Hoop

Mei 10, 2011 in Sonder kategorie

Gestel een Saterdag middag besluit jy om die kombuis se agterdeur, wat in die kosyn vassit omdat dit agv die klam klimaats-toestande geswel het, reg te maak.

Met die deur af, is jy besig om die saag se lem diepte te stel sodat dit nie te ver deur die hout steek tydens die saagproses nie.

Terwyl jy besig is hiermee met jou regterhand, skakel jy onwillekeurig die saag aan met jou linkerhand.

Gestel jy kry dit nou verder reg om by die hospitaal uit te kom sonder om flou neer te slaan, nadat jy seker gemaak het al jou vingers is nog binne die afdroogdoek wat jy om jou hand gedraai het.

Wanneer jy uit die teater kom, is jou hand so toegedraai dat jy redelik seker is jy het nie meer ‘n wysvinger nie. En met goeie verdowing nog teenwoordig, besluit jy om dit gelate so te aanvaar.

Nee, verseker die dokter jou egter wanneer hy sy rondtes doen, die vinger is nog daar, maar dit sou beter wees om dit te verwyder, want die skade is van so ‘n aard dat dit net in die pad gaan wees.

As motivering vir hierdie stap word genoem dat tekenprent karakters almal net 4 vingers het – en kyk hoe goed kom hulle reg . Dan word daar verder aangevoer dat ‘n wysvinger nie baie belangrik is nie – wel ‘n duim, en dan volgende die pinkie.

Ek kan my voorstel dat ‘n vorige politikus nie oor die onbelangrikheid van ‘n wysvinger sou saamstem nie, aangesien hy syne deurgaans gebruik het.

Dis op hierdie stadium – waar daar skielik nuwe hoop is – dat die klem van die situasie drasties verskuif van: “Maar dokter dis my HAND hierdie”, na: “Maar dokter dis MY hand hierdie”, en ’n tweede opinie dringend verlang word.

Toe ek gister my hond Lucy – vir wat ek vermoed die laaste keer – vee-arts toe neem, toe weet ek ‘n tweede opinie gaan nie help nie. Na 16 jaar, is hondjie op – van normale slytasie en die goeie lewe.

Die redenasie gaan andersom wees. “Maar dokter, dis MY hond hierdie” gaan verander na “Meneer, dis jou HOND hierdie”.

Maar nee, reken die vee-arts. Hierdie hondjie stel nog te veel belang in haar omgewing en is steeds mobiel genoeg, en ten spyte van die katarakte sien sy nog heel goed genoeg. Dis net as sy iets sou wou lees voordat sy bed toe gaan, waar dit ‘n probleem gaan wees.

Daar is wel ‘n hartrumoer, maar daarvoor word pille voorgeskryf – I kid you not – skedule 2 en 3 – om onder andere die bloed te verdun. Dit sal hondjie ook bietjie opkikker agv die verbeterde bloedvloei na die brein.

Verder moet hondjie ander kos eet. Dié vir senior honde – dis nou ouer as 7 jaar. Dit verlig die las op die niere en lewer, wat gewoonlik naas die hart, die organe is wat ingee en die dier se einde beteken.

Ek kon dalk wel ‘n nuwe hond gekry het vir die prys van al bostaande goed, maar ek is steeds hoogs tevrede met die uitkoms.

Dus: “Veels geluk met jou nuwe “lease on life” Lucy!”

7 antwoorde op Hoop

  1. sterkte vir die hand – het dit onlangs gebeur?
    Geniet die woefels – altyd moeilik om “MY” hond na soveel jare te groet

  2. TS het gesê op Mei 10, 2011

    Ai ek dink die heeltyd aan die deur wat af is … koue wind ens. Ai ek moet ook My Tessa na 16jr groet … Gee vir Lucy ‘n drukkie van my!

  3. jjjonker het gesê op Mei 10, 2011

    Ek sal so maak.

    Omdat die hond nie meer hoor nie, het ek gevind dit help om jou ken teen die hond se skedel vas te druk.

    As jy dan praat of geluide maak, kan die hond dit deur beengeleiding waarneem, en praat sy terug.

  4. jjjonker het gesê op Mei 10, 2011

    Baie dankie.

    Nee darem nie. In 2000 – en ek het nog die vinger.

  5. Ha! Net Saterdag werk ek met die Angle Grinder en toe ek discs wil ruil vind hierdie argument in my kop plaas.
    “Trek eers die prop uit.”
    “Vir wat?”
    “Vir in case.”
    “In case wat?”
    “Sê nou maar net.”
    “Ag kak man.”
    “Daar’s ‘n rede hoekom jy geleer is om dit so te doen.”
    Toe trek ek maar die prop uit.

  6. jjjonker het gesê op Mei 10, 2011

    Snaaks genoeg, doen ek mos deesdae dieselfde :-).

  7. ‘n Man met ondervinding is nie uitgelewer aan ‘n man met ‘n argument nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.