Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Dig

Januarie 27, 2010 in Sonder kategorie

Die skerpte van die

lem wat weerskant sny

is soms so snerpend dun

en tog so dik

met spriet belaai

In stomptes van

die diepste holtes

waar die dice moet val

is vrugbaar soms so ver

van skerp gedagtes af

’n Haas het my ’n geleentheid gekos.

Januarie 27, 2010 in Sonder kategorie

Op universiteit het ek en Nadia  eenkeer in die Babsfonteinhotel gaan dans. By hierdie plek is ordentlike mense, uitsonderlike mense en soms ook alternatiewe mense raakgeloop.  Maar dans was heelbo op die agenda.  

 

Die aand was verruklik. Ouboet het ’n bord snacks, bier en wyn gekooop en die eerste ompraattree begin gee met ’n kwatryn op ’n servet.   Die aand verloop vol beloftes. Ons besluit later dit is tyd om van venue te verander. Toe ek vir haar die kar se deur oopmaak, gee sy my ’n ferm drukkie, gepaardgaande met ’n skalkse laggie. Vanaand is die aand.

 

Op pad terug (fonteinedal toe) het ‘n haas oor die pad gehardloop, en soos wat ek op die plaas op Ventersdorp geleer is, gaan ek toe vir die haas, voorwiele eerste. Ek was later langs die pad in die gramadoelas toe ek die haas uiteindelik tref. Ek hoor nou nog hoe sy kop teen die pers Volksie se onderstel kap. Ek het hom!

 

Nadia begin onbedaard gil.

 

Sy was vir my smoorkwaad, ek het haar gaan aflaai en is druipstert koshuis stoe. Sy kon hierdie barbaarse daad gladnie hanteer nie.

 

Konklusie: ’n Haas het my ’n geleentheid gekos.

Seks. Hoekom word poppe feller met die tong geslaan as mans?

Januarie 27, 2010 in Sonder kategorie

 

Sommige oorgeslaandes beskou seksuele “oortredings” deur vrouens veel erger as soortgelyke aksies deur mans. Hoekom?

 

Studente gaan op ’n boottoer oorsee. Normale dinge gebeur.  Deelnemers word in twee kategorieë geplaas: Poppe is los van sedes. Mans is avontuurlustig. Is dit regverdig?

 

Wat kan ons uit die geskiedenis leer?

 

Mens moet die erotiese spel van die liefde dus binne historiese konteks begryp en veral let op die genadelose oordeel wat daar oor die waardiger en ontvangende helfde van die hemelse spel gefel is: “Tussen die verskillende soorte vroue wat die slagoffer of die prooi van ‘n man se wellus uitgemaak het – die verleide vrou, die owerspeelster, die ongehude moeder, die maintaineé, die courtisane en die prostituut – is daar geen onderskeid gemaak nie, en almal is eweseer as verworpenes beskou.” (Karel Schoeman)

 

Enige droom oor of meelewing met enige “voortydige” romantiese gebeurtenis teen die agtergrond van die soms skilderagtige verlede, kan dus nie sonder vrees vir die dreigende kap van die gewete se skerp swaard gedoen word nie.

 

Konklusie: It takes two to tango. Albei is ewe sedeloos of avontuurlustig.

Gratis taalles. Sorry Sophia, Voz en andere.

Januarie 26, 2010 in Sonder kategorie

 

My vorige blog was vir sommige vriende onsensitief. Ek is baie jammer daaroor en vra nederig om verskoning.

 

Glo my ek wou niemand aanvat of seermaak nie. Daarvoor is die lewe te kort.

 

Ek vra dat julle dit sal oorweeg om Shakespeare se volgende mooi woorde oor my uit te spreek.

 

“The quality of mercy is not strained.
It droppeth as the gentle rain from heaven
upon the place beneath.”

Gratis taalles

Januarie 26, 2010 in Sonder kategorie

Ouboet soek nie k.k nie. Hy wys maar net enkele van vele spelfoutjies uit wat onlangs op die blog raakgelees is.  Onthou, een begrip is een woord.


