ons in ‘n massiewe ongeluk was op pad jagved toe. In ‘n paar sekondes toe die kar begin tol het my hele lewe voor my afgespeel. Ek dink wat vir mens aan die anderkant wag is soveel beter as wat ons hier het.

 

Marion, ek bid jou spoedige beterskap toe. Moenie worry nie, ek sal niks sê nie.  Liefde-groete, Louis. Die lang ou wat van versies hou.

 

1 Februarie 2008. Reguit-leef. Die blog verlang na jou. Loer in by Bloubul. Groete, Louis

 

(Toe volg drie weke se stilte van haar kant af)

 

23 Februarie 2008. Marion, Hoe gaan dit met jou? Stuur ‘n woordjie asb. Ek dink elke dag aan jou. Groete, Louis

 

Daardie middag kry ek ’n epos van haar dogter met die tragiese nuus en ek plak, na hartverskeurende kajuitraad, ’n resitasietjie op die huldigingsblad. As vader dink ek aan kinders sonder ’n moeder, en my grootste vitruele vriendin se afkeidsgroet laat my ’n traantjie wegpink:

 

 

Koebaai ma

 

Opstaan lief. Die dag breek

sag soos nat anysbeskuit

 

Koebaai lief,.haai my lief

met rooi hartjies tussenin

 

Vandag is droog en breek

in vlymskerp krummels op

 

Splinters van die siel sal

sonder soen en wondervat

 

van iemand… daai magic

iemand in anys moet heg

 

Die kronkelpad van Reguit-

leef was tog so reguitgeleef

13 antwoorde op Laaste gesprekke tussen twee virtuele vriende.

  1. ouboet, tragies en deel van die lewe waarmee ons moet saamleef en in die oë kyk.
    Sterkte vir almal.

  2. louisna het gesê op Julie 31, 2010

    Thanks latino. Dis baie waar. Dit het gevoel asof ek ‘n suster verloor het.

  3. louisna het gesê op Julie 31, 2010

    Thanks Kelly. Jy maak my dag,

  4. lindiew het gesê op Julie 31, 2010

    Ai dis hartseer. Aan gebrek aan woorde kan ek niks bylas nie.

  5. louisna het gesê op Julie 31, 2010

    Dit was baie hartseer. Ons moet die waarde van blogvriendskape nooit onderskat nie.

  6. louisna het gesê op Julie 31, 2010

    So waar. Marion was ook ‘n juweel en sy wou niks van ons af he nie. Sy het net daagliks vreugde met ons gedeel.

    Dit is nou maar eenmaal hoe de dice vir ons val.

  7. louisna het gesê op Julie 31, 2010

    Thanks Modderkoekie. Jou kuiertjie op die stoep word baie waardeer. Ja, ons is mense van vlees en bloed. Mooi naweek daar oor die waters.

  8. Was vanoggend by ‘n begrafnis van aangetroude familie. Al was hy al 81, bly dit maar nie lekker nie.
    Al wat jammer is, sommige van die mede begrafnisgangers sien mens eers weer by die volgende oop graf.

  9. susan5 het gesê op Julie 31, 2010

    Party mense besef nie eers daar is ‘n ander person aan die anderkant van die blog nie. Jammer dat jy so ‘n spesiale vriendin verloor het.

  10. louisna het gesê op Augustus 1, 2010

    Thanks Susan. Daar was net woorde tussen ons (mooiwoorde),en hoe kragtig is woorde tog nie.

  11. louisna het gesê op Augustus 1, 2010

    Getuigskrifte van geleefde werklkhede

  12. louisna het gesê op Augustus 1, 2010

    Ongelukkig ja, ons sien net by begrafnisse

  13. louisna het gesê op Augustus 1, 2010

    Thanks Sonel. Mooi dag daar ook

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.