Prentjieparade
Julie 30, 2010 in Sonder kategorie
Pruimtwak het my sopas laat dink
dat ek darem baie daarvan sal hou
as die bloggers wat ek graag lees se prentjies so in ‘n ry
voor my neergesit kan word
en dan raai ek wie is wie…
Veel veel beter tydverdryf as debiete en krediete en dinge so op ‘n Vrydag agtermiddag.
En ek wil nog skryf van die mier
wat ek ingedagte doodgedruk het
(en agterna oor spyt was)
toe hy oor die verdorde en bekrapte blad van die pragtig geelhouttafel
in die munisipale kantoor voor my verbylgeloop het
want ek was ingedagte en ontstem oor die gordyne wat net aan elke 10e hakie hang
en oor die verwaarloosde houtblad voor my
(wat my aan die kwesbare benerigheid van mense wat eens met gloeiende entoesiasme geleef het en nou in rolstoele in ouetehuise verskif laat dink het)
en oor die prestikgeplakte papiere teen die mure
wat so heeltemal onvanpas vir ‘n raadsaal is
en oor die man wat nie opgedaag het vir die poging tot rekonsiliasie nie
en toe loop die mier oor na my kant toe
en ek druk hom dood
pleks dat ek hom laat lewe het
want hy is opreg besig met dit wat hy moet doen – om te mier
terwyl alles anders in die vertrek in ‘n ander staat is as wat dit behoort te wees.
so, maak my dag en stuur vir my kiekies
regtes en verkeerdes sodat ek kan raai en bly wonder
wie is wie en of die mier verdien het om te sterf.
Onlangse kommentare