Gebed opgedra aan ‘n grootmeester

Februarie 26, 2010 in Sonder kategorie

DJ Opperman (1914-1985)

25 jaar later

 

Heer, waar u son oor die wye landskap skyn

en lig straal tot dit donker is, gee ons ook sig

in skemerte om fyn stellasies vers tot boeg te

skik as gedagtes muf raak en net waterlote stoot

Gee dat ons skugter dapper woorde saamval tot

’n simfonie ver buite ons bereik; gee dat ons die

aardse, die vrou en die groot groot Gees sal dien;

gee dat ons veral onder die roosmaryn bly snuffel

en sal takkies aandra vir die swart kraai se nes

wat ons kan losrafel en aanhou nuwe wysies dig.

 

Na meer as ’n kwarteeu se stilte van sy pen bly hy

lig skyn op die soms droewe landskap. Gee ons

woorde Heer, om ook drie dode hier te sterf as

offer aan ’n meester wat so raak kon dolosgooi.

Na drie dode herrys ons sielsoek skugter woorde

om en om die helder klanke van sy meestersimfonie

13 antwoorde op Gebed opgedra aan ‘n grootmeester

  1. wow! Sjoe.
    Ouboet, Leen aan my jou letters in gebed, om ook eendag waardig woorde soos reën oor ‘n dorre landskap sagkuns te mag neersif…tot versadige rivierdenke daaruit sal kan vloei…

  2. Opperman is myns indien die heel beste digter in Afrikaans met Breytenbach ‘n kortkop agter. Die poging kort nog heelwat skaafwerk en ek wil die HEEL beste digbundel in Afrikaans (Komas uit ‘n bambooesstok) inwerk

    Jou metaforiek is pragtig. Laat daai woorderivier vloei.

  3. Daar’s niks te verander nie. Woorde is daar presies in plek soos dit bedoel is om te wees.

    Dankie. Loer op my Blog, daar’s iets vir jou – re: gister se gesprek.

  4. Thanks. Ek maak so.

  5. Ek skryf vas al van skool af en dit is vir my lekker, maar ek beoog nie ‘n bundel nie. Ek dra ‘n roman in my gedagtes rond.

  6. Thanks Kammi, komende van jou maak jy my dag. Ek het al Opperman se goed. Hy was meester. Mooi dag.

  7. sjoe, ek is beindruk
    (heer opperman was my groot oupa opperman se neef)

  8. DJ Opperman was die heel grootste digter in Adrikaans.

  9. bloed is seker dikker as water, maar ek is eintlik ‘n NP van Wyk-Louw meisie

  10. Smaak is persoonlik, maar ja hy het ook briljant geskryf. Ek plaas Breyten tussen die 2 groot bulle.

  11. Dankie vir die kompliment MaanKind. Opperman is vir my die heel grootste woordkunstenaar in Afrikaans, gevolg deur Breyten, Van Wyk Louw, Antjie krog en Wilna Stockenström.

    Gebed om die gebeente is die heel beste gedig in Afrikaans wat ooit gemunt is.

    Thanks ook vir die spelcheck. Foutjie reggemaak.

  12. Dirk Laurie is mos daai skerp statistikus. Ek het Trienke deurgelees in Groot Verseblik. Sy skryf goed en die genetiese bloed het duidelik deurgeloop.

    Ek voel tog die Opperman-Brink-verhouding het haar dalk bietjie ruim plek gegee. Ek voel ook Loftus Marais het veels te min plek gekry(segs 2 gedigte).

    Maar nou ja, in die Brink-idioom het poësie seker gewen.

  13. Boerneef se ouvre is klein, maar waardevol. Van Wyk Louw is op my lys en Eybers het pragtig geskryf.

    Ek google nou die dag om uit te vind hoeveel traffic die ou grootmeesters trek, en kom op die volgende af:

    DJ Opperman
    99,100

    NP van Wyk Louw
    61,800

    Elizabeth Eybers
    193,000

    Eybers het meer as driekeer soveel google inskrywings as Louw en amper dubbel soveel as reus Opperman. Nogal insiggewend. Nog?

    Breyten Breytenbach
    97,600

    Antjie Krog
    120,000

    Lekker dag.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.