Wat “dink” honde?

Maart 27, 2011 in Sonder kategorie

 

Ons huidige hond het ons gekry nadat Sam aan bosluiskoors dood is – opgedoen een langnaweek by ‘n honde hotel. Dit was op die 1e herdenking van die nuwe Suid-Afrika in 1995.

Dit maak dat Lucy nou nogal oud is – 16 jaar, een van die dae. Nou is die hondjie wel al beide bykans blind en heeltemal doof, maar sy lyk nog nie moeg vir die lewe nie.

Ons honde was nog altyd troeteldiere en nie knorrende bakleiers of keffende wolbolle nie, dus ten spyte van so ‘n paar slegte gewoontes en onvermoëns wat die hondjie nou aangeleer het/aan lei, verdra ons dit maar.

Maar ek vermoed sy het dalk Alzheimers se siekte ook, want sy sal vir lang rukke op een plek – gewoonlik in die middel van waar die huismense wil loop – doodstil staan en, wel, net staan. Toegegee, ek doen dit deesdae ook, maar nog nie so dikwels nie.


Nou wonder ek of, wanneer sy in hierdie trans is, hondjie iets dink, en indien wel, wát. Soos bv:


  • as ons dan nou almal honde is – klaarblyklik “dink” honde jy is ook een, net die leier van die trop – waarom loop ek op 4 bene en die tropleier op 2?
  • waarom deel die tropleier nie sy biltong met my nie – dis mos sy instink?  
  • hoekom moet ek soggens 5:15 uitgaan om ‘n draai te loop en hy staan binne die agterdeur en wag?  
  • hoekom hou my mense nie daarvan as ek liefdevol in hulle gesigte hyg nie?  
  • hoekom mag ek nie ook op die bed slaap nie?  
  • hoekom eet hulle nie ook hondepille nie?  
  • moet ek alweer self die blerrie trappe klim slaapkamer toe? 
  • hoekom maak hulle so bohaai as ek stilweg in my slaap poep voor die TV?
  • wie is ek nou weer?
  • ensomeer

Heimlik  hoop ek maar Lucy gaan eendag sag heen, want maak nie saak hoeveel keer ek hoor dat die gebruik met die laaste rite is dat jy jou hond styf vashou terwyl die vee-arts die finale inspuiting toedien, glo ek steeds nie ek sal dit regkry nie.

14 antwoorde op Wat “dink” honde?

  1. Maghitta het gesê op Maart 27, 2011

    die peop een voor die tv of langs die lessenaar is goed! want my liewe brak poep dat ek uitloop
    heerlike sondag vir jul

  2. TS het gesê op Maart 27, 2011

    Ja mens raak maar lief vir hulle. My veearts het gesê dis tyd as die hond nie meer self buite toe wil gaan nie en as sy net heeldag agter jou aanloop – dis van die swaarste swaar

  3. Ek het onder andere ons Lucy ‘n Rooi Kollie/Border Kollie kruis 16 jaar oud, in my arms vasgehou, soos met haar lewensmaat die Boxer, Daemon van 12 jaar, enkele maande vroeër, Dit verg moed, maar glo my vriend in terugblik was dit nie net vir honnegoed die beste nie, maar ook vir my siel. Ek sal dit weer doen, die finale eer betuiging van liefde vir ‘n lewensmaat. Sterkte, maar moenie toelaat dat honnegoed lewens kwaliteit verloor nie en dit is die sleutel tot honnegoed se geluk en tevredenheid. Ons lieflike huisdiere het ‘n gaping tot verlossing wat ons die mens ontsê word.

    Ooo ja, ek het snot en trane gehuil, glo my wel.

  4. jjjonker het gesê op Maart 27, 2011

    Dis nie eintlik wat ek wou hoor nie.

  5. jjjonker het gesê op Maart 27, 2011

    Ek dink jy raak so gewoond aan die geselskap, jy begin menslike eienskappe aan die hond toeken.

    Dan raak dit moeilik.

  6. jjjonker het gesê op Maart 27, 2011

    Dit help om deur jou mou asem te haal.

  7. Twaksak het gesê op Maart 27, 2011

    Ek het twee keer daai vashou ding moes doen en het gegrens daarna.

  8. loudavisi het gesê op Maart 27, 2011

    Ons kleintjie is ook al sonder tande en blind in die een oog, maar op en wakker soos ‘n puppy. Ek sal haar met liefde vashou vir die laaste maal as sy nie meer kan loop nie of siek word.

  9. Wat ‘n mens sê: “Wagter! Kom Hier! Jy’s ‘n baie stout hond, Wagter, en as jy dit weer doen slaan ek jou. Hoor jy Wagter?”

    Wat ‘n hond hoor: “Wagter! Bla bla! Bla bla bla bla bla, Wagter, bla bla bla bla bla bla bla bla bla. Bla bla Wagter?”

  10. jjjonker het gesê op Maart 29, 2011

    Papeslaai en Twaksak,

    Raak mens dit ooit gewoond/raak dit makliker?

  11. jjjonker het gesê op Maart 29, 2011

    Ja, ek kyk gereeld “Dog Whisperer”, en sy advies is as jy die hond streng aanspreek, jy dit nie op die naam moet noem nie, hoeka oor jou kommentaar hierbo.

  12. Nee, maar na vyf honde met verskillende omstandighede weet ek die ding wat die vinnigste vertroosting bring is om self die hond vas te hou. Dit maak die afskeid makliker. Dis ook makliker as jy oor ‘n lang tyd die hond se agteruitgang beleef, want jy berei jouself daarop voor tot jy op ‘n dag besef dit kan nie verder nie en jy weet jy doen die beste ding.

  13. Wie gaan nou nog fluister, want ek sien hier in Voortrekkerweg is nou ‘n Vehicle Whisperer?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.