by

Kan ‘n vuurhoutjie verdwaal?

November 14, 2012 in Uncategorized

Vanoggend is daar geen teken van die laaste twee dae se son nie.  Die aarde is deurdrenk met reën. Wat sou die voëltjies daarvan dink, wonder ek.

Hierdie jaar is nou in die pylvak en in hoogste versnelling, afdraandepad. Al die bakens wat wag, versnel die tempo: laaste lesse met die graad elfs, tiens en dan uiteindelik die neges en die agts oor en dan’s dit amper die einde van die kwartaal. Ek blaai deur die eksamendokument op my selfoon – soveel vraestelle wat reeds deur die matrieks geskryf is, soveel kere wat ek reeds op en af tussen my klaskamer en die eksamenlokaal moes ry en nog is dit het einde niet… Maar dis amper daar!

My matriekseun snoes lekker in sy kamer. Hy glo hy leer beter snags, tot in die vroeë oggendure. Gaan hy ook soos my oudste volgende jaar sê: Sjoe Mamma, ek besef nou ek kon baie meer geleer het?

Maar: elkeen van ons doen seker wat ons kan vir daardie oomblik.  Gister praat ons tweetjies en hy sê hy is seker die graad agts word elke jaar kleiner. Ek lag, want toe ek in matriek was, sê ek vir hom, was ek en my maats beslis baie meer volwasse as wat jy en jou maats nou is!  Of altans, so het ons gedink, nes julle nou dink…

Hoe verander ons perspektief net nie na gelang van ons omstandighede nie!

Hierdie tyd van die jaar is die kinders rusteloos in die klasse – ons loop nou al ‘n jaar lank die paadjie saam. Sommige van die seuns raak nou regtig te gemaklik na juffrou se smaak – sy moet al hoe harder en langer praat om hulle rustig te kry.  Hulle waag meer – verlede week was hulle reeds in die klas toe ek van die eksamenlokaal af terugkom. Hulle is nie lus vir werk nie, sê hulle en sou veel eerder bietjie Afrikaans op die Internet wil sien. Dit help mos vir woordeskat, so wil ek nie ‘n bietjie met die interaktiewe bord werk nie?  Ek hou voet by stuk – daar is nie veel lesse oor nie.  Ons sal die laaste vyf minute van die periode gaan kyk watter moord en doodslag daar in die nuus is. Hulle ogies vonkel en my vermoede dat daar ‘n slang in die gras is word bevestig toe ek uiteindelik rekenaar toe loop.  Ek kan dadelik sien iemand het daarmee gepeuter, maar hulle maak of hulle niks weet nie.  Ek teken in (ons is op ‘n netwerk) en daar bars hulle uit van die lag – Juffrou se foto is op die skerm en sy kyk skrefies-oog na die kamera! Die simpel foto wat ek die dag met die sneeu geneem het!  Gemaak-kwaad probeer ek uitvind wie die skuldige is, maar hulle hou by die kode en bly tjoepstil, ten spyte van vele dreigemente om sommer die hele klas te straf.

So is daar die ligte oomblikke ook, ten spyte van die mini-oorloë wat van tyd tot tyd geveg word.  My graad tiens glo dat ek in ‘n goeie bui is wanneer ek pers (my gunstelingkleur!) dra.  Miskien is ek, wie weet? Behalwe natuurlik dat ek baie meer pers winters- as somersklere het!

‘n Glimlag vir die dag: Die graad agts skryf ‘n paar paragrawe oor ‘n sportwedstryd en klein Thomas hier reg voor my wil vertel van hulle goeie seisoen.  Vir klaswerk mag hulle woordeboeke gebruik en meestal gryp hulle sommer die eerste woord wat hulle sien. Kyk of julle kan uitwerk wat hy eintlik bedoel het!

Hy skryf:  “Ons verdwaal net een vuurhoutjie, en dit was teen Westville!

Groete van skerm tot skerm.

13 antwoorde op Kan ‘n vuurhoutjie verdwaal?

  1. Sterkte vir die laaste berg!

  2. Bwahaha dis ontsettend snaaks!

    • katrina het gesê op November 15, 2012

      @monicahaddad Soms kry mens regtig baie snaakse goedjies en dan kan ek nie help om in my mou te lag nie. Ek probeer dit altyd gou iewers neerskryf, want ek wil sulke goed graag onthou.

  3. die verdwaal ene was dadelik met my maar oor die vuurhoutjie moes ek nogals eers dink hoe hy daarby uitgekom het!! 🙂

    • katrina het gesê op November 15, 2012

      @rosiemetdorings Ja, soms laat hulle mens nogal kopkrap. As jy gholf ken, sal jy dalk die volgende een kan uitwerk (neem in ag dat die outjie se Engelse spelling ook nie te waffers is nie, vandaar die vreemde vertaling) ‘n Toebroodjieklub. Het jy al daarvan gehoor? 🙂 🙂 🙂

  4. @katrina speel nie golg nie, maar weet darem van balle wat in die sand beland. Dit verg goeie speurvernuf om te weet wat hulle bedoel 🙂

  5. Katrina hoop julle het ‘n lekker naweek en dat die son bietjie kom groet…

  6. philvr het gesê op November 16, 2012

    Geniet die naweek, more skyn die son weer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.