by

Tiengelieng klokkietyd!

November 16, 2012 in Uncategorized

Dis Vrydag en die naweek strek soos ‘n groen (besige!) rolbalbaan voor my uit.  Ding is net – ek staan so gebukkend en korrel na daardie eindpunt en wonder hoe alles ingepas gaan word!  Vanmiddag nie voor halfvyf by die huis nie en moet halfses weer waai. (Gelukkig is Manlief baie handig in die kombuis, so hy kan die fort hier hou). More is ook tjok-en-blok vol, maar darem met lekker (dog uitputtende!) aktiwiteite.  (Hoe dikwels gebruik ons nog die woordjie ‘dog’? )  Ons vaar die groot seestad in (nou wel net ‘n klein kolletjie daarvan) waar Manlief ‘n vergadering moet bywoon en ek en seuns onsself in ‘n sentrum sal besig hou (die Paviljoen).  Dit op sigself is nie noodwendig my gunsteling aktiwiteit nie.   Ek vermoed dat ek myself iewers by ‘n tafeltjie met ‘n Cappucino en ‘n boek gaan stasioneer en van daar af met ‘n minsame glimlag die mense sal dophou.   Dan moet kroos ‘n koorrepetisie bywoon want more-aand is dit ‘n Kersuitvoering.  (!! Sowaar al daardie tyd van die jaar!)

Kersliedere – daar is darem ‘n hele paar mooies en gunstelinge.  Heel bo aan die lys is natuurlik Stille Nag. Sommer in alle tale – Afrikaans, Engels, Duits.  Dit woel so ‘n hele klomp emosies, nostalgie, weemoed en herinneringe in ‘n mens se binneste los.  (Ongelukkig ook so een wanklankie van so twee jaar gelede toe Moeder langs haar seunskind staan met die sing daarvan en ons albei gegiggel het toe ek nie die hogere noot kon bykom nie omdat ek te skaam was om te hard te sing.  ‘n Mens het mos so ‘n bietjie diafragmasteun nodig so vroeg in die oggend…)  Tweede op my lys is “Oh Holy Night”.  Dan is daar ‘n ander lied wat ek baie jare laas gehoor het, maar ai, dis so mooi. ‘n Spaanse kerslied waaroor ek vrek.  Ek probeer Manlief al hoe lank oortuig om dit met sy koor te sing en het so pas onthou dat ek vanjaar vergeet het om hom daaraan te herinner!  En dan is daar nog.. baie!

Kersmusiek – ek het so ‘n paar jaar gelede ‘n Josh Groban Kers-CD as ‘n geskenk gekry en beter dit nou gaan uitkrap.  Snaaks hoe ‘n mens hierdie tyd van die jaar die heeltyd na Kersmusiek kan luister maar glad nie op ‘n ander tyd nie.

En met die gedagte aan klingelende klokkies groet ek eers.

 

 

4 antwoorde op Tiengelieng klokkietyd!

  1. Daar is omtrent vir jou mooi Kersliedere. Een van my gunstelinge is Somerkersfees

  2. Ai, dis ‘n mooie Kersboompie. ‘In die mens ‘n welbehae…’, mag ons almal dit tog ervaar.

  3. vega het gesê op November 17, 2012

    Geniet jul Kersuitvoering. Elke jaar dirigeer Richard Cock hier by die Linder ‘n Kersopvoering, maar ons lewe gaan net te dol. O Holy Night deur Dionne Warwick of Nianell is ‘n absolute favourite van my en Wyseman. Hierdie jaar gaan ons Kerskonserte in Duitsland en Oostenryk ervaar, ek kan nie wag nie.

Los ’n antwoord vir Carol R. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.