Jy blaai in die argief vir 2010 Desember.

Die bok is getoor

Desember 14, 2010 in Sonder kategorie

Die aanloop tot hierdie beskrywing kan hier gelees word.

 

Na ons kar rol ondervinding op pad Windhoek toe en die omruil met PG se kar, begin ons Namibië toer in alle erns.

Etosha, die ander Vingerklip en Khorixas. By die versteende woud ontmoet ons ‘n ander SA toeris (Philip Welle) wat op sy eie deur Namibië toer. Ons besluit om ‘n konvooi te vorm, en van daar af reis ons saam deur Twyfelfontein, Verbrande Berg en die Orrelpype. Ten minste hoef ons nou net die hekke óf oop óf toe te maak – deesdae klaarblyklik vervang met motorhekke – soos ons verder toer na die Brandberg se Wit Vrou en toe met die soutpad af tot in Swakopmund. In die proses kry ons twee pap wiele en skryf ‘n 3e band heeltemal af.

Op die datum ooreengekom met my natuurbewarings-vriend Johannes Henschel, verlaat ons Swakopmund via Walvisbaai en draai regs net na Vogelfederberg, om 60km later by die Gobabeb Navorsing Sentrum aan te land. Ons word van akkommodasie voorsien in die internasionale besoekers-kompleks as spesiale gaste van Joh en sy vrou.

Gobabeb middel onder

Die volgende oggend vaar ons die woestyn in via die Kuiseb rivier in ‘n hard gewerkte Land Rover 110 bakkie na Joh se navorsings “perseel” tussen die duine, waar hy besig was met ‘n studie van die “Dancing White Lady” spinnekop.

Hierdie valdeur spinnekop grawe ‘n nes teen die flank van die duine, en voer die tonnel uit met sy. Joh het sy navorsings area met penne en toue in ‘n 10m x 10m matriks uitgemerk, aangesien dit kardinaal was tot die oorlewing van die spinnekoppe.

Na die spinnekoppe gevang en na die navorsingstasie geneem is vir verdere ontleding, word dit weer teruggeplaas in hulle habitat. Dit moet egter binne ‘n paar meter van die oorspronklike nes wees, aangesien die spesie geweldadig gebiedsgebonde is, en deur naburige spinnekoppe aangeval sou word indien daar “betree” word. Vir meer detail oor die terrein, verwys na die Study Area paragraaf hier: http://www.americanarachnology.org/JoA_Congress/JoA_v30_n2/arac-30-02-321.pdf

Joh was al goed gekonfyt om die spinnekoppe se neste raak te sien deur die spoortjies te volg, en ons kon dit ook gou waarneem.

Halfmaan valdeur sigbaar bokant draadjie  – om dit mee op te lig

Eers het hy die helling van die duin en die deursnit van die valdeur gemeet. Daarna het hy buite-om die nes gegrawe en die hoek waarteen die sak die duin binne gedring het asook die lengte daarvan gemeet.

Joh besig om die nes se onderkant te soek

Die prooi reste onder in die nes moes analiseer word, maar op hierdie stadium was die spinnekop steeds binne in die nes, hangende aan die onderkant van die valdeur, in ‘n poging om dit toe te hou teen die “indringers”.

Sodra Joh die valdeur oplig, het die spinnekop sy intimidasie stand ingeneem, deur die voorste 4 pote in die lug op te tel. Gou het dit egter besef dat hierdie indringer nie verdedigbaar was nie en ‘n lyn gesny en teen ‘n spoed die duin afgehol.

White Lady met nes regs

Vir ‘n spinnekop was dit blitsig, maar geen kompetisie vir Joh nie, wat langs die spinnekop gehardloop het met sy kamera in ‘n poging om ‘n paar fotos te neem. Daarna is die Leucorchestris Arenicola gevang en in ‘n plastiek botteltjie met ‘n paar luggate gestoor.

Het jou!

