Voorsate

Maart 4, 2011 in Sonder kategorie

Daar is al voorheen navraag gedoen in kommentare of ek en PG familie is. Wanneer ons dan skuld erken – ons is broers – sou ‘n opvolg kommentaar wees dat ons soortgelyk skryf. Ons verkies om die woord “styl” hier uit te hou.

 

Toe dag ons – sonder om bymekaar af te kyk – om iets te blog oor dieselfde onderwerp, en dan self te sien of bostaande observasie waar is.

So nou die aand beantwoord tannie Una daardie eeue oue vraag wat elke mens sedert voorskool al mee worstel “Ma, waar kom ek vandaan?”

 

Nou blyk dit dat alhoewel beide ons ouers se vanne van Nederlandse afkoms is, ons stamvader nie uit Europa hier aangekom het nie.

 

Die eerste Jonker in Suid-Afrika, was Adolph, wat op 26 Junie 1760 in die huwelik bevestig is. Duidelik het Adolph sy vrou baie goed geken teen daardie tyd, aangesien sy seun Johannes, 3 maande na die troue gebore is.

 

Sy ouers was ‘n Jonker van Makassar en ‘n Rosetta van Java. 

 

Makassar op die Sulawesi-eiland  is deel van Oos-Indonesie, waar Java in die suidelik strook lê – ‘n goeie 1000km uitmekaar soos die kraai vlieg, of in daai tyd seker “soos die boot seil”.

 

Die VOIC was sedert 1602 hier gevestig, dus was Adolph se pa heel moontlik ‘n bemanningslid op een van die inter-eiland kruie-en-speserye bote, wat besluit het hy het nou genoeg in die boot geskud, en soek nou bietjie vastigheid onder sy voete. Hy gaan Java toe.

 

Hy het in elk geval gehoor die koffie is lekker daar, en is hoeka nou al goed teë vir neutmuskaat.

 

Alhoewel (of dalk as gevolg daarvan?) die Hollanders reeds in die vorige eeu in daardie omgewing per skip begin handel dryf het – dis juis vir hierdie roete dat hulle die Kaap benodig het om voorraad in te neem – moet mens wonder of hierdie Rosetta wel van suiwer Europese afkoms was.

 

Hoe dit ook al sy, die eg Suid-Afrikaanse gedagte van boetedoening het by my opgekom of daar nie dalk voordeel te trek is hieruit nie. Bv:


  • Doen aansoek om ‘n Hollandse paspoort.
  • Vind uit of die perseel waar Rosetta grootgeword het nie dalk nou ‘n uiters winsgewende koffie-plantasie is nie, en sit ‘n grond-eis in.
  • Indien sy wel ‘n plaaslike dame was, doen aansoek om tot voorheen-benadeeldes verklaar te word en eis ‘n skuldvergoedings-toelae.

  

Heel leuk idee vind ik! Of toch niet? 

 

5 antwoorde op Voorsate

  1. HeavyHenry het gesê op Maart 4, 2011

    Wel julle ouens stem ten minste saam oor waar julle vandaan kom, en julle dink albei aan ras…

  2. jjjonker het gesê op Maart 4, 2011

    Ja, snaaks genoeg,ons was nie so bewus daarvan toe ons groot geword het nie.

    Nou maak mense op die TV ons gereeld attent daarop.

  3. gardenia het gesê op Maart 4, 2011

    Ek sal julle nou beide moet leer ken

  4. lisabeth het gesê op Maart 5, 2011

    Nou moet ek eers ene PG gaan opsoek!

  5. HeavyHenry het gesê op Maart 5, 2011

    Nogal waar!

    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.