Ek wonder wie volg almal ons lang en moelike, maar ook verrykende pad met ons kleinseun Benjamin wat met Down Sindroom gebore is nadat sy ouers besluit het teen ‘n aborsie. Die voorspellings was donker. Hulle het 7 dae gehad nadat hulle die nuus gekry het, om te besluit voordat die kans vir ‘n aborsie verby sou wees. Ek vermoed as hulle langer tyd gehad het om te besluit, dit net nog moeiliker sou gewees het, maar dat die besluit dieselfde sou gebly het. Dit was dus eintlik ‘n genade dat hulle net vir ‘n kort rukkie moes worstel voor hulle ‘n antwoord moes gee.
Die pad was nie maklik nie. Met ‘n sonar ondersoek kort voor Ben se geboorte kon hulle die gat in die hartjie sien wat na sy geboorte met ‘n operasie herstel sou moes word. Daar was ook ander foute waaroor die dokter nie volle duidelikheid kon gee nie, onder andere met die spysverteringstelstel.
Met Benjamin se geboorte was daar geen gat in die hartjie nie en die spesialis was gereed gestaan het om die hartoperasie te doen, was saam met hulle bly. “Dis wonderlik dat die hartjie homself geheel het”, was sy kommentaar.
Nogtans moes Ben in intensief bly vir ‘n baie lang tyd. Twaalf dae, as ek dit nie mis het nie. In daardie tyd het hulle vasgestel dat daar fout is met sy kolon en hulle moes ‘n kolostomie doen. Die kolon is losgesny van die rektumpie en hy het ‘n sakkie gekry. Gelukkig is sulke dinge deesdae baie keer tydelik en daar was hoop dat hulle later ‘n operasie sou kon doen om hom ‘n relatief normale spysveteringstelsel te gee.
Die wipplankrit het begin. Ons was, en is, in die geestelike gym waar ons geloof moes, en steeds moet ontwikkel.
Ons het geleer dat die wyse waarop ons Skepper werk, kan vergelyk met die pad van ‘n skip op die see. Agter te skip kolk en maal en water en vir ‘n lang ent le daar ‘n streep agter die skip in die water. Maar dan gaan le die water weer spieelglad en kan mens glad nie sien daar was ‘n skip verby nie.
So moeilik is dit om aan mense ‘n wonderwerk uit te wys. Die wat wil glo, glo. Die wat nie wil, of kan glo nie, kan baie maniere kry om te ignoreer wat gebeur jet en steeds aan die gebeur is.
Daar is baie vroeg vasgestel wat Ben se immuunstelsel baie swak is en sy ouers is verbied om hom uit te neem na plekke soos winkelsentrums of restaurante of enige plek waar daar baie mense bymekaar is. En hy het dan ook inderdaad kort-kort met longontsteling in die hospitaal beland. Met klein Noah wat twee jaar oud is en graag buite wil wees waar hy kan hardloop en speel, was dit moeilik, want hulle erf is klein. Hulle moes maar plekke kies waas hulle in die buitelug kan sit en ietsie eet of drink en Noah ruimte gee. Later was Ben se siektes en longprobleme so groot dat die spesialis aanbeveel het dat Noah uit die speelgroepie gehaal moet word waar hy so gelukkig was. Hy het kieme en virusse huistoe gebring! Charles Jenny het daaroor gepraat en gebid en besluit dat hulle nie vir Noah kan straf omdat sy boetie siek is nie. Hy het bly skooltjie toe gaan.
Toe kom die tyd dat Ben permanent op suurstof moes gaan omdat sy longe so beskadig was. Hy is huistoe gestuur van die hospitaal af met ‘n mobiele suurstofeenheid. Ek weet hoe baie van julle voor die tyd en ook toe gebid het vir ons. En waarlik, na ‘n week of twee, toe daar weer toetse gedoen word, makeer Ben se longe niks en die suurstof word verwyder. Van daardie dag af het hy ook nog nooit weer longontsteking gehad nie!
Toe kom die toetse op sy immuunsteltel. Dit is ‘n tweede keer herhaal omdat hulle nie die eerste uitslae geglo het nie! Ben se immuunstelsel was net op ‘n dag 100% normaal. Ons het die Here weer eens geloof en geprys! Benjamin was besig om ‘n gesonde, sterk seuntjie te word en al wat nog werklik ‘n groot probleem was van dag tot dag, was die sakkie wat hy moes dra.
