Het pas met die laaste skrywe gese my moer het min gestrip in 2010, toe strip hy vanoggend vroeg hard en duidelik.
Waaroor sal ek nie hier uitblaker nie – dis effe te persoonlik.
Ek het Saterdag 6 (van 10) outydse saalstoele uitmekaar geskroef (onthou dat ek werklik verveeld was)…die plankies netjies afgeskuur. Maandag toe whitewash ek die spul en vanoggend het ek die staalrame se roes afgeskuur en toe vir ure en ure lank ge-metalic silwer met die kwas.
More sal ek die spul weer aanmekaarsit en op Ezra se stoep staanmaak, kamera gereed vir die groot oomblik.
Buurvrou het hoeka gisteroggend gese dat die ou hout-teetrollie wat ek vir haar gegee het, (omdat sy een gesoek het en ek onthou het daar le een iewers in die stoor) te veel werk is – sy gaan dit inneem en iemand anders gaan dit mooimaak….ek dink na die 6 stoele, nog net die orige 4 dan handsop ek ook….soos in vir ewig. Julle sal nie glo hoe pyn my ou hande nie.
Ok, nog iets.
Het vanmiddag besoekers gehad, nogal ‘n afspraak gemaak…twee ou skoliere en die ma. Die dogter het nou haar eerste pos in die onderwys en wou kom praat. Die seun het vandat hy in gr 3 by my was, gereeld Saterdae vir my kom help om ou meubels af te skuur….hy is nou
n pragtige jong man van 20. Die ma vertel toe hoe arm hulle daaityd was. Sy het saans vir aandete uie met suiker gebraai en op brood bedien, daar was net mooi fnkol anders om te eet.
Niemand het ooit van hulle behoeftes geweet nie.
Ek haal my hoed af vir ouers wat nie worry oor die self nie, en alles opoffer, solank die kinders kan gaan leer.
Die laaste iets:
Ezra raak slimmer by die dag. Hy het vanmiddag grond in ‘n emmer water gegooi, en elke keer as die klont die water getref het, het hy vir homself hande geklap….toe keer hy die emmer op sy kop om. Ek moes die klonte uit sy mond en neus grawe – weet nie wie die grootste geskrik het nie, hy of ek.
Hy het toe vandag geleer om nie ‘n emmer grondwater oor sy kop om te keer nie.
En die heel laaste iets:
My hoof bel my vanoggend. Hy se ek moet se wat hy op die muur kan laat sit wat ek moet uitdink. Soos in ‘n slagspreuk of iets…..hy gee my 10 min. Ek dink toe diep. Bel hom toe met die een:
“As jou gewete skoon is maak dit nie saak as jou poephol stink nie”
Hy bars uit van die lag. Nee, se hy. Dit kan nie wees nie. Ok, se ek. Maak dit dan maar “maak dit nie saak as jou hande vuil is nie”
Nou ja, mag julle met suiwer gewetes die nag ingaan – nevermaaind of die poepol of die hande vuil is nie!
Onlangse kommentare