Jy blaai in die argief vir 2009 September.

Ware verhaal

September 23, 2009 in Sonder kategorie

Een aand in ‘n hotel in die Kaap sit ek en gebruik ietsie ligs. My gedagtes tob oor lewe en dood.

Vroëer die aand is ‘n mollige bejaarde vrou  op die dansvloer dood, van rondruk tot stillê in ‘n paar minute. Tien canes laat ‘n groot kol, en ‘n kneg met ‘n slopemmer maak die vloer skoon. Snaaks dat die groetproses so half onwaardig kan wees. Die party kry nuwe lewe.

The show must go on.

Halsreik van die oorgeslaandes

September 23, 2009 in Sonder kategorie

Liefde is ‘n obsessiewe lied

as die oes skraal is

Lus ‘n versoeking

in tye van oorvloedigheid

Die pessimis bly skepties

tot die boudjies lig

Tog bly ons altyd

ewig optimisties

Rape julle nie meer nie, vra die tannie

met die diep lyne om die mond

In die agtergrond sing die koor die lied

van die oorgeslaandes uit volle bors

Sies!! Ons is nie almal so nie

September 23, 2009 in Sonder kategorie

Aan my gewaardeerde pop-vriendinne. Sorry vir hierdie enetjie. Julle gaan egter gou agterkom hy is eintlik veel ligter as wat hy lyk.  As julle dink hy is dalk op iemand gemik, onthou great minds think alike

Konteks (uit ’n vorige plaksel)

Omie trap die petrol dat ons vinniger kan ry. Yes, mense het my gevra om die krane so ‘n bietjie oop te draai. Vertel ons van die sewe tarentale, die draai en die dooie pappegaai. Van die draai ook, vra ek? Yes, vertel ons van die fyn ding! OK, kom ons start die Vauxhall.

Start die Vauxhall

Die weird ou se

sad song vlei die

p.sreuk wat swaar

in die voorhuis hang

Jjokkie moet sien

‘n goeie shot sien

van oom Koos, sy kinders

en ‘n drolbruin Vauxhall

Vytjie moet vanaand

by Tjokkie gaan lê, haar

drive-in ticket en Coke

op die voorseat verdien

Werfetter en

yardskoonmaak

se kuns is stulpig

vervolmaak

Ons is nie almal so nie

So long Marianne

So what? What a f.cking

strange world?

Laat mens dink

September 23, 2009 in Sonder kategorie

Enige persoon met een sel meer in sy boonste verdieping as die Amoeba Proteus in sy hele eensellige lyf sal hierdie stukkie dalk amusant vind.

Duidelik word hier op Litnet-blogs baie energie verbruik, g’s getrek (apologie aan die pilots) en soms ruimskoots ook bekwame potte k.k as eksotiese Franse gourmet ala haute cuisine opgedis.  

Dit laat my dink aan die Johari Venster, ’n tegniek waarmee mense gehelp kan word (die wat gehelp wil word) om insig in hulle interpersoonlike kommunikasie en verhoudings kan kry.  Die essensie word in the volgende diagram raakgevat (Wikipedia):

Blind spots kan verleentheid veroorsaak, soos halitose (stinkasem) byvoorbeeld. Die vrou wie se man ’n affair het kan ook hier inpas. As sy uitvind is interpersoonlike kommunikasie dalk nie bo-aan die lys nie.

Die mees lagwekkende kwadrant is egter die fasades.  Die ergste vorm van fasades is wanneer die not known to others met klakkelose herhaling (sonder boodskappe van enige substansie) so transparent soos ’n pre-’94 broodsakkie word.   

 In fasades word voorgegee, gepretendeer en derglike gimnasiek sonder hulpvelening gedoen. Hierdie kwadrant is ook ’n kas, closet of gewoon ’n skuilplek vir geslagsverwardes, of dead certs wat nog wegkruip.

Hierdie kwadrant stimuleer ook die verbeelding. Hier word van perdedrolle vye gemaak. Hier word verdigsels as feite opgedis.  Hier word CVs geskep wat nie bestaan nie. ’n Enkele voorbeeld word gegee. Daantjie van Droldrif doen aansoek vir ’n pos wat bestuursvaardighede verg. Sy verdigsel in ’n elelange CV skep die indruk van ’n uiters bekwame man.  Feit: Daantjie se ervaring is beperk tot een administratiewe pos. Hy was vir een maand die waarnemende assistent-hulpsekretaris van die plaaslike draadtrekgilde.

Helaas bring insig mens tot die besef presies waar jy in die waardeketting inpas. Kom ons neem die voedselketting as voorbeeld:

Voedselketting

Jy’s blink en groen

half té groen om natuurlik te lyk

maar groen is groen

en groen is lewe

jou habitat is nat en bruin

wat groei bevorder

Jy dikteer die voerselketting

Jy’s so groen

jy’s aan die

einde van die veredelingsproses

die onderste einde

die voedselketting stop by jou

jou hinderlike, stinkende

en zoemende

metallicgroen

drolbrommer

Ietsie ligs

September 22, 2009 in Sonder kategorie

‘n Kollega en groot vriend het een keer na ‘n paar Castles ‘n treffende opmerking gemaak. “Shame, ou Paal het eintlik maar ‘n k.. job. Hulle kom dump altyd  ‘n emmer kots op sy tafel an dan verwag hulle hy moet sy tweezer vat en die heel ertjies, pitte en ryskorrels uithaal, sous en jam byroer en ‘n smaaklike stew opdis.”

Ietsie ligs

September 22, 2009 in Sonder kategorie

Het Sannie ‘n panty aan? Nee, maar wel haar spykerskoene

Ietsie ligs oor eerlikheid.

September 22, 2009 in Sonder kategorie

Oor die geleenthede tydens jool en die braaie by die fonteine wat reg uitgewerk het, word meestal geswyg. Maar oor die vaste verhouding of wat is hulle normaalweg eerlik. “Ook maar min gebeur, want daar was nooit juis plek nie. Ook maar goed so.” Almal steek sleg af teen jou, en hy dink nooit terug aan hulle nie. So gaan die gebluffery voort. Niemand is werklik eerlik nie, selfs nie die werklike maagde wat ‘n keer of wat raakgevat is nie.  Aan die anderkant van die spektrum is daar die hane wat spog oor die merkies op hul kerfstok. Goeie bliksim, hierdie soekers hoort nie op moeder aarde nie.

Gewoonlik word daar in oormaat bygelieg. Onderbedeeldheid word ruim as morsvleis opgedis.  Mens kan aanvaar dat manne met natuurlike heteroseksuele talente nie juis daaroor spog nie. Dalk is dit eerder die manne wat skrams kaneel geruik het, ‘n snotklap gekry het en die grand finale fabriseer soos wat hulle wou hê die verspeelde kanse moes uitwerk, wat meestal aan die woord is.  Tog is daar hier en daar subtiele verwysings na die waarheid wat verduurbaar en selfs komies is, soos ‘n toevallige verwysing van ‘n groot pel wat die ’76 karnaval in Rio bygewoon het. Binne die eerste 2 dae het hy rowe gehad, maar hy is sonder die rowe daar weg, en hy het hulle nie afgetrek of medies laat behandel nie. 

Sad popstorie. Hoofstuk 3

September 22, 2009 in Sonder kategorie

Baiekeer het ek haar op my nek getel en oënskynlik doelloos op die kampus, in Springbokpark of die botaniese tuine met haar gaan rondloop. Sommige mense het gelag; ander het subtiel gesmile en enkele oorgeslaandes het dalk hul afkeur met ‘n pynvertrekte mondhoek te kenne gegee. ‘n Klein groepie wat die gawe het om die heelal perspektief te sien, het ons heimlik bewonder. Dit laat my dink aan my woorde in die kerk op 1 Julie vanjaar toe ek die woord op my grootste vriend se begrafnis moes voer: “Nou die dag het ek ‘n baie spesiale oomblik tussen julle twee (hom en sy vrou) gesien, so half in die verbygaan. Sy het vir jou ‘n glas water aangegee en julle het vir ‘n kortstondige oomblik baie spesiale oogkontak gehad. Die lag, waardering en begrip in julle oë het my laat dink aan iets baie na aan volmaaktheid, iets kosbaars wat vir ewig in ‘n helder kristal vasgevang is. Vir ‘n sekonde of twee het ek ook iets werklik kosbaars van die deurmekaar heelal gesnap.”

