Jy blaai in die argief vir 2013 Januarie.

My nuwe werkplek

Januarie 16, 2013 in Uncategorized

Uitsig van die stoepie van een van die twee klaskamers.

Na twee dae se skrop en Jik en Handy Andy was die klassie vandag silwerskoon en kindervriendelik.  Twintig kindertjies van Gr 1 tot 3.

Baie admin en uitdeel en organiseer en reels neerlê!

Sowat 20 km van die huis.  Die eerste 14 is teerpad en die res net stof en klippe, maar genade! die uitsig is HEMELS.  Ek gaan seker maak dat elke sielletjie hulle omgewing sal waardeer voor die einde van die kwartaal.  Die wingerde hang dragtig reg rondom die skooltjie.  Daar is geen werkers of hulpe nie.  Net die hoof en ek.  So die spreiers moet versit word, die toilette, die vuilgoed dromme en ALLES word self gedoen.

Hierdie skildery is nou sowat halfpad,  Dis die boonste regterkanse hoek.Een en half meter by een meter.  Nou, ja, hy sal moet wag tot na die kwartaal….al jeuk my vingers en die kwassies hang tonguit van lus.

Julle weet seker van ons weer.  Was 44 hier.  Sugtog!  Geen nat handdoek help nie.  Die lugverkoelers staak saam met die plaasarbeiders in die Boland.  Dit laat my  wonder of daar net plaaswerkers in die Boland is  (?)  Die res van die land se arbeiders verdien seker dan die R150 waaroor almal so op hol is, of hoe werk dit nou eintlik?

Ok, sien gou weer

 

Hoe dit gaan met die Loua’s

Januarie 9, 2013 in Uncategorized

Dit gaan ok dankie.

Die vakansie was die eerste een in baie baie jare wat ek nie voor die rekenaar hoef te gesit en beplan het nie, want ek is mos afgetree.

Vandag gehoor ek het ‘n kontrakpos by ‘n plaasskooltjie in die omgewing gekry.

Nou worry ek mos, maar toemaar, hierdie ouma se hande staan vir niks verkeerd nie.

Intussen het ek en klein Ezra dieper gebond.  Hy is nou versot op stories. Ouma moet vertel en vertel en oorvertel.  Sy gunsteling is Jan en die boontjierank.  Opgevertel, soek ek op You Tube en wraggies, daar is videos van al wat ‘n sprokie is.  Hy kan nou al self die muis bewimpel om die volgende een te kies.  Met die oorfone op, hinder die klank nie en ons kan met die dagtaak voortgaan.

O ja, skielik dink almal my keffie is 24/7 oop.  Ek het hard en duidelik my stem laat hoor, hoor my lied!.  My keffie maak sekere tye toe…HA!  Ek kan nie heeldag bedien en opruim om dan net weer te bedien nie.

Aan liewe, kosbare  Tina, my hart en gebede gaan uit na jou en ek hoop die besigheid gaan gou verby, sodat jy weer kan roomkoek na smaak.  xxx

Nou met die vooruitsigte van ‘n ekstra inkomstetjie, word daar deeglik beplan aan ‘n vakansie….vroegerig in April.  Ek gaan vir oulaas in Mosselbaai se see swem en, soos, Modderkoekie, gaan ek elke minuut en tree vooraf beplan.

Mag 2013 vir julle goed wees.

xx