Toe kom die dag van die operasie. Hulle sou die kolon heg. Daar was ‘n ‘klein stukkie’ van die kolon wat siek was en verwyder sou moes word volgens die dokters. Maar hulle sou ‘n operasie doen waar hulle die kolon kon heg. Daarna sou hy nie meer ‘n sakkie hoef te dra nie. Dit was maklik om te glo dat die operasie ‘n sukses sou wees. Na al die ander wonderwerke, en die feit dat die dokters dit so eenvoudig laat klink het, kon ons maklik ‘n gesonde kolon en ‘n gesonder seuntjie visualiseer.
Die uitslae het ons voete onder ons uitgeslaan. Die operasie was nie ‘n sukses nie.
Nou, na ‘n maand, het ons die feite. Tydens die operasie was beplan is, sou die dokters in der waarheid twee derdes van Ben se kolon (dikderm) moes verwyder, omdat hy Hirchprung se siekte gehad het. Met die gesonde derde was oor was, sou hulle ‘n gekompliseerde operasie doen wat die dunderm ook betrek, en wat hom ‘n relatiewe normale spysverteringstelsel sou gee, en die sakkie onnodig sou maak. Maar twee dinge het hulle daarteen laat besluit. Die kolon het nie in lengte gegroei soos dit moes nie en die derde wat sou oorbly was net te min, en tog het sy dikderm soveel gesonder gelyk as voorheen met die eerste operasie. Daar is weer biopsies geneem en hulle het besluit om die operasie uit te stel.
Die operasie om Ben se dikderm te heg gaan nou DV op die 2de Augustus plaasvind. En hier kom die wonderwerk! Die toetse het gewys dat die twee derdes van die dikderm wat hulle wou verwyder met die operasie wat gekanselleer is, gesond en normaal is. Daar is geen teken meer van Hirschprung se siekte nie! Ek kan net die Here loof en prys. Alle eer aan HOM!
Dus, nou, na ‘n bietjie meer as ‘n maand, word die operasie wat ons van die begin af gevisualiseer het in ons onkunde, gedoen. Benjamin se kolon word geheg en sy spysverteringstelsel sal dan werklik normaal kan funksioneer. Een honderd persent normaal!
Nou wonder ek wat die Heer se plan is met die Down sindroom? Wil Hy vir ons leer hoeveel ‘n mens kan verrig met Down sindroom, of wil Hy dit ook sommer wegneem? Wat ookal Sy plan is, ons loop die pad met verwagting en opgewondenheid.
Ben is ‘n pragtige ou seuntjie met ‘n vrolike geaardheid ten spyte van die baie tyd wat hy al in die hospitaal spandeer het. Hy was not nooit alleen gelaat in die hospitaal nie, nie vir ‘n oomblik nie, behalwe wanneer hy in intensief was met iemand voltyds by hom. Of Mamma of Pappa of Sina sit by hom. Dag en nag as hy in die kindersaal is waar babas gelaat word om te huil.
Die fisioterapie wat hy weekliks kry het hom gehelp om al sy mylpale vir ‘n normale kind te behaal, elke keer in tyd – soms effe aan die stertkant, maar altyd betyds. En die fisioterapeut is so slim dat sy weet hy moet sy voetjies op ‘n sekere ouderdom kan sien vir normale breinontwikkelling. Hy moes sy middellyn met sy handjies kruis op ‘n baie jong ouderdom vir normale breinontwikkelling. Dus is Ben ‘n sterk seuntjie wat alles doen wat hy moet doen.
Hy lyk egter nie heeltemal soos ander kindertjies nie. Vir ons is hy pragtig, Maar sy armpies en beentjies is relatief tot sy lyfie effens korter as normaal. Die vorm van sy koppie is effens anders. En hy het sekere trekke wat mens net by ‘n mensie met Down sindroom kry. Verder het hy geen agterdog in hom nie. Hy aanvaar alle mense met vreugde en openheid. Nie daardie skugterheid wat kindertjies normaalweg ontwikkel teenoor vreemdelinge nie.
Daar is soveel mense wat saam met ons bid. Vriende en kennisse. Kerke. Hier op ons dorpie, die NGkerk, die bruinmense se Charismatiese kerk, die Engelse kerk. ;n Paar indiwidue wat Ben ‘n gebedsprojek gemaak het. Vir baie van ons wat vir Ben bid, ook vir jou die leser, is hierdie moontlik ‘n oefening wat geloofsgroei gaan meebring. En soos in die gimnasium waar ons ons spiere oefen, bly dit ‘n saak van toewyding, het ek geleer, om mens se geloof te laat groei. Geleenthede vir geloofsgroei is daar inderdaad genoeg!
Nou wonder ek maar net. Wat is die Here se plan met hom? Ek wil beslis nie vir ons Meester voorskryf nie. Hy weet wat Sy wonderlike plan met Ben is!
Onlangse kommentare