“Jy sien, my groot vriend, helaas is ons hier uit genade en ons dae tydelik. Met elke hartklop en tik van die horlosie skuif die tyd aan, en so ontplooi nuwe geslagte wat in die stryd moet voortbeur ter wille van oorlewing en ‘n plekkie iewers in die groot geheue van die heelal.  ‘n Bekende historikus het dit treffend gestel: ‘Die dood vra egter nie of ‘n mens wil agterbly of nie. As ‘n mens deur sterftekenisse en boedels werk, besef jy dat die mens se lewe meer is as ‘n foto, ‘n stukkie papier met gegewens in ink, of selfs net ‘n koerantberig: dit het gegaan om ‘n lewe met al die hartseer en leed wat by elke afskeid tot uitdrukking gekom het. Met die dood verdig die mens se lewe tot ‘n legger wat in die staatsargiefbewaarplek in rye langs mekaar staan en bewaar word, nie as engele nie, maar in die vorm van gestolde woorde wat van ‘n beëindigde lewe getuig. So was dit deur die eeue en so sal dit steeds bly.’

Tegnies is jy nou ook in ‘n argief my vriend, maar die vele mooi dinge wat jy hier op aarde gedoen het is nou ook gestolde woorde, wat ons oor en oor kan lees en inspirasie daarin kan vind. Jy is daar en ons is hier. Hier het ons, ek en jy, die inskrywings, die groot lyne op die kaart, soms skeef getrek en soms misgelees, en ek hou graag aan jou, net aan jou, ‘n stukkie voor:

TABULA RASA

Elke vlug verbeel

iets beters

as die nou wat pyn

 

soos die blad vergeel

Eureka skree

vir elke hou

 

bly ek aan jou getrou

my spieël

wat aanhou lieg

 

en mÔre blinker kaats

as nou

Ja ou kleinjie, ouboet dink diep vandag.

Sad popstorie. Hoofstuk 2

September 22, 2009 in Sonder kategorie

Daardie aand het ek haar by Loeloeraai gaan aflaai. Die hoë eerste trap van die annex het belofte ingehou, maar ‘n knus drukkie, niks meer as wat op die dansbaan gebeur het nie,  het ‘n onvergeetlike aand afgesluit. Daarna in Taaibos het ek en die twee Casse soos gewoonlik stock gevat.  Albei het teologie geswot en is vandag getroue dienaars, maar nie een het sonde in dans gesien nie. Hervormers glo aan hervorming. Een het ‘n “hot lead” raakgeloop, maar volgens die ander was die fonds maar skraal: “Dié wat kan dans, én die skoneres onder die massas het vanaand seker geswot.”  Die skraal boorling se gesig het ‘n ander storie vertel, soveel so dat Cas2  die opmerking gemaak het dat Kleintjie haar in die bestek van een aand onherroepelik in sy grootharsings ingewig het. Ek het lank oor die profetiese woorde van hierdie toekomstige dienaar, wat my later in die heilige eg verbind het, getob, dalk veels te lank. 

In die daaropvolgende maande het my hard disc herinnerings geberg wat vele raaisels ingehou het; raaisels wat stellig raaisels sal bly, want sien, nie almal tob oor of onthou detail nie. Ons het soos kinders, onbevange en oortuigend, mekaar sonder pretensie leer ken. Leer ken is dalk oorambisieus, want hoe leer mens ‘n klein bondeltjie mistiek werklik ken? Na ons derdejaareksamen het ek, soos hierbo gemeld, gaan skeermesse verkoop.  Ek herroep my vaagweg dat ek Kleinjie beloof het om vlugtig vir haar in die Kaap te gaan kuier tussen die twee verkoopstoere, maar met die stukkie naastediens aan oom Meyer het ek nie tyd gehad nie. Ek het wel tweekeer gebel. Eenkeer het haar suster opgetel en ek roep ‘n verlangse verwysing na ‘n man in haar lewe, as verskoning omdat sy nie daar was nie, in die herinnering.