Geelperske reën =  Geelperskereën

Seepkis Kwessies = Seepkiskwessies

Waterkatedraal Woorde = Waterkatedraalwoorde

Nuwejaars voornemens = Nuwejaarsvoornemens

besigheids gebou = besigheidsgebou

koffie tafel boek = koffietafelboek

moer toe =  moertoe

musiek konsert = musiekkonsert

suurlemoen gegeurde = suurlemoengegeurde

middel oor ontsteking = middeloorontsteking


Raai raai vir wie is dit?

Januarie 26, 2010 in Sonder kategorie

Die spore van jou

skugter jeug

bloei helaas in rooi

die fynste rooi

die sagste rooi

in volronde prentjielag

Driekwartoop rooi rose

ets ’n saamweessprokie   

op jou sagbruin

ogies af

Fragmente uit ‘n brief wat nooit gepos is nie

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie

  • Die Sondagoggend toe jy Taaibos toe geloop het om verskoning te kom maak oor jou “houding” die vorige aand. Jy het nog vir my ‘n tjoklit saamgebring. Enige intensies om jou ook lip te gee het gou verkrummel.
  • Openingsdans 1976 in die Rautenbach-saal. Onthou jy daardie aand in die Amfi? Seker die waardevolste 45 kg wat ooit op my skoot gesit het!  Op hierdie foto hou ek jou styf in my arms vas. As Alzheimers eendag my lot word, sal hierdie aand in die Amfi seker die laaste/enigste ding wees wat ek ooit sal onthou. Cowboys don’t cry.
  • Die bottel Simonsig Pinotage wat ons by Klapperkop uitgedrink het. Heel behendig lig jy my toe in dat Neethlingshof en Middelvlei eintlik beter wyne is. Ek roep ook ‘n insident in die herinnering waar ek een aand ‘n bottel witwyn uit die voorportaal van die Boukundegebou gegaps het terwyl die seremonie nog in ‘n saal aan die gang was. Ons het dit saam uitgedrink, so uit die bottel.
  • Jool 1976. Dit was koud en ons het Army-jasse aan gehad, dieselfde size. Myne het soos ‘n knap baadjie teen jou slepende aandrok gelyk.
  • Die aand toe Erika se huismoeder my laataand/vroegoggend by die annex sien uitstap het. Ek dink dit was Paasnaweek 1976 en jy was alleen daar. Jou verskoning was iets soos “‘n dronk NKP student wat iemand kom soek het, maar ek ken hom nie en het hom weggejaag.” By the way, hierdie tante is saam met my ma in Huis Herfsblaar. Hulle is vriendinne. Ma is die gang se hoofmeisie en maak rokkies vir weeskinders.
  • Die kuiers in Loeloeraai se sitkamer (eerste deur regs).  Die halfdeursigtige riffelglasdeur was die waghond.  Ek roep ‘n gediggie van my Beminde in stort in die herinnering, maar “tussen riffelglas en stoom” het nie die by die tema van die opdatering ingepas nie.
  • Die aand toe ek jou aan my ouers op die plot gaan voorstel het en vir jou klavier in my buitekamertjie gaan speel het. “Pragtige kind” was my pa se kommentaar.
  • My pers (jakarandakleurige) Volksie. Ek onthou oe die musiek uit die 4-track met sy geel liggie jou gemoed kon swaai, veral Bridge over troubled water en Words.  Iewers het die New Seekers se Never ending love en die BG’s se Don’t forget to remember me uit die onderhawige tydperk by my vasgesteek. Cecilia het ek uit my oevre van herinnerings verban.
  • Die laaste keer wat ek jou gesien het. Ek het jou die aand (seker ‘n dag of drie na jou laaste vraestel) kerk toe gevat (Universiteitsoord), maar selfs hierdie wanhopige en heilige poging was te laat. Daardie aand het die predikant vir almal gebid, maar dié wat deur ‘n geliefde gekwes is, oorgeslaan. Jy het ‘n deftige kameelkleurige tweestuk aangehad. Ek onthou nog die fluweelsagte materiaal. ‘n Traan sou afgeloop het, en nie ‘n natkol gelaat het nie.  Cowboys don’t cry.

