Na drie konstante dae in mekaar se gesleskap, ken ek en my handsak mekaar se swakpunte. Weet ons presies hoe onversoenbaar ons is. Om die waarheid te se, ek dink die verhouding het bo alle redelike twyfel onherstelbaar verbrokkel.
Dis nie dat hy vir my lelik is nie – hy het immers my oog daai eerste dag op so manier gevang dat ek impulsief my kredietkaart uitgehaal het met die bedoeling om ‘n lang en gelukkige verhouding aan te knoop.
Die eerste dae was hemels. Hy was vir my mooi, sag onder my vingers, sy lyf het na leer geruik. Ons het stil en gelukkig na mekaar gekyk. Dit het goed gegaan met ons. Net die naby aan mekaar wees was genoeg. Ek het uitgesien na ons eerste afspraak, opgewonde gedroom oor hoe hy my gaan laat voel en lyk, en hoe maklik hy al my dinge in hom sal ronddra.
Die eerste oomblikke alleen saam was vreemd en nuut en opwindend. Ons moes mekaar se lywe leerken, en uitsorteer wie waar wil wees en wat waar moet inkom.
En toe die drie dae wegbreek – byna net ek en hy.
Ek kan baie klein dingetjies opnoem wat my teen dag twee grensloos begin irriteer het. My ma het my egter reeds op laerskool geleer om nooit uit ‘n verhouding te stap met verbittering in jou hart nie. Altyd iets om te leer uit elke ervaring. En om nooit ooit die ander persoon sleg te maak nie – dit was immers jou keuse.
Ek het te oppervalakkig gekyk. Ek het te vinnig in die verhouding ingestap. Impulsief en onoordeelkundig.
En nou kan ek niks doen behalwe om te se ek is jammer nie. Ek kan nie bly nie. Ons is nie goed vir mekaar nie, en op die lang duur gaan ons albei skade opdoen.
Ek sal net die nodigste neem. Ek weet jy gaan iemand anders baie gelukkig maak. Ek is nie reg vir jou nie.
Ek is regtig jammer – ek weet dit maak niks beter nie – maar dis al wat ek kan aanbied.
Vergewe my, asseblief.
Onlangse kommentare