Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

DIE DAL RITTEL

Oktober 30, 2009 in Sonder kategorie

Dis NOU RITTELFEES (alweer) op Vredendal.

Ek ry van die skool af huistoe vanmiddag, en ek moet actually by die enigste stopstraat stop!

Die verkeer was so hewig, ek moes 5min wag om in te draai.

Dit laat my toe dink aan die slag wat die Gr 3’s SOS-kamp toe gegaan het, naby Villiersdorp.

Die Vrydagmiddag is ons op die N1 oppad terug.  Nooit gedink aan die Rittelfees en die verkeer nie.

Ons het op Porterville by ‘n keffie gestop, want die kinders wat nog sakgeld oorgehad het MOES dit daar spandeer.

Net na Clanwilliam begin die moeilikheid.  Ek bestuur ons skool se bussie, en die moeilikste seun sit langs my.  Hy het klappers gekoop…die ander koejawelsap.

Terwyl ek konsentreer om die bloedjies veilig tuis te kry, gooi hy dit op die kinders agter in die bus.  Dan klap die goed, en die kinders GIL en ek belowe hom dat hy wel sy einde bereik het. As ek weer hoor, gil die spul weer…. dis toe dat ek so ‘n nattigheid oor my rug, gepaardgaande met ‘n onsmaaklike aroma, ervaar. 

Koejawelsapkots!!

Intussen is die verkeer bumper teen bumper, oor berg en dal.  Die kinders gil, die stoute gooi klappers, en die kotsters kots….GAOS!!

Intussen lui my selfoon aanhoudend.  Ouers wat wil weet waar ons ry, of dit nog goed gaan en hoe laat hulle hulle kindertjies kan kom haal.

Toe ek uiteindelik by die skool stop, gooi ek die deur oop, bel my Hartman om my te kom haal.

Los die spul net daar – bekotste bus en al,

en bars in trane uit.

PS:

Ek is nou nog nie OUMA nie!!


Ek hou my selfoon teen my hart  – verstaan julle?






Nog ‘n embarrassing moment…nie myne nie!

Oktober 28, 2009 in Sonder kategorie

My vorige storie en Jan Twak se kommentaar het my laat dink aan ‘n kollega destyds op Villiersdorp.

Sy het gereeld haar gyni op Hermanus besoek. Sy besluit toe later dat sy eerder Worcester toe sal gaan, want dis effe nader.  Sy dring daarop aan om ‘n ouer dr te sien.  Die ontvangsdame se die dr is ouerig.  Sy maak toe die afspraak.  Word hartlik verwelkom en begelei na die spreekkamer. Die dr kom in, sy snak na haar asem en haar moed begewe haar, die dr lyk toe glad nie ouerig nie. Sy weier om ondersoek te word.

Die dr kalmeer haar. Se sy moet sit en se wat haar probleem dan is.  As sy dan ouer dokters verkies moet sy maar by die een op Hermanus bly.

Haar antwoord:

Sien dr, daai dr op Hermanus is nou net te oud.  Hy het ‘n torch in die een hand en ‘n vergrootglas in die ander……en ek vrees dat hy sy balans kan verloor as hy nader kom.

Die dr het uitgebars van die lag en die ontvangsdame het ingehol gekom om te sien wat aangaan…

MK, die huis se dak is op!  Die dak van die bestaande gebou is ook vervang.  Sal more foto’s plaas as bewys. Hulle het laas Donderdag begin bou.  Dis amazing!  

Die kleinseun sal blykbaar nou Saterdag 31 Oktober arriveer – se die wat weet.

Sy, die draer van die kleinkind, is belet om verder te werk. . . en sy hou niks van die idee nie.  Sy is seker soos haar ma. Hou nie van interference met daaglikse roetiene nie.  (Lekke natte vir haar!) Volgende week die tyd sit ek met ‘n baba in my arms.  Moet se ek is net so vrek bang.  Ag toggie, mag dit net vinnig en goed afloop.

l




Most embarrassing moment – (getag deur Kelly)

Oktober 26, 2009 in Sonder kategorie

Jarrrre gelede moes ons na ‘n buurdorp toe ry om ‘n tandarts te sien.

Ek doen so (ek gaan net as ek geen ander keuse het nie)

Die tandarts rim my tuitbekkie oop en loer.

Se hy die tand moet uit.

Gelukkig is dit agter, en ek se “go for it”

(As jou regterhand jou pla, kap jy hom mos af)

Na sowat ‘n week is die gat redelik genees, maar ‘n stuk tand steek so aan die kant uit.

Ek dog toe ek gaan sommer die plaaslik dokter sien….die besigheid is lastig.

Dames, ‘n mooie man, glo my.

Ek, skaam, blosend, sit op die bedjie in die spreekkamer, my regterbeen oorkruis en die linkervoet op die steppie waarmee mens moet opklim.  Hy staan wydsbeen oor my bene om beter te kan sien, loer, kry ‘n tweezer en pluk aan die tand, die ding is lewendig en die senuwees spring, my regterbeen reageer onwillekeurig en ek tref die mooie man right between the lexington!!  

