Jy blaai in die argief vir 2011 November.

Jou ma jok nooit

November 5, 2011 in Uncategorized

Dit was elke Junie-maand ons familie se gebruik om vir my ouma in Pietersburg te gaan kuier tydens die skoolvakansie. Om die eentonigheid van die 1800km afstand te breek, het my pa daarvan gehou om alternatiewe roetes soontoe aan te pak, en ons het gevolglik baie wyd gereis tydens hierdie vakansies.

 

Terwyl ons dan nou so ver moes ry – vanaf die Weskus – kan ons netsowel vir sy suster in Winterton of broer in Umtata ook gaan kuier. Of op pad boontoe, of terug.

 

So is ons een vakansie op pad Umtata toe, nadat ons die vorige aand op Dordrecht – my pa se tuisdorp – oorgeslaap het. Indwe-langs tot die T-aansluiting met die Elliot pad, dan regs tot amper by Cala en dan links af op die R58 na Engcobo, waar ons aansluit by die R61 tussen Queenstown en Umtata.

 

Die laaste gedeelte van hierdie stuk pad loop oor Satansnek. Hier kom ons toe op ‘n onklaar vragmotor af  wat langs die pad staan. My pa hou stil om te hoor of hy kan help, en 3 swartes klim half-verkluim uit die trok se kajuit en beduie dat hulle al van gistermiddag hier sit en ons die eerste mense is wat nou hier verbykom.

 

Terwyl my ma ons middag-ete toebroodjies uitdeel – wat met dubbel-hand dankbaarheid aanvaar word – klim my pa in die vragmotor kajuit en kom agter die battery is morsdood. In terugskouing het die diesel vermoedelik verdik in die tenk weens die koue, wat veroorsaak het dat die enjin gaan staan het. Toe karring hulle die battery dood in die proses om dit weer aan die gang te probeer kry.

 

Maar dalk kan hulle die trok aan die brand stoot, dus is my pa nou agter die stuur en die vorige insittendes stoot die trok.

 

Na so ‘n paar keer se heen en weer en die opgebruik van al die afdraendes, besef hulle die trok gaan nie vat nie.

 

Met die finale stilstand, staan een van die stoters so terug en kyk die trok aan met ‘n moedelose uitdrukking op sy gesig. “Fôkol” seg hy.

 

“Haai ma, hoor wat sê die boy!”

 

“Ja sien my kind, in hierdie geweste word hierdie woord mos nie as ‘n vloekwoord geag nie”.

 

Elk geval, ons is toe voort. By Engcobo is my pa eers aan by ‘n motorhawe om die probleem aan te meld en te vra dat hulle uitgaan en die mense gaan help, voordat ons die laaste stuk pad vat Umtata toe.

 

Nou wonder ek of die trappe van vergelyking dalk sou kon wees:

Niks, Nâ-tieng, Fôkol?