by Latino

Heeeelp!

Februarie 20, 2013 in Uncategorized

Help my asse – baie – blief. My 100mb vir my foto’s is vol. Soos almal weet, is my blog nie veel werd, sonder foto´s nie. Ek moet dus ´n nuwe blog begin en dit is daar waar die probleem sy kop uitsteek. Met hulp van Tina, het ek nou baie dinge probeer, maar daardie nuwe blog kry ek nie oopgemaak nie.

Ek het ´n kommentaar gelos by die webmeester se blog, om hulp te vra, maar dit het verdwyn. Van daardie kant, dus geen hulp nie. Zeppie, as jy dalk tyd het, asseblief. Ek het alles probeer, maar elke keer is daar ´n probleem met die nuwe een en ek het uitgelog by die oue.

Bo aan die blogblad, is daar die getal blaaie met blogs, maar as ek op die vorige blaaie kliek, gebeur daar niks. Ondervind julle dit ook so.

Hasta la proxima.

by Latino

Expoagro 2013

Februarie 16, 2013 in Uncategorized

Die Argentino´s is baie besig. Nie net met hulle politiek om Christina Fernandez de Kirchner nie, maar ook die betrokkenes by die Agroexpo van 2013. By La Flamenca , kilometer 121, op die hoofweg van Buenos Aires na Rosario, vind dié groot uitstalling van alles en nog meer omtrent die landbou vanjaar plaas. Die datum is die 5e – 8e Maart.

Wat hierdie expo uitsonderlik maak, is dat dit elke jaar op ´n ander plek aangebied word, dus geen permanente konstruksie wat die res van die jaar in onbruik is nie. Beplanning moet baie goed wees, om almal betyds te akkomodeer, veral vir die saad en kunsmis maatskappye wat op elkeen se stanplaas, hul produkte moet plant om op hul beste te wees vir die duur van die expo. Vir ongeveer duisend uitstallers, moet daar voorsiening gemaak word. Natuurlik sal elke besoeker, weer met ´n sak loop met al wat pamflet is, van dit wat hom interesseer. Masjienerie word staties uitgestal en daar is aanplantings van elke moontlike gewas, waar die masjiene ook hul slag kan wys. Diere van alle rasse, word ook gedemonstreer, met ´n veiling aan die einde van sommige van die diere. Lesings word deurlopend oor elke moontlike onderwerp, wat op die landbou van toepassing is, aangebied.

 

Die kompetisies van professionele draadmakers en kettingsaagoperateurs is baie gewild om te aanskou.

Dié mense wat al die Nampo oesdae bygewoon het, sal ´n idee hê van wat hier gaan gebeur. Hierdie foto’s is van die 2012 geleentheid.

Wonder of Zane Kirchner dalk familie van Christina is?

Hasta la proxima.

by Latino

Drie en Tagtig

Februarie 13, 2013 in Uncategorized

´n Dag voor sy verjaarsdag, die 8e Februarie, hou die ou buurman hier stil. Der Buben (ek sukkel nog om daardie woord vir seuns te glo) het besluit om Saterdagaand ´n braai te hou, julle is genooi. Baie dankie, Onkel Paul, ons sal daar wees. Dit is 83, nie waar nie? Ja, voel soos verlede jaar wat ons die 80e, gevier het. Die tyd staan nie stil nie. http://blogs.litnet.co.za/latino/2010/02/12/pablo/

Verskoon, weet nie of die foto´s van die skakel gesien kan word nie.

Saterdagaand, gesellig. Die vriende wat hy graag wou nooi, is daar. Paul Escher, een van die groot staatmakers van die gemeenskap, is 83. Gaaf dat die seuns besluit het dit moet gevier word. Wie weet van volgende jaar? Met die tagtigste was Monica nog daar. Skaars in haar vyftigs.

Die twee seuns (Buben) Horst en Claus, en van die kleinseuns is besig om te sien dat al die gaste genoeg te drinke, bier en caipiriña, het en dat die vleis; bees, skaap, vark en vis, natuurlik, goed gebraai word, genoeg slaaie. Nagereg, Duitse koeke en koffie. Siglinde Scheiber, lewer haar gereelde, by sulke geleenthede, ode aan die Geburtstagskint. Dan word die sangboeke uitgehaal en heerlik saamgesing. Sommige liedjies bekend, wat hulle natuurlik by ons gekry het, ander minder bekend en sommige bietjie onder die belt. Haal my hoed af vir hulle, wat na soveel jaar in die vreemde, nog steeds daarmee volhard.

´n Aangename aand om saam met ´n ou yster te vier.

Hasta la proxima.

by Latino

Die Wolk

Februarie 9, 2013 in Uncategorized

Vroegoggend, windstil, wolkloos. Humiditeit hoog. Sweet, sonder om veel te doen. Omtrent teetyd, ja ons drink nog tee of koffie en nié tereré nie, verskyn hy bokant die berg. Baie kleiner as ´n man se hand. Eerder ´n vet babahandjie, ´n vuisie. Hy swel soos brooddeeg met ´n goeie suurdeeg, iewers in die pan, in ´n sonhoekie. Al groter en hy bly net daar staan.

