Laaste gesprekke tussen twee virtuele vriende.
Julie 31, 2010 in Sonder kategorie
Opvolg op my vorige pos aan Kobus en Flenters
Ouboet deel graag met julle ’n paar baie spesiale stukkies uit ’n baie treurige ware verhaaltjie wat in die kuber afgespeel het. Inge Lotz se moordblog het na die hofuitspraak ’n nuwe blog tot stand gebring genaamd Oom Louis se Bloubulhuis. Vriende het baie lekker in die huis gekuier en swaaiende hande was tot enkele sporadiese metaforiese mislese beperk.
’n Spesiale vriendin Marion wat onder die naam Reguit-leef geblog het, is voortydig oorlede. Haar kinders het my versoek of hulle korrespondensie tussen ons op ’n omvangryke huldigingsblad in die kuber mag publiseer. Ek het dit as ’n eer beskou.
29 Januarie 2008. Reguit-leef, Loer in by Bloubul. Ek mis jou sprankel baie.
31 Januarie 2008. Dagse ou Louis. So bly om van jou te hoor. Verlede Donderdag teruggekom van Dubai. Ons hele gesin was saam en dit was ‘n wonderlke tyd. Voor ons weg is, het ek besef my gesondheid is skielik aan die inkolk, maar het maar anti-inflammatoriese pynstillers gedrink en vir my man belowe sodra ons terug is, sal ek dokter toe.
My dogter het vir elke dag ‘n uitstappie gereel en ek het maar gesukkel om myself regop te hou. Hulle het egter gou onraad vermoed en wou my met alle geweld daar dokter toe sleep (haar groot universiteitvriend en vriendin het hul eie praktyk daar en woon in dieselfde kompleks) en ek het gesoebat dat ek liewer sal gaan sodra ek terug is.(was doodbang hul prop my daar in hospitaal)
Jy is seker nie lus vir my mediese geskiedenis nie, maar ek noem net kortliks: mastektomie einde 1992 gevolg deur chemo. Daarna 5 jaar lank als gedoen wat dokters se en toe vir 10 jaar lank enige dokter en hospitaal vermy en gewerk soos ‘n bees.
Moet die week nog onkoloog sien, maar het nou reeds gehoor (bloedtoetse) die groot K is nou oral versprei! Kry net my kinders en man so verskriklik jammer—-My dogter bel elke dag uit Dubai en huil net heeltyd en my seun in die Kaap het so ‘n diep-moedelose hartseer. Hoe op aarde kry ek hulle getroos?
En hoe meer ek vir hul se: “Ma was 15 jaar lank vir julle gespaar en ons kan net dankbaar wees vir die geleende tyd”— hoe harder snik my meisiekind en se sy wil nie sonder my leef nie! ! Dan probeer ek grappie maak en se dat ek buitendien ‘n lelike ouvrou wou word nie—-dan huil sy eers en se ek is dan nog so jonk!
Ai ou Louis moet maar niks aan die ander meld. Jy is so ‘n dierbare, begaafde en vredeliewende ou. Op die oomblik is ek regtig nie baie goeie geselskap nie —veral nie vir die prettige bloubulhuis nie. Ek waardeer jou brief baie !Liefdegroete. Marion
29 Januarie 2008. Ag Marion, Ek bid vir jou. Weet jy, jy is werklik die blogger met wie ek die lekkerste kommunikeer. Ons deel ‘n metaforiese agtergrond. Ek kan ‘n special deel van myself in jou skrywes raaklees.
Die groot K klink verdoemend, maar daar bly hoop. As dit enduit loop, is dit God se wil. Ek het in 2005 ‘n voordoodse ervaring gehad toe ons in ‘n massiewe ongeluk was op pad jagved toe. In ‘n paar sekondes toe die kar begin tol het my hele lewe voor my afgespeel. Ek dink wat vir mens aan die anderkant wag is soveel beter as wat ons hier het.
Marion, ek bid jou spoedige beterskap toe. Moenie worry nie, ek sal niks sê nie. Liefde-groete, Louis. Die lang ou wat van versies hou.
1 Februarie 2008. Reguit-leef. Die blog verlang na jou. Loer in by Bloubul. Groete, Louis
(Toe volg drie weke se stilte van haar kant af)
23 Februarie 2008. Marion, Hoe gaan dit met jou? Stuur ‘n woordjie asb. Ek dink elke dag aan jou. Groete, Louis
Daardie middag kry ek ’n epos van haar dogter met die tragiese nuus en ek plak, na hartverskeurende kajuitraad, ’n resitasietjie op die huldigingsblad. As vader dink ek aan kinders sonder ’n moeder, en my grootste vitruele vriendin se afkeidsgroet laat my ’n traantjie wegpink:
Koebaai ma
Opstaan lief. Die dag breek
sag soos nat anysbeskuit
Koebaai lief,.haai my lief
met rooi hartjies tussenin
Vandag is droog en breek
in vlymskerp krummels op
Splinters van die siel sal
sonder soen en wondervat
van iemand… daai magic
iemand in anys moet heg
Die kronkelpad van Reguit-
leef was tog so reguitgeleef
Onlangse kommentare