Die winde van verandering maak my erg teleurgesteld in die hedendaagse verwronge ideologie van “overdemocratisation”. Ons was genadeloos gewetter. Vandag se kinders word omhels.
Onderwyser XYZ het nie van omhelsing geweet nie. Hy was die eerste onderwyser wat die ou orde verbreek het en ‘n modeuse ligpershemp aangetrek het. Gekleurde hemde en bont breë dasse, meestal saam ‘n sellofaanbedekte boks verpak, was daardie tyd hoog in die mode. (Die woord boks is in die HAT opgeneem, blykbaar om verwarring te voorkom, aangesien die eens meer aanvaarbare en suiwerder sinoniem verwys na meer as net kartonhouers). Hy het ook loshande die hardste van al die onderwysers geslaan. Sy tamaai rottang was met rooi insulation tape toegedraai en het altyd op sy lessenaar gelê en loer vir die volgende oortreder. Sy passie was ongedoende of halfvoltooide huiswerk, of huiswerk wat voor skool by ‘n slimmer en vrygewige maat afgeskryf is. Ek het ‘n paar beurte gehad. Dit was die seerste seer wat ek ooit gekry het, en die seer wat ek seker die langste sal onthou. Twee was vir die normale “run of the mill oortredings” en drie vir meer ernstiges. Hy het ook altyd gevoel of jy nie dalk twee of meer broeke of onderbroeke aanhet nie. Indien dit wel die geval was, moes jy die surplus “padding” gaan uittrek. Houe is met lang tussenposes toegedien. Elke hou moes eers behoorlik “intrek.”
“Laat hy eers mooi intrek” was omtrent die enigste Afrikaanse woorde wat hy in die klas gebruik het. Na die toediening moes ons altyd “thank you sir” sê. In sulke toestande van ondraaglike pyn is dit vir my half onmoontlik om te praat. Ek het gewoonlik my asem ingetrek, die “thank you sir” half onhoorbaar en mompelend ingesuig en hoogs die moer in en in volle pyn gaan sit, ook net so half-half want jy kon nie mooi gesit kry nie. Die liewe Vader het hom die insig gegee om my vir die res van die periode uit te los. Hy kon seker die hoogs plofbare wraakgedagtes op my gesig lees. Hy kon in my strak gesig sien die “thank you sir” is eintlik “f… y.. you sir.” Nietemin, mens moet nooit die vergete deugde van die outokrasie onderskat nie.
Onlangse kommentare