Terug by die sentrum is die spinnekoppe geweeg, geslag bepaal en dan gekodeer – baie slim, met verskillende kleure tippex op die pote. Dis sodat indien dit na vrylating later weer gevang sou word, inligting aangaande die spinnekop se migrasie ingewin kon word.

‘n Ander stukkie navorsing wat deur die sentrum onderneem is, was om vas te stel hoe dit moontlik was vir ‘n Gemsbok – wanneer ander diere skaduwee soek – om in die middel van die dag doodstil op ‘n duin te staan en nie aan hitte-uitputting te beswyk nie. Maw, waarom kook die bok se brein nie?

Hierdie gedrag is ook opgemerk onder die Topnaars se bokke. Die sentrum koop toe ‘n bok by die plaaslike inwoners en plant ‘n aantal elektroniese temperatuur sensors in verskeie dele van die bok se skedel. Hierdie sensors is verbind met ‘n radio-kraag, en die temperature kon intyds gemonitor word.

Uit hierdie data is toe vasgestel dat die lug in die bok se neusholte sirkuleer oor ‘n gebied van diggepakte bloedvate. Wanneer die lugvloei oor die bloedvate verhoog word deur te hyg, word hitte uit die bloed onttrek voordat dit die brein bereik.

Soos dikwels, aap tegnologie onwetend die natuur na, en dieselfde beginsel word vandag in motors se verkoelers gebruik, waar die waaier die lugvloei verhoog en die verkoelingsmiddel se temperatuur laat daal.

Maar die storie het ‘n stertjie.

Nadat die navorsing voltooi is, het die sentrum nie meer ‘n doel gehad vir die bok nie. Hulle gee dit toe terug vir die Topnaars, wat onmiddelik hoogs agterdogtig was.

Ek bedoel, eers koop die mense die bok by ons – en betaal ons daarvoor – nou gee hulle die bok terug maar vra nie die geld terug nie.

Dit maak mos glad nie ekonomiese sin nie. Nee kyk, ons is darem nie vandag gebore nie. Hierrie bok is getoor! Hulle slag dit toe net daar en hou braaivleis.

Ons laaste aand was een van daardie skaars “big sky” ondervindings, waar ons by Mirabib kampeer het in ‘n oorhang grot. Met die volmaan wat die strak landskap verlig, het jy weereens besef hoe nietig jy is.

Vaarwel aan Mirabib

Beijing Observasies

Desember 12, 2010 in Sonder kategorie

As jy land op Beijing se lughawe, is die een ding wat jou dadelik opval die ordelikheid van die mense. Dis dalk deels toe te skryf aan die kennisgewings wat oral in groot letters – sodat jy dit vanuit die immigrasie-tou kan lees – teen die mure aangebring is.

Dit lees min of meer as volg: 

  • Hou jou paspoort gereed.
  • Wanneer jy aangewys word om die immigrasie toonbank te nader, wys jou paspoort met geldige visum.
  • Indien jy nie ‘n geldige visum het nie, verduidelik waarom nie.

Daai “verduidelik” laat jou vir die soveelste keer net gou seker maak jy het JOU paspoort en dat die 3 maande visum wat 4 dae gelede toegestaan is wel nog nie verval het nie.  


Sodra jy natuurlik deur die lughawe is, hou die ordentlikheid op, en daar is ‘n paar dinge wat aanpassing verg. Soos tou staan by die ondergrondse treinstasie byvoorbeeld.


Dis ‘n heel nuwe konsep. Ipv in lyne loodreg op die toonbankvensters te staan, vorm die “tou” al met die toonbank langs – van beide kante.


As jy dan nog verder kort genoeg is – meeste Chinese kwalifiseer – kan jy die tou heeltemal ignoreer, onder die toonbank induik, en net jou hand met die regte bedrag – die trein gaan net na een plek – bokant die toonbank swaai. Die kaartjieverkoper sal dan jou geld vat en die kaartjie terug in jou hand stop. Irriterend nogal.