Ongeveer twee uur later, hoor ons die donder en sien die weerlig wat aarde toe hardloop. Begin met so ´n vaalte onder hom. Steeds net daar waar hy begin het. Bokant die berg deel hy in twee , maak hy die venster. Reën sterk weerskante daaevan. ´n Bui wat kwaaivriendskap tuseen bure kan laat ontstaan. Ons derde buurman in die Suid-Oos Vrystaat, oom Herman, se plaas sou onder daardie venster wees. Was altyd baie verontwaardig én kwaad, as iemand een millimeter meer reën as hy sou kry en hy het gereeld beduie van die venster wat net daar bokant hulle was.

Een van daardie wolke wat hom leeg reën, net daar waar hy hang en die digte wolkmassa vervaag tot nie veel meer as ´n vlieswolk nie. Daardie wolk was vir ons net reg geleë, normaal, sou hy tot by ons kom. Gelukkig verskyn die koolkoppe van die volgende geleentheid, reeds daar agter die berg, vannag, vannag…….?

Die weer bly onvoorspelbaar.

Hasta la proxima

by Latino

Karnaval 2013

Februarie 5, 2013 in Uncategorized

 

Februarie is karnaval maand. Seker die warmste maand, waarom weet ek nie. Drie Saterdagnagte, na mekaar, word ons naaste groot dorp, Villarrica, ´n miernes van bedrywighede. Op hoë hakke, nie veel meer nie, boude wat swaai, kleurvolle volstruisveer gedoentes, beweeg hulle die straat af. Ritmies op die sambamaat van die dromme, wat oorverdowend die pas aangee.

 

Heelwat meer mans vanjaar wat ook deelneem. Selfs ´n paar Duitsers in tradisonele drag en met umpamusiek as begeleiding. Klein meisietjies, sommige net op die sierwaens, wat op die maat van die musiek beweeg. Meer volwasse dames, wat hulle langrokke, met draaie laat bol. Op meer gemaklike skoeisel. Irriterend die kultuur, om almal met skuim, te bespuit.

 

Die eerste Saterdagnag, eintlik die kleedrepetisie, het die weer saamgespeel en die sweet vryelik laat vloei. Bly vir my nog ´n raaisel hoe hulle so kan beweeg, op daardie hakke en niemand val ooit nie.

Hasta la proxima.

by Latino

Oorvloed

Februarie 3, 2013 in Uncategorized

Die seisoene kan hier maklik bepaal word deur die vrugte, wat oral te koop aangebied word. Sitrus in die herfs en winter. Lukwarte in die lente. Pynappels, waatlemoene en spanspekke, mid-somer en nou mangoes en koejawels. Piesangs die hele jaar. Snaaks, die plaaslike inwoners het nie ´n groot liefde vir papajas nie, volgens baie te soet? ´n Oorvloed soms, tot vermorsing toe.

Ons plek is effe te koud vir heelwat van die sub-tropiese vrugte. Half in ´n vlei, naby ´n waterstroompie. My pa het destyds gesê, soek vir jou ´n plek waar daar water is. Hier is gelukkig genoeg daarvan, maar die prys is nou meer ryp, as op baie ander plekke, wat maak dit te koud is vir daardie vrugte. Gelukkig is daar vriende wat hulle “ontferm” en is daar gereeld genoeg van alles.

Die afgelope week, ´n klomp mango´s gekry, te veel om te eet en moes ons verwerk.

Die lekkerste van lekker vrugte. Groot, te veel om een alleen baas te raak. Veredel, soos die Duitsers sê. Omtrent geen hare meer nie, maklik om te skil en die vleis af te sny, natuurlik moet die pit nog oor die wasbak skoon geeet word. Konfyt, blatjang, sap, gevries, gedroog en ´n roomys. Die vleis van 4 mango´s, versap met ´n koppie stroop en eetlepel suurlemoensap, goed geroer en gevries. Met room, vla of kondensmelk. Baie, baie lekker.

Om te droog, nie so maklik as die klimaat nie saamspeel nie. Met ons hoë lugvogtigheid, is hulle geneig om swart te word, as daar nie ten minste 3 droeë, baie warm dae is nie.

Dit is ´n baie goeie mango jaar.

Hasta la proxima

by Latino

Arroz

Januarie 29, 2013 in Uncategorized

Oryza sativa is ´n gereelde deel van ons spyskaart, soos seker op die meeste tafels. Sergio, die plaasbestuurder sê hulle verbou die variëteite Guri en Puitá. 1000+ hektaar van goeie kwaliteit rys, langs die Tebicuaryrivier.

