Cheers Chris Louw

Desember 3, 2009 in Sonder kategorie

My kennismaking en kontak met Chris Louw was uiters positief, seker omdat ons deur dieselfde patriargale heerskappy erg die bliksim in gemaak is. Hier volg ‘n brief van my wat in ‘n effens verkorte weergawe in Beeld verskyn het.

 

 

Boetman, bedaar en vat die gaping


By die eerste deurlees van Boetman se storie  het ek dadellik besef Louw gryp die volk, en veral middeljarige witman, aggresief en doelgerig  aan die siel met een van die raakste en beste stukke joernalistiek wat nog ooit in Beeld verskyn het.  Ek is 46 jaar oud, blank en ‘n man wat erg onder die patriargale dink en doen van die “visionêre” leiers van die vorige bedeling gely het. Ek het soos Louw ook kruit, bloed (én stront) geruik, en ook doellose en soms vernederende take as  gehoorsame en onderdanige troep verrig.

 

Al my manlike voorsate het in al wat ‘n oorlog was, geveg.  Ek voel myself dus geroepe, en bevoeg,  om op Louw se brief en die reaksie daarop, te reageer.  Die kernvraag is:  waar staan ons nou, 10 dae na die publikase van sy brief?  Louw en die honderde reagerende briefskrywers het verskeie  diagnoses van ‘n aantal ernstige ideologiese en verwante  defekte binne ‘n bepaalde historiese tydvak gemaak. Die onderskeie X-strale toon duidelike patologie, letsels en wonde,  maar verder as praat en skryf het niemand nog gekom nie. Ofskoon enkele briewe oplossings of heling suggereer, het niks verdiensteliks nog die oog gevang nie.

 

Louw, wat die ding begin het, en Beeld wat die waagmoed gehad het om die brief te publiseer, durf nie hierdie ernstige saak by praat en skryf los nie.  Doen iets konstruktiefs en omskep die bedreiging in ‘n geleentheid.  Daar is genoeg  skuld bely, gal gebraak, weg gewens, vooruit gelieg, reggelieg, jammer gekry, beledig en gefilosofeer.  Laat vaar die retoriek en oratorie en  spring aan die werk, hoe gouer hoe beter.  Die boodskap moet duidelik wees: omskep die “revenge of the white male” en ander wat saam met hulle voel, in die grootste en konstruktiefste geleentheid van die nuwe millennium.  Skep ‘n forum vir almal wat hulself op die een of ander manier in Louw se brief raaklees en laat hulle bymekaarkom vir ‘n reeks dinkskrums om die beste uit die situasie te haal. By hierdie dinkskrums moet oplossings gegenereer word vir geleenthede soos versnelde bemagtiging van die previously disadvantaged deur die presently disadvantaged.

 

Hierdie uitdaging bied vir ons almal geleenthede én is dringend noodsaaklik. In ‘n inligtingsgedrewe ekonomie sal politieke ideologie toenemend vervaag en plek maak vir markkragte en ander ekonomiese werklikhede.  Kom ons oortuig die beleidmakers dat dit nie die ideologiese en ander insette (soos geslag of ‘n wit vel) is wat die toekoms verander nie, maar wel bekwame mense se uitsette soos ekonomiese groei en die skepping van werk en welvaart vir al ons mense. Kom ons genereer oplossings wat  aggressie en magsverlies kan omskep in positiewe en kreatiewe energie. Kom ons maak van Boetman ‘n doelgerigte stuurman. 

 

Is Beeld bereid om ‘n rol in so ‘n inisiatief te speel, byvoorbeeld die reel van ‘n stigtingsvergadering?  Is daar ander meelewendes wat saam wil oplossings soek? Laat weet my asb by xyz

 

Cheers Chris.

11 antwoorde op Cheers Chris Louw

  1. louisna het gesê op Desember 3, 2009

    Moenie uitvee nie Kammi, ek like. ‘n Hele paar ouens het destyds baie positief gereageer en ons het bymekaargekom. Maar aksies soos die verg tyd en geld. Wat jy skryf is tog so waar.

    En onthou, teen die tyd dat jy ‘n poep ruik is sy mooi klank reeds weg.

  2. aa3cher het gesê op Desember 3, 2009

    Ek dink dat, soos met die omgewingskwessies (water en klimaatsverandering), praat verwar word met doen. Teen die tyd dat jy daai mooi klank hoor, moet jy windop beweeg.

  3. louisna het gesê op Desember 3, 2009

    Vloei jou yster. Mooi metaforiese speling en baie waar.

  4. Ouboet, ek wens ek kan hierdie boek vir jou oorbeam, ek is so ampertjies klaar. The Great Turning van David c. Korten Dis rerig ‘n lees werd, ‘n hele nuwe koers…..

  5. louisna het gesê op Desember 3, 2009

    Thanks Monica. Ek sal hom soek en oor kerstyd lees.

  6. aa3cher het gesê op Desember 3, 2009

    Ek weet. Dis ook waar. Was lank genoeg in die staatsdiens om dit aan my bas te gevoel het!

  7. louisna het gesê op Desember 3, 2009

    Sjoe, maar julle manne raak nou filosofies.

  8. Ou-Top het gesê op Desember 3, 2009

    Verloor n man bo veertig sy werk is hy gedoem in hierdie land, tensy hy met sy pensioen uitbetaling n tuindienste bedryf of so iets kan begin. Wat sê Malema gisteraand op TV ? Hy bly in n huis van R3 miljoen, ry n Landrover van een miljoen Rand, en het “bodyguards” teen helse salarisse wat hom moet beskerm. Dan het die vet kat nog die cheeck om te sê hulle drink tot vyf in in oggend, dan slaap hy in die kar op pad na sy konferensie en kom vars en uitgerus daar aan. Nee wat Ouboet, praat gaan nie dinge verander nie, ons gewone ouens gaan maar liewer in stilte aan: kop omlaag, horende doof, sal ons swoeg vir ons bestaan. Ons praat al van De Klerk se dae af, so het ons darem al geleer dat praat met politici maar net n klomp “tos” is.
    Soos Vloei sê, ons doen, ons doen maar wat ons kan.

  9. Izakdv het gesê op Desember 3, 2009

    Ek hou van jou pro-aktiewe manier van dink.

  10. louisna het gesê op Desember 4, 2009

    Thanks Izak. As mens met die toekoms werk is reaktiewe gedrag taboe.

  11. louisna het gesê op Desember 4, 2009

    Waar Ou Top. Ek was maar desyds positief en het gehoop ek kan bemark vir my besigheid, wat toe nie gewerk het nie.

Los ’n antwoord vir louisna. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.