Van toe af ry ek na die buurdorp as ek ‘n dokter nodig het…..

MAANKIND, JY IS GETAG.




 

Huisbou update

Oktober 24, 2009 in Sonder kategorie


Die voorste hond is Nikita, die bouvier (?) Hartman se skaduwee.

Agter haar is Blompot, die airdale (?) Die draer se skaduwee.

Altwee die dames se hare is netjies gekap vir die hitte.

Ons het regtig nie hardop gelag vir hoe hulle lyk nie – hulle is sensitiewe dames.


Die huisie word vergroot….

 Die agterste deel is die sitkamer wat uitloop na die braaiarea regs.

Die slaapkamer en badkamer.

Ons huis is agter die wit muur en die wildevy.

Lekker naby vir ouma.


Die ouma verjaar more.  My suster en haar fam bring my ma (87) saam.

Dit hoor ek eers vanoggend, en ek is verheug / gespanne / opgewonde.

Hoop die etery loop goed af.



NUUS OOR DIE BOUERY EN DIE VRIENDIN

Oktober 23, 2009 in Sonder kategorie

Ek het foto’s van die bouery, maar die “upload file” se uurglasie hang net daar – miskien more.

Anyway, die bouers het Dinsdagmiddag eers gesig gewys.  Die fondasies gegooi, en toe waai hulle weer. Woensdagmiddag fondasies opgebou en vloer gegooi, toe waai hulle weer.  Vandag, toe ek van die skool af kom is die mure vensterhoogte gebou…die deurkosyne netjies in plek.

Nou raak ons opgewonde – verstaan julle?

Die draer van die kleinkind en die engelsman se toe ons moet sommer ons Vrydagaandtjoppie op hulle vuur kom gooi.  Ek is MOEG en swaarmoedig en het nie lus vir praat en party nie.  Sy vra kort-kort wat fout is.  Ek se ek weet nie.  More is Saterdag en soos altyd kom my “vriendin” (sien onlangse skrywe) om 12u middag ‘n draaitjie maak.  Dan chat ons oor ‘n glasie op die stoep. Ek wonder of sy gaan opdaag. Het nog nie weer ‘n woord van haar gehoor nie.

My mense weet van die probleem en hulle het haar toe al afgeskryf.  

Se die engelsman:

“Daai vrou sal opdaag.  Sy’s dikgevel. Sy’s mos engels!”

Net daar bars ek uit van die lag.  Ek sal hom maar later van tyd reghelp met die regte woord. Geniet nog die braafheid van hom om afrikaans so mooi te praat…

MERIETE-AAND

Oktober 22, 2009 in Sonder kategorie

Dis verby en overskedovers, dankie tog.

Die kinders was netjies en soeterig, maar  het later woelig geword.

Die lang sit is nie vir sissies nie.

Ek sal NIE erken dat ek, amper ouma, na soveel jarrrrre, tetris op my selfoon gespeel het nie!!

SKANDE!!  Ek chat darem nie op my foon nie, rerig!  Neem die ding nooit saam nie, en vannaand ontdek ek dit in my sakkie en ek dog……hmmmmm, hoe anders gaan ek die tyd omkry.

Dis vir my vrek moeilik om te sit en niks te doen nie. Die ding het begin toe ek begin wonder het hoe laat dit is.  Soek my horlosie in die handsak en dog toe, ek loer gou op die foon.  Eers het ek die presiese tyd gecheck vir hoe lank dit neem per graad om bekers te oorhandig, toe glip my vinger en skielik is daar ‘n opsie vir games….kon dit nie weerstaan nie,

Sorry!




TROTS OP MYSELF

Oktober 21, 2009 in Sonder kategorie

Het vandag my bekkie styf toegehou, uitgestap.

Is beskuldig van dinge wat ek flipall van weet nie.

Doen navorsing

(Pst..vir die onnies hier, watter uitkoms het ek bereik?  LU?  AS ?)

😀

Anyway, het sopas ‘n brief  aan die persoon geskryf.

Dankie vir google en my toebek tydens..

Niemand hoef meer my fighting spirit en my IK te betwyfel nie.

Ek het net tyd nodig om af te koel en te dink.

Sommige mense fight net daar en dan.  Ek is te oorweldig deur gedagtes dat ek gewoonlik stomgeslaan is.

Dit was ‘n private fight en het niks met die skool te doen nie.

Dis aaklig as ‘n vriendin jou wantrou.



VIR GHARKI

Oktober 21, 2009 in Sonder kategorie

Gharki het gevra vir een van my dogter se figuurskilderye.

Ek het die foto destyds geneem voor dit aan die eienaar  gepos is.

Dis drie panele – die kleure is vir ‘n spesifieke kamer deur die eienaar gekies.

Sy het ‘n foto van haarself gebruik om die figuur reg te kry.



Dis (blykbaar) nie maklik om volgens voorskrifte kreatief te wees nie.

