Massamarteling – ek bedoel, personeelvergadering

August 19, 2021 in Uncategorized

Ek weet nie wie gedink het dat ‘n personeelvergadering op ‘n Woensdag na skool ‘n goeie idee is nie. Die CIA kan gerus daardie persoon aanstel om inligting uit terroriste te onttrek – net tien minute in ‘n warm vertrek na ‘n lang skooldag met onderbetaalde onderwysers en hulle sal sing soos kanaries.

Soos jy instap, tref die mismoedigheid jou soos ‘n klip voor die bors. Skouers hang, wenkbroue frons en onderarms stink. Dis duidelik: niemand wil hier wees nie.

Wel, niemand behalwe Kies-My-Karen nie. Dié is onlangs verkies (niemand anders het aangebied nie) tot die almagtige posisie van notulehouer, want die vorige een het gedreig om die personeelkamer aan die brand te steek (allegedly). Voor jou voet ordentlik oor die drumpel van droefheid is, verskyn daar ‘n vel papier voor jou so vinnig dat dit die lug ‘n papercut gee. “Hier is die agenda vir vandag,” tjirp sy oorvriendelik. Dan draai sy om en hop vinnig agter ‘n arme siel aan wat vergeet het om te sanatize by die deur.

Ek hou Kies-My dop terwyl ek my sitplek inneem. Sy is óf ‘n reeksmoordenaar óf op Tik. Niemand kan so opgewonde wees na ‘n hele dag van skoolhou nie, veral nie as jy nou hier moet sit nie. My oë gly vinnig oor die agenda. Nie een van hierdie punte het enige iets met my te doen nie. Dalk as ek my polse genoeg papercut

15:07. Ja nee, hierdie gaan ‘n lang dag raak.

Een vir een kom die ongewilliges ingekruip. Die sitplekke word stuk-stuk gevul tot net die twee aan weerskante van BromBeer-Botha oop is. Legend has it dat hy in die Eerste- EN Tweede Wêreldoorlog was en nou aan bomskok ly. Doof in een en ‘n halwe oor, gebruik hy die lang grys hare wat by sy ore uitgroei om die vibrasies van stemme op te tel. Waarvoor die hare is wat onder sy vessie uitrank, sal ek jou nie kan sê nie. Laasjaar het ‘n kollega se foon per ongeluk langs hom begin lui. BromBeer het die foon gegryp en by die ruit uitgegooi, op die vloer neergeval en geskree: “Die Fillistyne is op ons!”. Nou sit niemand meer langs hom nie.

Niemand praat nie, almal sug net.

15: 13

Spoegbek-Swannie, die skoolhoof, probeer sy bes om optimisties te klink.

“Reg, dankie dat julle gekom het, dames en here.”

Die voorste ry sit hul atletiek sonskermpies op.

“Ek weet dit was ‘n lang dag, so laat ons begin. Ons het baie om te bespreek. Ons begin met die afwesiges…”

Slim bliksems.

“… en Juffrou Meyer sal by ons aansluit via Zoom.”

Ek versteen. Net nie…

Meteens verskyn TeemTeefTanja lewensgroot op die skerm. Dit lyk soos ‘n toneel uit ‘n tonneltoer film – dis net neusgate en plooie waar jy kyk. Ag Here, help tog asseblief die vrou om haar kamera reg te draai…

“Hallo? Hallo Meneer, kan jy my hoor?” Haar stem klink soos iemand wat helium gesuig het.

“Ja, Mev. Meyer, ons ka…”

Neusgate.

“Hallo? Hallo? Waar’s die speaker-knoppie?”

TeemTeef het nou die foon teen haar oor. Spoegbek sluk ongemaklik.

“Uhm, Mev. Meyer, jou kamera is…”

Plooie.

Dan skielik: “BLERRIE FOON!”

Ons skrik so groot dat Fris-Chris agter in die hoek se FitBit begin skree dat sy hartklop te hoog is, hy’t klaar sy steps vir die dag in. BromBeer kyk verward rond.

15: 28

Terwyl Spoegbek en Kies-My tevergeefs probeer om TeemTeef met haar kamera te help, sit die res van ons en wens vir verlossing. Tietspier-Tony (hy werk op almal s’n) voor my het sy Internet browser oop.

other work south african teacher lots of money

Sterkte Tietspier. Stuur vir my die link.

15:44

Jis, ek haat hierdie vrou. Nie oor haar oorgroot neusgate soos Roftie van Brakenjan nie. TeemTeef het net ‘n manier om almal om haar liederlik af te pis. Sy loop en loer deur almal se klaskamer vensters dat haar neusgate die hele vertrek opwasem. En kan sy kla! Oor ligte wat geraas maak en parkering en  “die regering so agenda”(?), onder andere.

Natuurlik het sy oor my ook al gekla.

“Juffroutjie, jou klas raas darem VREESLIK baie.” Dit was in my eerste jaar, voor ek geweet het dat dit totaal aanvaarbaar is om iemand wat jou “juffroutjie” noem, in die koek te skop.

“Jy kan GERUS by my klas ‘n draai kom maak om te kyk hoe ek dissipline toepas.”

En jy kan gerus by MY kom kyk hoe om jou hakke te skuur dat dit nie soos ‘n veldvolstruis s’n lyk nie.

15: 53

TeemTeef se kamera is toegewasem, maar almal het opgegee. Spoegbek spuug voort oor nuwe grassnyers en iemand se mangel-operasie. Niemand luister nie. Net TeemTeef se helse gevreet kyk aandagtig deur die dowwe kamera terwyl Kies-My verwoed op haar skootrekenaar tik.

Uiteindelik sluit Spoegbek af met twee wit mondhoeke. Die tweede ry is papnat en BromBeer vas aan die slaap. Almal bondel gelyk by die deur uit – dit is asof Covid weet om nie vandag met hierdie groep onderwysers te lol nie.

Ek kyk op my horlosie terwyl ek na my kar stap.

17:12

Ek sug.

As ek eendag moet sterf, hoop ek dit is tydens een van hierdie personeelvergaderings. Tyd gaan so stadig verby dat ek nog tyd sal hê om my ma te bel en my Instagram te update voor ek gaan.

1 response to Massamarteling – ek bedoel, personeelvergadering

  1. Hi, this is a comment.
    To get started with moderating, editing, and deleting comments, please visit the Comments screen in the dashboard.
    Commenter avatars come from Gravatar.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *