Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Engrish of Chinglish?

Maart 31, 2011 in Sonder kategorie

Tydens ‘n besoek aan Dubai waar ons kamera toerusting wat op helikopters monteer word aan die polisie demonstreer, kom kyk ‘n “hooggeplaaste” wat ons doen.

Hooggeplaaste is letterlik dit – hy het nie eintlik ‘n kwalifikasie nie – behalwe dalk dat hy ‘n grootwild jagter is – maar hy is redelike na verwant aan die “Ruler of Dubai”. Dis nou maar hoe dit werk daar.

Nou probeer ek verduidelik aan hierdie persoon – op ‘n nie-hoogs tegniese vlak – hoe die kameras werk, hoe die beeld uitgesaai word na die polisie hoofkantoor op die grond, en hoe hulle dan vanuit daardie kantoor enige situasie kan beheer, of dit verkeer, nood of onlus is.

Nadat ek nou mooi verduidelik het, staar die man my so effe oorbluf aan en vra: “Do you speak English?”

Dalk het daar iets met my vertaling verkeerd gegaan, soos hieronder.

Positiewe Uitkyk

Maart 30, 2011 in Sonder kategorie

Ek dink die meeste mense – selfs die jonger geslag – het al gehoor van Monty Python – en selfs uit wie hulle bestaan het, asook wat hulle later jare na ontbinding van die Flying Circus gedoen het.

 

Die twee mees bekendste lede is seker Eric Idle en John Cleese, lg wat o.a. later ‘n soortgelyke rol in Fawlty Towers vertolk het.

Nou vóor hulle, was daar The Goons, wat bestaan het uit Spike Milligan, Peter Sellers en Harry Secombe.

 

 

Dis opgevoer as lewendige radio komedie voor ‘n gehoor waar elkeen verskeie rolle vertolk het deur stembuiging. Nes met ons eie destydse “Bog met blou-Maandag”, het jy óf daarvan gehou, of dit as totaal absurd ervaar.

Ja wel, jy het juis daarvan gehou OMdat dit so absurd was. Soos een van Neddy Seagoon (Secombe) se planne om in 1916, vooruitgedateerde kalenders vir die jaar 1918 oor die loopgrawe uit vliegtuie te gooi, sodat die Duitsers kan dink die oorlog is al verby.

Toe ek hierdie mense ontdek het, was van hulle al dood, maar al die programme was as plate opgeneem, en jy kon dit by die provinsiale biblioteke uitleen. Dit was tydens diensplig – ook by tye vermaaklik, net minder mense as hierbó weet daarvan.

‘n Kenmerk van die opvoerings was die orkes wat tussen tonele musiek verskaf het, asook die spesiale effekte. Klanke soos wanneer Staal Burger ‘n skurk slaan, klinkende soos ‘n stywe jellie en ‘n dromstel wat omval.

In een van hierdie episodes, bou die Goons ‘n vliegtuig, om te help met die oorlogs-poging. Uit die klank-effekte kan jy hoor hulle is hard aan die werk: ‘n oordrewe getimmer, hoekslypers wat huil, goed wat geMAAK pas word, ens.

Opeens is daar ’n geweldige kabaal, toe die lugraam van die vliegtuig ineenstort oor een of ander kritieke boutjie wat nie installeer was nie.

Na ‘n UIT-ge-rek-te geraas van goed wat aanhou val, raak dit skielik doodstil, behalwe vir die geluid van ‘n stukkie pyp wat oor die vloer rol met ‘n klingel-klingel-klingel, en – weereens – na die verloop van ‘n laáng tyd, met ‘n gedempte “plienk!” teen iets tot stilstand kom.

Nou ja, mens sou aan allerhande goed kon dink om te sê. Jy kan verneem of iemand seergekry het. Jy kan probeer om te maak of dit nie jou skuld is nie – ek kom nou net hier – en die blaam afskuif na iemand anders. Jy kan ‘n paar kragwoorde uiter, ens.

Nee, nie hierdie “outfit” nie. Daarvoor is hulle te begeesterd en positief.

 

Vandaar Neddy Seagoon se opgewekte vraag: “What shall we build NOW?!”

 

Wat “dink” honde?

Maart 27, 2011 in Sonder kategorie

 

Ons huidige hond het ons gekry nadat Sam aan bosluiskoors dood is – opgedoen een langnaweek by ‘n honde hotel. Dit was op die 1e herdenking van die nuwe Suid-Afrika in 1995.

Dit maak dat Lucy nou nogal oud is – 16 jaar, een van die dae. Nou is die hondjie wel al beide bykans blind en heeltemal doof, maar sy lyk nog nie moeg vir die lewe nie.