Mini-krieket

Oktober 18, 2009 in Sonder kategorie

So lyk dit as 36 spanne gelyk mini-kireket speel.

Seuns en dogters 0/9  en dogters 0/13

Die veld wemel van balle en bene.

 

Net gou spog met die “pawiljoen”

Gebou met die sportdag se fondsinsameling en BAIE hulp van sekere ouers.

Voorheen was dit ‘n grondwal.  Nou moet die nuwe bome net vinnig groei vir skaduwee.

DAGBOEK OP DATUM

Oktober 15, 2009 in Sonder kategorie

Nuus tot dusver:

Leesboeke: Was vandag by ‘n boekebekendstellingbesigheid.

Het toe besluit op ‘n nuwe leesreeks vir die Grondslagfase.

Koste: R17000.00

Ek is seker ons sal dit teen +/- R10000.00 kan kry as ons hier en daar sny.

Gaan dit volgende Donderdag by die Begrotingsvergadering voorle – so hou maar duimvas.

Ezra:  Die gini se Dinsdag die draer hoef nie weer ‘n afspraak te maak nie. (Dis 2 weke voor die verwagte tyd.) Sy sien die draer oor 2weke in die hospitaal. SKOK!  GROOT!  Die draer like van preggy wees en wil net uitstel. Die draer se ma dring daarop aan dat die tassie die naweek gereed MOET wees…or else – pak ek dit self!  (Dalkies kom Ezra op my B-day – 25ste!)  Hou duim vas en hoop saam    SAMBLIEF.

Bouery:  Die fondasies is gegrou.  Die bouers val Maandag in (3 spanne) Hulle se hulle sal maklik volgende Vrydag klaarwees.  Intussen is die kamer(s) hier vir die baba en die ma en die Engelsman reg – net vir incase.  One never knows.

Aandete:  Hartman het die heerlikste, smaaklikste pasteding gemaak.  Geen keffie of restourant sal kan meeding nie!

Saterdag 17de:  Mini-krieket – nou 36 spanne.  Kosstalletjies is beplan.  Ek is vrygestel van diens, gaan die Meriete-aand se sertifikate print en lamineer.  Dis Donderdagaand 15de.  Verhoog moet opgejazz word en bekers gepolish ens. 17:00 Vredendal toe met die hele fam om vir Angus Buchan te hoor. Verwag 25duisend mense daar.  Gaan beslis ‘n hoogtepunt wees.  Na Angus gaan ons by ‘n steakhouse eet. Die hele fam deur my genooi – (het mos vandag bonus gekry.)

Meriete-aand:  Die program is klaar getik. (25 folio’s) Nou nog net die sertifikate – is al soort van klaar. Print, proeflees, en walllaaaaa!  Klaar. (sug van dankbaarheid)

FIGHT:   As die skrywe te lank is, sorry.  Lees ASB die een.  Stap na 2de pouse agter my klas – moeg en stadig.  Hoor ‘n helse lawaai.  Staan in die deur.  Wat my oe sien kan my brein en lyf nie absorbeer nie.  Dink ek sterf net daar.  Bloed klop in kop. Bene lam. Snak na asem (Ek’s ‘n dramaqueen en kleur graag met koki’s in)   Anyway, een seuntjie is besig om ‘n ander een met sy een arm te wurg. Die ander arm druk sy ken op. Hy kyk my in die oe, trip die ander een dat hy oor die bank val, skop hom moertoe terwyl hy weet ek sien.  Sy gesig is onherkenbaar.  Sy wenkbroue diep oor die oe.  Een dogtertjie huil. Een storm op my af, gryp my en se:  Juffrou, hy is “EVIL”  Punt is: Ek is self BANG vir die kind.  Ek weet nie wat more gaan bring en hoe ek dit gaan hanteer nie. Voel magteloos…. Stuur die aanvaller uit.  ‘n Ander juffrou hoor die lawaai en stap gangaf. Kry die kind en vra kalm wat gaan aan. Ek hoor hy se: “Juffrou, ek weet nie, ek wou hom nie seermaak nie, hy is dan my goeie pel…help asb!”  Die een wat geboelie is het ‘n geweldige blou-rooi knop en skaafplek op sy been toe hy oor die bank geval het.  Moerse knop op sy kop en snak na asem. Hy het na my toe gekruip vir hulp. Ek het in my 35 jaar nog nooit so iets beleef nie.

Konsert:  Konsert is fyn beplan en uitgewerk.  Begin Maandag oefen.  Kinders is opgewonde en help met die stukke en het bokse vol planne.  Klink so lekker…as dit net nie vir al die ander goeters was nie.  Sal maar moet inspring en rondspring.

Take:  Het tussen Binnelanders en Egolie 3 take nagesien. Gelukkig is dit net Gr 3’s. Maklik!  (Nie soos DroomKind wat duisende Engelse opstelle moet nasien nie.)

So, daar is my dagboek nou op datum.  Die ander dinge is te minderwaardig om te noem.  My hart en kop is leeg.

Lekker slaap en koebaai vir eers.