Hoe dit als begin het

Maart 18, 2011 in Sonder kategorie

Met dié dat daar toe nou vir Lottering ‘n motorfiets met syspan aangeskaf is, dink sy baas dit toe goed om die burgemeester en die raad oor te nooi vir ‘n toer van die tremloods fasiliteite.

 

Die plan is om hulle aan al die afdeling se werksaamhede bekend te stel, maar die hoogtepunt gaan natuurlik wees hierdie nuwe innovasie – sy idee – om tremlyn onderhoud vanaf ‘n motorfiets te bedryf.

 

Nou verduidelik hy vir Lottering dat op ‘n gegewe oomblik, hy by die hek moet uitry met die motorfiets, natuurlik volgelaai met onderdele, leer en handlanger. Dan ry hy om die blok en as hy terugkom, dan kom stop hy daar voor hulle sodat die raad nou hierdie stuk toerusting van nader af kan inspekteer.

 

So gesê, so gedaan. Die burgemeester en raadslede staan almal daar netjies uitgevat, goue ketting en al, en Lottering word beduie dat sy deel van die “vertoning” nou aangebreek het.

 

Hy ry uit by die hek, links af in die straat, agter-om die blok en is nou besig om die hek van die ander kant te nader.

 

Maar hy het nou net laasweek eers hierdie motorfiets gekry, en het tot dusver nog net bietjie in die jaart geoefen. Hy is dus bietjie ongemaklik, veral met die leer wat aan die syspan vas is – dis eers later dat hy so bedrewe met die motorfiets geraak het.

 

Om seker te maak hy steek nie die punt van die leer in die heining vas met die draaislag as hy by die hek inry nie, besluit hy om mooi simmetries tussen die twee oop swaaihekke deur te ry. As teiken gebruik hy die smal sementblok in die middel van die opening waar die hekke se slotpenne in sak as dit toegemaak word. Die idée is om wydsbeen oor hierdie blok te ry, soos almal wat die jaart met motors besoek maar doen.

 

Wat Lottering nie besef het nie, was dat die hegting van die syspan aan die motorfiets deur middel van dwars stange gedoen word. Twee bo, en een onder. Wel, die onderste een is toe laer as die hoogte van die sementblok.

 

Die motorfiets stop net daar, maar Lottering, sy handlanger, en meeste van die los goed reis voort, en kom in ‘n stofwolk te lande reg voor sy baas en dié se gaste.

 

Sy baas kyk hom so uit die hoogte aan, vir ‘n oomblik stomgeslaan, maar kry darem toe weer beheer van sy sinne met: “Well gents, I think we’ve seen enough. Let’s move on”.

 

Tot sy verdediging, Lottering het darem een deel van sy instruksie korrek uitgevoer – hy het wel gestop reg voor sy baas en gaste, soos versoek.

6 antwoorde op Hoe dit als begin het

  1. brug het gesê op Maart 18, 2011

    Klink soos iets uit n Leon Schuster fliek.

  2. TS het gesê op Maart 18, 2011

    lekker lees die… dankie

  3. jjjonker het gesê op Maart 18, 2011

    Ja, daar’s mos eintlik niks nuut nie.

    Ek dink baie van Leon se “pranks” is volksmond goed wat hy net bietjie moderniseer het.

  4. jjjonker het gesê op Maart 18, 2011

    Die storieverteller moet eintlik die eer kry.

    Sy pa het by die stadsraad gewerk vanaf eerste helfte 1900s, en na iets soos 52 jaar diens, op 75 afgetree. Dis eintlik die bron van die stories.

    John, sy seun, is self al by 70 verby, maar vertel steeds graag.

  5. pbroere het gesê op Maart 18, 2011

    Oulike storie. Ek het lank in Lagos, Nigerie gewerk. Daar is sulke klein motorfietsies, “Ukada” noem hulle dit. Die ouens maak die sitplek langer agtertoe, dan kan daar maklik 2 volwassenes agter die bestuurder sit. Ek het al soveel as 5 mense op een gesien, gewoonlik ‘n kleuter wat voor op die drywer se skoot sit as laaste passasier. Het al gesien dat so motorfiets ‘n passasier vervoer wat ‘n ratkas, ‘n 50kg sak meel of ‘n 5m lang leer vervoer. Eenkeer gesien hoe ‘n sakeman,met sy pak klere agter sit en koerant lees, toe die motorfiets ‘n slaggat tref wat onder die water weggesteek was. (Die dreinering is nie goed nie en dis tropies.) Die ou het homself sopnat geval.

  6. Dit was nou vermaaklik.

Los ’n antwoord vir pbroere. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.