Wanneer jy terug by die lughawe is – aan die Chinese kant, en wil uit – moet jy nie waag om weg te kyk van die persoon voor jou in die tou nie. Of selfs buk om jou skoenveters vas te maak nie.


Verseker sal die persoon agter jou, indien hy sien jy volg nie onmiddelik op die persoon voor jou se vorentoe skuifel nie, gou sy trollie uit die tou stoot en voor jou kom indruk. Nog meer effe irriterend.


Dan eet die mense mos nou ook anders as wat ons gewoond is. Gedroogde wurms – heel lekker, paling – baie lekker, snaaks genoeg GEEN rys nie, eerder noedels.


Die plaaslike Pizza Hut – presies nes hier, selfde dekor, logos, spyskaarte, alles – het ook ‘n seegras pizza op die spyskaart. Besonders lekker, met die aardigheid dat, omdat die seegras vertikaal bokant die kaasvlak van die pizza uitsteek, die hitte wat deur die pizza uitgestraal word, dit laat “lewe”. Die seegrassies wuif sowaar vir jou.


En Starbucks se koffie is net so duur daar as in die VSA.


Katie Melua is reg:  daar is TEN MINSTE 9 miljoen fietse in Beijing. Dis fassinerend om dop te hou vanuit jou hotelvenster. Hierdie digte swart massa, wat wanneer die verkeersligte na groen verander, skielik in ‘n see van miere ontaard, om weer by die volgende kruising te konsolideer.


Wanneer jy jou fiets parkeer voor die universiteit en daar skort iets daarmee, los jy ‘n nota op die fiets wat die probleem beskryf. Terwyl jy klas bywoon, doen ‘n hersteller die rondte, en vervang enigiets van ‘n remkabel, klokkie, speke – watookal – en jy betaal hom as jy uitkom, reg om die tuisreis met jou padwaardige fiets aan te pak.


Die stad is baie meer ontwikkel en op die oog af beskaafd as bv Suid-Afrika, en dit het my eintlik verbaas. Die motors is modern – Citroen en Jettas net waar jy kyk – en die infrastruktuur uitstekend ontwikkel. Ek het gedag dat dit maar ‘n agtergeblewe nasie was.

Lyk my dit was toe bloot Westerse propaganda.

Klemverskuiwing

Desember 11, 2010 in Sonder kategorie

Charl se ma het die plaas bedryf totdat hy klaargemaak het met sy landbou graad op Stellenbosch. Dis waar ek hom raakgeloop het toe hy oortrek na dieselfde koshuis as ek, met ‘n gedeelde belangstelling in SCUBA duik.

Sy ma het geweet ‘n ouer en kind saam op ‘n plaas werk nie, en wyslik besluit om Strand toe te trek – lekker ver weg – en bietjie haar sosiale lewe op te skerp in ‘n aftree-oord, waar sy later ‘n kranige brugspeler was.

Nou vertel Charl my van die plek waar sy ma heen gaan, waar ek ook later per geleentheid vir tant Annie gaan kuier het.

Nee, seg hy, die plek se naam is Altená. Dis vol ou mense, dus is die konneksie wat mens maak om die oord se naam te onthou: Die mense wat daar bly, is al te na aan die dood. Ek stem saam, dis darem maklik om te onthou.


Tant Annie is al lankal oorlede, maar nou die oggend is ek op ‘n ongewone tyd in my motor iewers heen op pad, en waar ek soggens nuus luister op pad werk toe, is daar nou ‘n versoekprogram op RSG.


Een van die boodskappies van beterskap is toe aan iemand by ‘n oord in die Strand met die naam Alténa. Nou dag ek – tipies – weet hedendaagse omroepers nie hoe om wat hulle lees ordentlik uit te spreek nie. Ek weet mos die plek se naam is Alte……


Nee man Charl, vir wat leer jy my so verkeerd!!

Why did the chicken cross the road?

Desember 10, 2010 in Sonder kategorie

Een uit die argiewe.