Ons honde was nog altyd troeteldiere en nie knorrende bakleiers of keffende wolbolle nie, dus ten spyte van so ‘n paar slegte gewoontes en onvermoëns wat die hondjie nou aangeleer het/aan lei, verdra ons dit maar.

Maar ek vermoed sy het dalk Alzheimers se siekte ook, want sy sal vir lang rukke op een plek – gewoonlik in die middel van waar die huismense wil loop – doodstil staan en, wel, net staan. Toegegee, ek doen dit deesdae ook, maar nog nie so dikwels nie.


Nou wonder ek of, wanneer sy in hierdie trans is, hondjie iets dink, en indien wel, wát. Soos bv:


  • as ons dan nou almal honde is – klaarblyklik “dink” honde jy is ook een, net die leier van die trop – waarom loop ek op 4 bene en die tropleier op 2?
  • waarom deel die tropleier nie sy biltong met my nie – dis mos sy instink?  
  • hoekom moet ek soggens 5:15 uitgaan om ‘n draai te loop en hy staan binne die agterdeur en wag?  
  • hoekom hou my mense nie daarvan as ek liefdevol in hulle gesigte hyg nie?  
  • hoekom mag ek nie ook op die bed slaap nie?  
  • hoekom eet hulle nie ook hondepille nie?  
  • moet ek alweer self die blerrie trappe klim slaapkamer toe? 
  • hoekom maak hulle so bohaai as ek stilweg in my slaap poep voor die TV?
  • wie is ek nou weer?
  • ensomeer

Heimlik  hoop ek maar Lucy gaan eendag sag heen, want maak nie saak hoeveel keer ek hoor dat die gebruik met die laaste rite is dat jy jou hond styf vashou terwyl die vee-arts die finale inspuiting toedien, glo ek steeds nie ek sal dit regkry nie.

Hoe lank bly snaaks, snaaks?

Maart 19, 2011 in Sonder kategorie

In Sweet Liberty (1986) vertolk Alan Alda – bekend vir die TV-reeks MASH – die rol van ‘n kollege geskiedenis professor in ‘n klein Amerikaanse dorpie in die Nieu Engeland staat.

‘n Feitgebaseerde geskiedkundige roman wat hy geskryf het, trek Hollywood se aandag, en ‘n filmspan kom op die dorp aan om dit te skiet.

Alan verskil van die regisseur se kreatiewe weergawe van die uitbeelding van ‘n veldslag in terme van die geskiedkundige korrektheid daarvan.

Die regisseur op sy beurt, argumenteer dat vir enige fliek om trefkrag te hê, 3 elemente benodig word: naaktheid, beskadiging van eiendom en verontagsaming van gesag. Hierdie elemente is dus in die draaiboek bygewerk.

Omdat die regiseur hom afvee aan Alan se besware, lewer hy en van sy vriende – wat ook rolle vertolk in die fliek, aangesien amper die hele dorp ekstras is – hulle eie (moedswillige) interpretasie van hierdie 3 aspekte tydens verfilming van die veldslag.

Natuurlik is dit glad nie hoe die regisseur dit bedoel het nie, met Alan wat elke keer sy hand uitsteek na die kamera en die 3 aspekte so een-een met sy vingers aftel soos hulle dit illustreer.

Dis die laaste aspek – disrespek vir gesag – wat my laat terugdink aan ‘n insident in my skooldae op Vredenburg, en my steeds laat lag.

In Std 6 was die laer- en hoërskole saam in een gebou, maar dit was veels te klein. ‘n Nuwe hoërskool was in aanbou langsaan, en van die senior standerds het reeds oorgetrek.

In Std 7 begin ons toe ook in die nuwe gebou, maar daar was nog steeds klein werkies wat nie klaar was nie. Een van hierdie was die interkomstelsel, waardeur die administrasie blok met enige of alle klaskamers kon kommunikeer.

Uiteindelik is dit ook darem klaar, en moet nou getoets word. Ons sit in die Wiskunde klas toe die skoolhoof se stem oor die interkom klink: ”Mnr Chamberlain, kan jy my hoor”?

Waarop Mnr Chamberlain toe antwoord: ”Nee meneer, ek kan jou nie hoor nie”.

Noem dit die naiewe waarneming van ‘n tiener, maar as jy die mense, die tydgebied en die kleindorpie gesagstruktuur van daardie tyd geken het en boonop Mnr Chamberlain se gesig gesien het, dan was dit skreeusnaaks.

Vandaar my hoop dat ek nooit “so” oud word dat ek eendag dink dit was “simpel” nie.