Rens droom skik

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Die fyn lyn

tussen wens

en wees

is hoop

en guts

en werk

en min of meer

so min of meer

die onbewoorde frases

op wit spasies

van ’n blanko blad

Carpe diem

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie


Fyn stellasies woorde in gelid

wig tussen vaste grond

en lintels van jou siel

pilare in

My skugter hande soek weer vatplek

aan die strofes van jou fynste menswees

Ons neurie weer op al die plekke

waar ons eenmaal was

Stellasies simfonie beier

soos van ouds weer

welkom, welkom welkom

in strukture so bekend

en tog so splinternuut

Wortels van menswees 2

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Vir diegene wat ‘n geslagsregister as die alfa en die omega van die genealogie beskou, sal hierdie bydrae heel moontlik omslagtig of selfs vervelig wees. Hierdie boek is nie ge-“pad” met lyste van name, geboortedatums en ander karige biografiese inligting nie. So ‘n genealogiese lys is ‘n pieperige geraamte sonder enige vleis en dus hoogstens ‘n logiese vertrekpunt vir doelgerigte genealogiese navorsing. Dit is op sigself, veral vir die beginner wat nog nie met die terminologie en kompleksiteit van die genealogie vertroud is nie, nie van veel waarde nie.

 

Heel dikwels hoor mens dat ‘n sekere familie se geskiedenis volledig in ‘n boek beskryf is. Kyk mens na die boek dan is dit bloot ‘n reprodusering van bekende geslagsregisters en ‘n verbeeldinglose uitbreiding daarvan. Daar is selfs “boeke” wat kwalik ‘n voorwoord het. Sonder teks kan mens tog nie praat van familiegeskiedenis nie. Paloeka, prins en profeet kan dieselfde name dra,  maar as hul deugde nie bekend is nie, beteken dit hoegenaamd niks. Sommige geslagsregisters het goeie verklarende aantekeninge, maar selfs hierdie pogings is die tweede prys in vergelyking met die onbegrensdheid van geordende en vloeiende teks.

 

Die benadering wat in hierdie boek gevolg is, moet eerder as ‘n poging beskou word om die herkoms van die Naudé-familie asook hul doen en late so korrek moontlik weer te gee en in historiese perspektief te plaas. Alleen dán kan hierdie werk vir my kinders en die geslagte na hulle, waarde hê. Dit is onwaarskynlik dat blote geslagsregisters met name en datums hulle sal interesseer. Gevolglik is daar ook besluit om soms af te wyk van die bekende alfabetiese en nommerklassifikasiestelsel wat deur De Villiers, die vader van die genealogie in Suid-Afrika, begin is. Jean Nadé word as die eerste geslag beskou omdat hy die eerste Naudé is waaroor daar inligting beskikbaar is. Gevolglik word daar in die boek na ‘n spesifieke geslag, byvoorbeeld die vyfde of sesde geslag verwys. Persone wat binne daardie geslag waarvan my direkte voorsate afstam, gelewe het en wat ‘n bydrae tot hulle bestaan en leefwêreld  gelewer het, word dan in die betrokke hoofstuk bespreek.

 

Op ‘n ligter trant: Volgens die nommermetode is die uwe danksy die werk van Faan Naudé iets soos a1, b1, c1, d9, e6, f7, g2, h12, i2.  My twee borrelende seuns is dus a1, b1, c1, d9, e6, f7, g2, h12, i2, j1 en  a1, b1, c1, d9, e6, f7, g2, h12, i2, j2 onderskeidelik. Opsigself verklap hierdie formule geen menslike eienskappe nie en openbaar allermins die heteroseksuele aard en ander realiteite van die mens in sy soeke na sin. Aan die begin van die navorsing het ek twee keuses gehad: Skryf ‘n boek vol nommers en name, of laat die nommers die naaste aan jou leef. Ek laat dit aan die leser oor om te besluit of die keuse wat uitgeoefen is, meriete het.

 

Let wel: sekere genealogiese studies met hierdie metode as basis het meriete, veral in gevalle waar aanvullende inligting oor die persone gegee word. Indien die “boek”egter tot ellelange geslagsregisters beperk word, is bloot die eerste deel van die navorsing voltooi.