Hoe lank bly snaaks, snaaks?

Maart 19, 2011 in Sonder kategorie

In Sweet Liberty (1986) vertolk Alan Alda – bekend vir die TV-reeks MASH – die rol van ‘n kollege geskiedenis professor in ‘n klein Amerikaanse dorpie in die Nieu Engeland staat.

‘n Feitgebaseerde geskiedkundige roman wat hy geskryf het, trek Hollywood se aandag, en ‘n filmspan kom op die dorp aan om dit te skiet.

Alan verskil van die regisseur se kreatiewe weergawe van die uitbeelding van ‘n veldslag in terme van die geskiedkundige korrektheid daarvan.

Die regisseur op sy beurt, argumenteer dat vir enige fliek om trefkrag te hê, 3 elemente benodig word: naaktheid, beskadiging van eiendom en verontagsaming van gesag. Hierdie elemente is dus in die draaiboek bygewerk.

Omdat die regiseur hom afvee aan Alan se besware, lewer hy en van sy vriende – wat ook rolle vertolk in die fliek, aangesien amper die hele dorp ekstras is – hulle eie (moedswillige) interpretasie van hierdie 3 aspekte tydens verfilming van die veldslag.

Natuurlik is dit glad nie hoe die regisseur dit bedoel het nie, met Alan wat elke keer sy hand uitsteek na die kamera en die 3 aspekte so een-een met sy vingers aftel soos hulle dit illustreer.

Dis die laaste aspek – disrespek vir gesag – wat my laat terugdink aan ‘n insident in my skooldae op Vredenburg, en my steeds laat lag.

In Std 6 was die laer- en hoërskole saam in een gebou, maar dit was veels te klein. ‘n Nuwe hoërskool was in aanbou langsaan, en van die senior standerds het reeds oorgetrek.

In Std 7 begin ons toe ook in die nuwe gebou, maar daar was nog steeds klein werkies wat nie klaar was nie. Een van hierdie was die interkomstelsel, waardeur die administrasie blok met enige of alle klaskamers kon kommunikeer.

Uiteindelik is dit ook darem klaar, en moet nou getoets word. Ons sit in die Wiskunde klas toe die skoolhoof se stem oor die interkom klink: ”Mnr Chamberlain, kan jy my hoor”?

Waarop Mnr Chamberlain toe antwoord: ”Nee meneer, ek kan jou nie hoor nie”.

Noem dit die naiewe waarneming van ‘n tiener, maar as jy die mense, die tydgebied en die kleindorpie gesagstruktuur van daardie tyd geken het en boonop Mnr Chamberlain se gesig gesien het, dan was dit skreeusnaaks.

Vandaar my hoop dat ek nooit “so” oud word dat ek eendag dink dit was “simpel” nie.

4 antwoorde op Hoe lank bly snaaks, snaaks?

  1. TS het gesê op Maart 19, 2011

    Grinnik… Wens so hulle wil die ou goed soos MASH in plaas van hierdie ander snert. Al die ou series van David E Kelly ook

  2. jjjonker het gesê op Maart 19, 2011

    Moes nou eers gaan Google wie is David E Kelly.

    Eienaardig genoeg, het ons nie eintlik sy reekse gekyk nie – dalk so nou en dan LA Law en Ally McBeal – alhoewel almal aan my bekend is.

  3. Trakie het gesê op Maart 19, 2011

    Die versoeking was nét te groot gewees. Ek hou sommer baie van mnr Chamberlain! :-))

  4. HeavyHenry het gesê op Maart 19, 2011

    Bwhaahaha!

Los ’n antwoord vir TS. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.