Hoe dit als begin het

Maart 18, 2011 in Sonder kategorie

Met dié dat daar toe nou vir Lottering ‘n motorfiets met syspan aangeskaf is, dink sy baas dit toe goed om die burgemeester en die raad oor te nooi vir ‘n toer van die tremloods fasiliteite.

 

Die plan is om hulle aan al die afdeling se werksaamhede bekend te stel, maar die hoogtepunt gaan natuurlik wees hierdie nuwe innovasie – sy idee – om tremlyn onderhoud vanaf ‘n motorfiets te bedryf.

 

Nou verduidelik hy vir Lottering dat op ‘n gegewe oomblik, hy by die hek moet uitry met die motorfiets, natuurlik volgelaai met onderdele, leer en handlanger. Dan ry hy om die blok en as hy terugkom, dan kom stop hy daar voor hulle sodat die raad nou hierdie stuk toerusting van nader af kan inspekteer.

 

So gesê, so gedaan. Die burgemeester en raadslede staan almal daar netjies uitgevat, goue ketting en al, en Lottering word beduie dat sy deel van die “vertoning” nou aangebreek het.

 

Hy ry uit by die hek, links af in die straat, agter-om die blok en is nou besig om die hek van die ander kant te nader.

 

Maar hy het nou net laasweek eers hierdie motorfiets gekry, en het tot dusver nog net bietjie in die jaart geoefen. Hy is dus bietjie ongemaklik, veral met die leer wat aan die syspan vas is – dis eers later dat hy so bedrewe met die motorfiets geraak het.

 

Om seker te maak hy steek nie die punt van die leer in die heining vas met die draaislag as hy by die hek inry nie, besluit hy om mooi simmetries tussen die twee oop swaaihekke deur te ry. As teiken gebruik hy die smal sementblok in die middel van die opening waar die hekke se slotpenne in sak as dit toegemaak word. Die idée is om wydsbeen oor hierdie blok te ry, soos almal wat die jaart met motors besoek maar doen.

 

Wat Lottering nie besef het nie, was dat die hegting van die syspan aan die motorfiets deur middel van dwars stange gedoen word. Twee bo, en een onder. Wel, die onderste een is toe laer as die hoogte van die sementblok.

 

Die motorfiets stop net daar, maar Lottering, sy handlanger, en meeste van die los goed reis voort, en kom in ‘n stofwolk te lande reg voor sy baas en dié se gaste.

 

Sy baas kyk hom so uit die hoogte aan, vir ‘n oomblik stomgeslaan, maar kry darem toe weer beheer van sy sinne met: “Well gents, I think we’ve seen enough. Let’s move on”.

 

Tot sy verdediging, Lottering het darem een deel van sy instruksie korrek uitgevoer – hy het wel gestop reg voor sy baas en gaste, soos versoek.

Konteks

Maart 17, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend op pad werk toe luister ek na die nuus op RSG.

Een van die insetsels gaan oor water meters wat nou in ‘n township installeer is, en hoe verbaas! die inwoner was toe sy die aand by die huis kom en hierdie blinknuwe meter sien.

 

Daar word toe nou verder oor die sosio-ekonomiese aspekte hiervan bespiegel en hoe hierdie inwoner dan nou die water gaan bekostig uit haar stat stoela (sic).

Terwyl ek nou – soos gewoonlik – probeer woorde opsoek waarmee ek bekend is en wat “klink soos” wat ek so pas gehoor het, dring die konteks van die artikel tot my deur, en ek besef “stat stoela” moet dan seker dieselfde beteken as “gawwer mint allau wins”?

Lottering en Dodds

Maart 14, 2011 in Sonder kategorie

Gister hierdie storie gehoor vir die waarheid.

Destyds toe Pretoria beplan is, is daar soos met meeste dorpe, die begraafplaas so ‘n ent weg uit die dorp geplaas.

Toe die mense weer hulle oë uitvee, is die begraafplaas BINNE die dorp soos dit uitbrei daar na die weste toe, en daarmee saam die trem netwerk.

Lottering, wat destyds vir die Elektriese Afdeling van die stadsraad gewerk het, se taak was om instandhouding te doen op die  tremlyne – sekerings wat blaas, laste wat slyt, ens.

Die onderhouds-afdeling was gestasioneer binne die ou trem-loods, en aangesien die trem netwerk toe nou al tot by die begraafplaas strek, word daar besluit om ‘n motorfiets met ‘n syspan aan Lottering uit te reik, waarmee hy en sy handlanger kon uitry en herstelwerk/onderhoud gaan doen.

