Nanag
Junie 16, 2010 in Sonder kategorie
In hierdie nanag, terwyl ek worstel, dink ek aan oom XYZ.
Oom,
Ek kon nog nooit jou beeld losmaak van die gerug wat oor jou die rondte gedoen het nie, (vergewe my).
En ek wonder hoeveel ander kon.
En ek wonder of dit nie my eie onvermoe om jou ooit los te kon sien van die beweringe wat rondom jou voorkeure en plesiere gehang het is, wat maak dat ek vannag nie kan slaap nie.
Dalk as ek jou beeld vir my kon losmaak, van daardie stories wat oor jou gefluister is, sou ek kon glo dat dit moontlik is vir ‘n gemeenskap om te vergeet en te vergewe en lief te he en te laat lewe.
Maar nou kon ek nie.
In die kerk het ek oor jou gewonder. En in stille hoogmoed my hart van jou afgewend.
Later, toe jy ons oor en oor bedank het vir ‘n weldaad aan jou bewys,
en jy trane van aandoening uit die hoeke van jou oe gevee het,
het ek jou hand gedruk, en geglimlag en jou verseker dat jy dit ook sou doen vir ons,
maar binne my het dit nie verander aan die beeld van jou in my nie.
En as ek soms verby jou voormalige woning ry, is dit wat in my opkom: Jou beweerde skande.
Nie enige goeie daad, of edel motief, of enige iets noemenswaardig anders wat jy ooit in jou lewe bereik het nie.
En van jou was dit maar beweringe.
Waarom sal dit in hierdie geval dan anders wees? (Al is dit heel anders).
As ek vir jou dit nie kon doen nie – waarom sou ek dit vir ‘n ander kon.
As ek jou nooit kon vergewe nie (selfs nie van beweringe nie) hoe sal ek dan feite kan?
Of is dit die ding wat my laat rondrol.
Die hoogmoed en die trots.
Wat ‘n dik dik muur om hierdie binnekant bou.
En isoleer.
Dalk sien ek my in elke handdruk. Elke glimlag. Elke vertroostende woord. Elke tentatiewe uitreik, en versigtige naderkom. En daarom bly ek isoleer.
Omdat ek nie kan vergeet hoe ek jou hand kon druk, terwyl in my binnekant jou beeld onveranderlik gebly het nie.
Onlangse kommentare