Vroeg in Februarie (sy moes vroeg aanmeld daardie jaar) het ek haar by die koshuis gaan opsoek, en na ‘n stottering of drie van my kant af, het ons die lopie hervat. Uit my eie oogpunt beskou was die weersiens en die maande daarna totdat Marietjie haar verskyning gemaak het, die heel gelukkigste tye in my ganse lewe. Die stilte voor die storm van die Soweto onluste was menigmaal my tuiste vir ontvlugting en regressie.  As mens se huidige bedreig word, so het ek in die Sielkunde geleer, dan is dit normaal om te ontvlug of te regresseer tot ‘n gelukkiger tydperk in jou lewe. Sommige wesens gaan so ver terug as om die warmte en geborgenheid van hul moeders se baarmoeder op te soek, maar my reis het nooit verder as Februarie-Junie teruggegaan nie.  Kleintjie was ‘n knus oor vir ‘n soms vekreukelde siel. Haar sprankelende lag het grootshede in my brein afgeëts wat my stomp woorde nie kan plavei of na waarde kan skat nie.  

Sad popstorie. Hoofstuk 1

September 22, 2009 in Sonder kategorie

Ek het haar Tinktinkie gedoop, en eenkeer vir haar ‘n geel T-shirt, die kleinste size wat beskikbaar was, gekoop, en haar troetelnaam in swart daarop laat afdruk. Dalk het die spelfout (weglating van die eerste “k”) die fondament van ‘n tragiese einde gelê. Hierdie een kon ek nooit uitpluis nie. Ontrafeling van die moeilikste intriges in ‘n 500 bladsye familiekroniek oor 500 jaar is kinderspeletjies in vergelyking met hierdie knoop. In elk geval, ek het haar in Augustus op ’n bokjol by Mopanie ontmoet.  Sy het pens en pooitjies op ‘n plastiekstoel met pyppote gesit.  Half uittartend en nonchalant het sy die bewegings voor haar gade geslaan en neusoptrekkerig en subtiel oor die fonds van die aand getuur. Die prentjie van ‘n melkwit sagte vel, ‘n knus glimlag en die verruklikheid van ‘n blommetjies-langrok het my nader gelok. Ek dink my check-crimpelene langbroek en swartgrys hemp met wit kolletjies het haar glimlag effens verdiep. Haar eerste woorde was sag, subtiel, spankelend en meelewend. Ja, Ouboet, die eerste val van haar tong was sag, soos rose op ‘n hemelbed. Die enorme lengteverskil het nie ons danspassies nadelig beïnvloed nie. Inteendeel, Kleintjie se totale prentjie van fyn vroulikheid het my rough edges getemper, en na ‘n dans of drie het ons soos meesters gedans en die two-step links- en regsom bemeester. Ek het haar daardie aand gekaap en net vir myself gevat, straks teen haar sin. By P&L kafee oorkant die straat het ek vir haar ‘n koeldrank gaan koop, waaraan sy die heel aand takties geteug het. By ‘n rekonstruksie van ‘n komplekse verlede sou ek graag wou glo dat sy met hierdie gebaar die aand takties wou uitrek.

Later die aand het ek vir haar my gebrekkige en halfvoltooide weergawe van Waltz in A flat van Brahms in die sitkamer oorkant die danssaal gaan speel. Somehow moes ek die girltjie oortuig dat ek nie die stoker was wat uit die single quarters geslip het en tydverdryf bokant my vermoëns kom soek het nie. Iets het daardie aand gewerk. Of dit Brahms, die legteverkil of wat ook al was, “who cares?” Eerste indrukke is blywend, so lui ‘n ou ou sprokie. Ek moet sê, ek kon die openingsoktawe van Waltz in A nogal mooi laat klink. Soos Rachmaninoff kan ek ook ‘n vyfvingerakkoord oor een-en-‘n-half oktaaf druk, uiteraard net meer onbeholpe en ook net hortend-enkelmalig. Ek vang haar dus toe met die eerste stukkie en diedaar, sy sien die foute in die res van die goedbedoelde halfvoltooide voordrag oor.  O ja, ek kon ook die slotgedeelte speel en ek onthou nog hoe ek ten besluite die note op die gepaste plekke so effens gerek om my eie onderliggende emosie te laat gedy. Die laaste noot van die ta-la-la-la-da was bykans onhoorbaar sag. Ja Ouboet, Waltz in A is nooit volledig gespeel nie, in elk geval nie voor die onluste nie. Cowboys don’t cry.