Binne die syspan was bokse sekerings, laste, gereedskap en ander dergelike toerusting, ‘n skuifleer aan die kant en dan bo-op hierdie pakkaas, Lottering se handlanger. Dit was ‘n heel effektiewe opset en het die herstel reaksie-tyd aansienlik verbeter.

Eendag is hulle op pad terug tremloods toe, en met dié dat hulle die laaste draai binnegaan, kom Dodds net mooi van voor af met sy motor – hy het altyd gery na ‘n ander afdeling se teekamer 10-uur – op pad terug kantoor toe.

Lottering besef toe as hy nie een of ander ontwykings-aksie pleeg nie, hy en Dodds mekaar vandag per ongeluk gaan ontmoet, aangesien laasgenoemde die draai so nou gesny het dat hy nou heeltemal aan die verkeerde kant van die pad was.

Met ‘n verbete poging word die motorfiets na regs geswaai, en jaag hulle diagonaal oor die kruising reguit by die deur in van ‘n kafee oorkant die pad. Gelukkig was die kafee-gebou se hoek afgesny aan die voorkant en beide deure oop, sodat die motorfiets en syspan net mooi deur die kosyn pas. Die motorfiets kom toe onder bedwang net toe die voorkant van die leer so ‘n ligte DONK! stamp teen die Griek se toonbank.

Net om te wys wat ‘n alledaagse gebeurtenis hierdie in sy lyn van werk is, staan Lottering toe regop op die fiets se voetstutte, leun vorentoe oor die fiets se handvatsels, slaan met sy twee hande op die toonbank en sê: ”’n Pakkie sigarette asb”.

Hy was net terug by die tremloods, toe bel Dodds: ”Some jolly good evasive action there, my boy!”.

Voorsate

Maart 4, 2011 in Sonder kategorie

Daar is al voorheen navraag gedoen in kommentare of ek en PG familie is. Wanneer ons dan skuld erken – ons is broers – sou ‘n opvolg kommentaar wees dat ons soortgelyk skryf. Ons verkies om die woord “styl” hier uit te hou.

 

Toe dag ons – sonder om bymekaar af te kyk – om iets te blog oor dieselfde onderwerp, en dan self te sien of bostaande observasie waar is.

So nou die aand beantwoord tannie Una daardie eeue oue vraag wat elke mens sedert voorskool al mee worstel “Ma, waar kom ek vandaan?”

 

Nou blyk dit dat alhoewel beide ons ouers se vanne van Nederlandse afkoms is, ons stamvader nie uit Europa hier aangekom het nie.

 

Die eerste Jonker in Suid-Afrika, was Adolph, wat op 26 Junie 1760 in die huwelik bevestig is. Duidelik het Adolph sy vrou baie goed geken teen daardie tyd, aangesien sy seun Johannes, 3 maande na die troue gebore is.

 

Sy ouers was ‘n Jonker van Makassar en ‘n Rosetta van Java. 

 

Makassar op die Sulawesi-eiland  is deel van Oos-Indonesie, waar Java in die suidelik strook lê – ‘n goeie 1000km uitmekaar soos die kraai vlieg, of in daai tyd seker “soos die boot seil”.

 

Die VOIC was sedert 1602 hier gevestig, dus was Adolph se pa heel moontlik ‘n bemanningslid op een van die inter-eiland kruie-en-speserye bote, wat besluit het hy het nou genoeg in die boot geskud, en soek nou bietjie vastigheid onder sy voete. Hy gaan Java toe.

 

Hy het in elk geval gehoor die koffie is lekker daar, en is hoeka nou al goed teë vir neutmuskaat.

 

Alhoewel (of dalk as gevolg daarvan?) die Hollanders reeds in die vorige eeu in daardie omgewing per skip begin handel dryf het – dis juis vir hierdie roete dat hulle die Kaap benodig het om voorraad in te neem – moet mens wonder of hierdie Rosetta wel van suiwer Europese afkoms was.

 

Hoe dit ook al sy, die eg Suid-Afrikaanse gedagte van boetedoening het by my opgekom of daar nie dalk voordeel te trek is hieruit nie. Bv:


  • Doen aansoek om ‘n Hollandse paspoort.
  • Vind uit of die perseel waar Rosetta grootgeword het nie dalk nou ‘n uiters winsgewende koffie-plantasie is nie, en sit ‘n grond-eis in.
  • Indien sy wel ‘n plaaslike dame was, doen aansoek om tot voorheen-benadeeldes verklaar te word en eis ‘n skuldvergoedings-toelae.

  

Heel leuk idee vind ik! Of toch niet?