Pas gestroop in massakar

Langs die meeste van die groterige riviere in die omgewing, is daar laagliggende gedeeltes, gelyk soos ´n tafel, wat ideaal vir die verbouing van rys is. Omdat die riviere nie hoë walle het nie, beteken dit dat water nie hoog gepomp hoef te word nie. Baie water is noodsaaklik, groot kanale vol daarvan. Vroeër was dit nie ideale beesveld nie, as gevolg van die moerasagtigheid, nou hoogs produktief.

Die stropery is in volle gang. Die “Argentino” van Bottrell se oes word ingesamel. Trekkers met massakarre wat moet roer en die twee stropers word in die ry, leeggemaak. Net die dou snags, maak dat daar tyd vir rus is. 12 jaar is hulle al aan die gang. Die beste planttyd is Oktober-November, maar aangesien hulle so ´n groot oppervlakte het, begin die plantery al in September en duur tot in Januarie. Kunsmis word met planttyd toegedien en stikstof per vliegtuig. Opbrengs wissel tussen 5000 en 5500 kg per hektaar.

Die helfte van die wêreld se stapelvoedsel is rys, die toekoms van hierdie hardwerkende mense is verseker.

Hasta la proxima.

by Latino

Taai Vleis

Januarie 15, 2013 in Uncategorized

Hierdie is nie eintlik ´n lekker kos storie nie, maar Sondag was dit finaal. Biefstuk sal ons nie weer hier eet nie, of eerder koop nie. Hierdie Seboevleis is nie gemaak vir ou mense met stomp eie tande nie, veral ook nie as jy ´n slukprobleem het nie. Met die smaak is niks verkeerd nie, maar ek word sommer hartseer as ek dink aan al die kou en kou en kou. As ek nie 100% seker is dat dit van ´n mooi Angus of enige ander Britse of Europese ras kom nie, los ek dit maar vir die onkundiges oor hoe sag vleis kan wees.

Ek dink nie hierdie mense, wat meesal net van die Neloretipe bees eet, weet nie hoe voel dit om sagte beesvleis te eet nie. Weet nie of dit by hulle slagproses is nie en of dit bloot net die ras is nie. Verlede week eet ons ietsie by een van die plaaslike eetplekke en sê die Duitser dat daar ´n dag of wat vantevore iemand was wat gesê het dat die vleis té sag is! Kan jy dit nou glo? Volgens hom, het hulle nou die geheim om vleis sag te kry, natuurlik ´n geheim. Ek sal maar verby hou, vleis wat so vreeslik gemarineer is, smaak nie meer na vleis nie.

Nie lank gelede nie, was ek hier baie opgewerk oor die EU se verwaandheid om net beesvleis, wat gesertifiseer is dat hulle 50 % of meer Britse- of Europese ras bloed in hulle het, toegelaat sal word om daarheen uitgevoer te word, maar nou ondersteun ek hulle heeltemal.

In die toekoms sal ons maar hou by vark, skaap en hoender en as dit by bees kom, stert en tong, wat altyd sag is, en af en toe ´n lekker skof.  Tog is ek baie dankbaar dat ek so bevoorreg is om al hierdie te eet, terwyl baie mense wat sou wou gee,  vir net ´n stukkie taai vleis.

Hasta la proxima.

by Latino

Help asseblief!

Januarie 10, 2013 in Uncategorized

Kan iemand my help met die onnoselgeit.  Vroeër kon ek op my argief ingaan, maar nou kan ek dit nie meer doen nie. Hoe gemaak?  Asseblief.  By voorbaat dank!

by Latino

Cupin

Januarie 4, 2013 in Uncategorized

Dit was na die swaarkry van die depressie en die oorlogsjare. Die ou oom het gereeld díe woorde deel van sy tafelgebed gemaak, wanneer die tafels gekreun het onder die kos, soos met die feestye en verjaarsdag byeenkomste:” O, Heer, bewaar ons van die overdaad”. Of dit regtig ´n rol gespeel het, om mense minder te laat eet, weet ek nie?

Ek glo dat min van ons, na die afgelope tyd, kan onskuldig pleit, dat ons ons glad nie skuldig gemaak het aan daardie overdaad nie. Dit was ´n skof wat my verlei het. Stadig gebak, soos ´n skaapboud, asyn, knoffelsout, peper en sojasous, is al wat nodig is om die smaak, net reg te maak. Ás daar iets sou oorbly, dun gesny in skywe, koud, is dit ideaal vir ´n ligte versnapering vir die aand, op varsgebakte brood, met natuurlik, egte botter.

Aangesien Zebubeeste nog volop is in hierdie wêreld, is skof ´n relatief goedkoop snit. Geen been en goed gemarmer met vet. Dít is tog die reserwe vir hierdie diere in swaar tye.

´n Skof vir die toekoms.

Iemand wat nog nie skof geproe het nie, is nog geen kenner van vleis nie.

Hasta la proxima.