Grepies uit jongste se Afrikaans-Ekspo navordingstuk oor Opperman se gebed om die gebeente,
Vele kenners is van oordeel dat poësie ’n baie emosionele vorm van kuns is. Vergun my dus ook ’n baie emosionele opinie. Is dit moontlik om “Gebed om die gebeente” volledig te begryp sonder om nabetragting oor die wandade van die Anglo-Boereoorlog te hou, veral as jou eie vlees en bloed aan die ontvangkant daarvan was? Is dit moontlik om D.J. Opperman se verbysterende versoenigsboodskap in die gebed van die moeder sonder hierdie insigte werklik te verstaan? My broer J.P. Naudé het in 2002 ’n navorsingsprojek in Geskiedenis gedoen, getiteld: “Lief en leed van die Naudé-Familie tydens die Anglo-Boereoorlog: ‘n Ware verhaal van mense en hul ontberings.” Hy skryf onder andere:
“Die Anglo-Boereoorlog het ‘n groot verwoestende impak op die Naudé-voorgeslagte gehad. Hul plase is afgebrand en besittings verwoes. Die meeste vrouens en kinders, asook enkele mans word in die Standerton-konsentrasiekamp aangehou. Verskeie Naudé-mans is as krygsgevangenes na Indië en Bermuda verban.”
“Groot-groot-oupagrootjie Jacob Johannes se aardse besittings was verwoes, daar was die kwessie van die hendsoppers en joiners en die moontlike onenigheid en verwerping binne ‘n familie, en daar was die uiterste vorm van leed en armoede. ‘n Onskuldige ou man se huis is afgebrand in sy laaste dae. Om in so ‘n tyd heen te gaan, kon seker geen aangename ervaring gewees het nie. (J.P. Naudé, 2002)
Onenigheid en verwerping verwys na die feit dat Groot-groot-oupagrootjie, “schoolmeester” Jacob Johannes, sy 8 kinders uit sy eerste huwelik onterf het. Hy trou binne 3 maande na die dood van sy eerste vrou met ’n jong weduwee, 36 jaar jonger as hy, en laat al sy besittings na aan sy 5 kinders uit hierdie huwelik. (L.J. Naudé, 2002).
Broer skryf verder: “Bethal en so ook die plaas Driehoek (waar my voorgeslagte gebly het) het kwaai onder die plundering van die Anglo-Boereoorlog deurgeloop. Bewyse hiervoor is gevind in eise wat na die oorlog ingedien is. Die manlike bewoners van Driehoek dien elk sy afsonderlike eis in. In hierdie aansoeke word kompensasie geëis vir verliese wat tydens die oorlog gely is. Verwysings na ’n aantal van hierdie eise gee ’n aanduiding van die omvang van die enorme skade wat aangerig is. As gevolg van sy hoë ouderdom neem groot-groot-oupagrootjie J.J. nie aan die Anglo-Boereoorlog deel nie. Volgens beskikbare bronne was hy in die konsentrasiekamp op Standerton aangehou. Aan die einde van die oorlog was J.J. reeds ’n ou man, wat baie ontberings moes deurmaak. Hierdie ou man se jonger broer, Petrus Johannes Naudé, het die dorp Bethal in 1880 gestig.” (J.P. Naudé, 2002)
Een van die grootste kenners van die Anglo-Boereoorlog, prof Fransjohan Pretorius, is soos volg aangehaal, wat die absolute wreedheid verder beklemtoon: “Wat mens veral ontstel, is die mentaliteit van die Britse offisiere. In die sak van ’n offisier wat gesneuwel het, het ons ’n brief gekry waarin hy skryf hoe hy dit geniet om sy verwoestingswerk te doen. In een huis het hy die vroue en kinders gedwing om te luister hoe hy ‘God save the Queen’ op hul klavier gespeel word terwyl die troepe saamsing, voordat hy die huis en alles daarin afgebrand het. Op ’n ander plaas het hy vroue en kinders beveel om alles wat hulle wou saamvat binne ’n uur uit te dra, want daarna sou hy die huis afbrand. Hulle het alles mooi bymekaargepak, waarna hy alles aan die brand gesteek het. Vir hom was alles ’n groot grap. Hierdie minagting, belediging en barbaarse ruheid waarmee die Britte ons vrouens en kinders behandel het, gaan alle verstand te bowe.” (Oorspronklike bron: Beeld, 4 Augustus 2001).

’n Foto wat van my groot-oupagrootjie, Jacob Johannes en sy gesin wat geneem is net voor die uitbreek van die oorlog. My oumagrootjie, Susanna Jacoba, ook ’n gebore Naudé weens oudertrouery tussen neef en niggie in die vorige geslag, sit knus tussen haar pa en ma, Gerbrecht Elizabeth Johanna, gebore van der Sand. Vrede was van korte duur. Die moeder van oorloë breek uit en almal is in die Standerton-konsentrasiekamp aangehou en, soos prof Pretorius dit hierbo stel, aan “barbaarse ruheid” blootgestel.
Teen hierdie agtergrond word ’n moeder wat bid om van haar kind se gebeente te vind, te midde van dié verbete oorlog, veel beter verstaan.
Onlangse kommentare