In hierdie lewe, het ek gevind, is daar maar min wat werklik die pad saam met jou kan stap. Is daar maar min wat in die aangesig van die onnoembare nie wankel en op die vlug slaan nie…
Dis donners sad.
En alleen. Soms.
En jy, my lief, wat die mees intieme kennis het, wat die naaste aan my is, en die naaste is aan jou: Jy slaan op die vlug. In emosie wat wissel van frustrasie tot agressie (is dit ‘n emosie?) tot enige iets wat die herinnering sal afweer en weghou van jou bewussyn. (Hoe sou ek reageer as ek jy was?)
Dit laat my in ‘n verknorsing, my lief. Want as ek nie met jou kan praat nie, met wie kan ek? Vriendin sal ek nie weer oorweeg nie. Die kennis was vir haar te swaar. Selfs sy, wat naas jou my naaste is, kon dit nie hanteer nie. Kon nie daar wees vir my sonder om my te belas met haar eie reaksie waaraan ek nou ook moet wurg nie. Predikant en Psigiater se dis verby. Jesus het dit op Hom geneem. En Hy het. (Jy weet ek sou self nie die vrag kon dra nie, en vergifnis sou so ver buite my bereik wees as die son en die maan van die aarde. En sonder om te vergewe sou ek seker nou van vergiftiging besig wees om te sterf).
Ek is gefrustreerd in hierdie onmag om die wete wat hier diep binne le – tsv vrypraak aan die skuldiges, tsv dis verby, tsv alles – met iemand te kan deel. Om net soms ‘n lewende siel naby my te he wat sal bly staan. Wat by my sal bly terwyl ek in God se teenwoordigheid net soms myself sal toelaat om direk daarna te kyk en te verwys, en te ween en te huil en die diep verborge pyn lug gee.
En dalk sal ek dan minder sinies wees oor liefde. Oor viendskap. En oor Christenskap.
Want ek moet in hierdie lewe dit nog ontdek. Liefde wat werklik vir jou daar is. Vriendskap wat alle winde kan trotseer. En Christene wat doen wat hulle beweer.
Sal ek dit waag om iemand weer hiermee te vertrou.
Ek glo nie – ek dink ek voel na skree en skree totdat God self my antwoord en my troos.
En jy my lief. Hoe sal ek ooit weet hoe dit vir jou is. Die tyd van rou emosie en belydenis vir jou is verby. Jy slaap salig en dolgraag onbewus. En al deel ons andersins alles is alles onbelangrik as ek hierdie wat my kern menswees raak, nie meer met jou kan deel nie.
Jesus, help my. Want my voete voel na gly.
Onlangse kommentare