Positiewe Uitkyk

Maart 30, 2011 in Sonder kategorie

Ek dink die meeste mense – selfs die jonger geslag – het al gehoor van Monty Python – en selfs uit wie hulle bestaan het, asook wat hulle later jare na ontbinding van die Flying Circus gedoen het.

 

Die twee mees bekendste lede is seker Eric Idle en John Cleese, lg wat o.a. later ‘n soortgelyke rol in Fawlty Towers vertolk het.

Nou vóor hulle, was daar The Goons, wat bestaan het uit Spike Milligan, Peter Sellers en Harry Secombe.

 

 

Dis opgevoer as lewendige radio komedie voor ‘n gehoor waar elkeen verskeie rolle vertolk het deur stembuiging. Nes met ons eie destydse “Bog met blou-Maandag”, het jy óf daarvan gehou, of dit as totaal absurd ervaar.

Ja wel, jy het juis daarvan gehou OMdat dit so absurd was. Soos een van Neddy Seagoon (Secombe) se planne om in 1916, vooruitgedateerde kalenders vir die jaar 1918 oor die loopgrawe uit vliegtuie te gooi, sodat die Duitsers kan dink die oorlog is al verby.

Toe ek hierdie mense ontdek het, was van hulle al dood, maar al die programme was as plate opgeneem, en jy kon dit by die provinsiale biblioteke uitleen. Dit was tydens diensplig – ook by tye vermaaklik, net minder mense as hierbó weet daarvan.

‘n Kenmerk van die opvoerings was die orkes wat tussen tonele musiek verskaf het, asook die spesiale effekte. Klanke soos wanneer Staal Burger ‘n skurk slaan, klinkende soos ‘n stywe jellie en ‘n dromstel wat omval.

In een van hierdie episodes, bou die Goons ‘n vliegtuig, om te help met die oorlogs-poging. Uit die klank-effekte kan jy hoor hulle is hard aan die werk: ‘n oordrewe getimmer, hoekslypers wat huil, goed wat geMAAK pas word, ens.

Opeens is daar ’n geweldige kabaal, toe die lugraam van die vliegtuig ineenstort oor een of ander kritieke boutjie wat nie installeer was nie.

Na ‘n UIT-ge-rek-te geraas van goed wat aanhou val, raak dit skielik doodstil, behalwe vir die geluid van ‘n stukkie pyp wat oor die vloer rol met ‘n klingel-klingel-klingel, en – weereens – na die verloop van ‘n laáng tyd, met ‘n gedempte “plienk!” teen iets tot stilstand kom.

Nou ja, mens sou aan allerhande goed kon dink om te sê. Jy kan verneem of iemand seergekry het. Jy kan probeer om te maak of dit nie jou skuld is nie – ek kom nou net hier – en die blaam afskuif na iemand anders. Jy kan ‘n paar kragwoorde uiter, ens.

Nee, nie hierdie “outfit” nie. Daarvoor is hulle te begeesterd en positief.

 

Vandaar Neddy Seagoon se opgewekte vraag: “What shall we build NOW?!”

 

5 antwoorde op Positiewe Uitkyk

  1. TS het gesê op Maart 30, 2011

    lekker gelees Dankie

  2. Klink soos hedendaagse regerings.

  3. jjjonker het gesê op Maart 30, 2011

    Nie dit voorheen so gesien nie, maar noudat jy dit noem, ‘n merkwaardige ooreenkoms.

  4. jjjonker het gesê op Maart 30, 2011

    Reg so!

  5. jjjonker het gesê op Maart 30, 2011

    Ja, oud soos dit is, geniet selfs my kinders hierdie tipe goed – m.a.w. BRITSE humor, eerder as Amerikaans.

    Ek kon hulle darem IETS leer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.