  

 

ALBERT EINSTEIN:

 Did the chicken really cross the road or did the road move beneath the chicken?

    

ARISTOTLE:

 It is the nature of chickens to cross the road.

    

BILL CLINTON:

 I did not cross the road with THAT chicken. What do you mean by “chicken”? Could you define “chicken” please?

  

BILL GATES:

  I have just released e-Chicken 2001, which will not only cross roads, but will lay eggs, file your important documents, and balance your cheque book. And, Internet Explorer is an inextricable part of the Chicken.

    

BISHOP TUTU:

 We need a society where people will learn to forgive all the chickens that crossed the road. However, forgiveness will only be granted to chickens that can convince the nation that their reasons for crossing the road were politically motivated.

  

CAMILLA DODDS (since married to Prince Charles)

 To get to the other bloody side!!!!!!

  

COLONEL SANDERS (KFC):

 I missed one?

  

CAPTAIN JAMES T. KIRK (from Startrek):

 To boldly go where no chicken has gone before.

  

COSATU:

 To steal a job from a decent, hardworking, South African.

    

DR SEUSS:

 Did the chicken cross the road?

 Did he cross it with a toad?

 Yes! The chicken crossed the road,

 but why it crossed, I’ve not been told!

    

ERNEST HEMINGWAY:

 To die. In the rain.

    

FOX MULDER (from X-Files):

 You saw it cross the road with your own eyes. How many more chickens have to cross before you believe it?

    

GEORGE W. BUSH:

 I don’t think I should have to answer that question.

    

GRANDPA SIMPSON:

 In my day, we didn’t ask why the chicken crossed the road. Someone told us that the chicken crossed the road, and that was good enough for us.

    

HANSIE CRONJE: 

 The devil made him do it.

    

KARL MARX:

 It was a historical inevitability.

  

MARTIN LUTHER KING:

 I envision a world where all chickens will be free to cross roads without having their motives called into question.

    

NELSON MANDELA

 Never again, will the chicken be questioned for crossing the road. This is an ideal for which I am prepared to die.

    

PAN AFRICAN CONGRESS:

 The road, you will see, represents the black man. The chicken “crossed” the black man in order to trample him and keep him down.

    

RAY McCAULEY:

 Because the chicken was gay! Isn’t it obvious? Can’t you people see the plain truth in front of your face? The chicken was going to “the other side”.

 

That’s what “they” call it, “the other side.” Yes, my friends, that chicken is gay. And, if you eat that chicken, you will become gay too. I say we boycott all chickens until we sort out this abomination which the liberal media whitewashes with seemingly harmless phrases like “the other side”.

 

That chicken should not be free to cross the road. It’s as plain and simple as that.

   

ROBERT MUGABE:

  We should really try to understand this chicken. As Hansie pointed out – Satan made him do it. We all know how devious Satan can be.

    

RONALD REAGAN:

 What chicken?

    

SIGMUND FREUD:

 The fact that you are at all concerned that the chicken crossed the road reveals your underlying sexual insecurity.

  

THABO MBEKI:

 We need to establish if there really is a connection between the chicken and the road.

  

TONY LEON:

 People should stop blaming everything on the legacy of ‘the chicken that crossed the road’. The chicken never willingly crossed the road – the circumstances at that time forced the chicken to cross the road. 

Slotmaker, bepaal jou by jou lees

Desember 9, 2010 in Sonder kategorie

 

Paasnaweek hou ons vakansie by die Mlilwane reservaat in Swaziland.

 

‘n Groep van 4 gesinne wat mekaar al JARRE ken – dieselfde lot wat hier verskyn – sommige van hulle familie, die res amper. Daar word toe weereens bevestig dat “die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie”. Dis nou toe Adriaan sy motor se bagasiebak toeslaan nadat hy die rondawel se sleutel daarin gebêre het, en besef dis sy KAR se sleutel wat nou daar binne is. Hy staan nog met die rondawel s’n in sy hand.

 

Ongelukkig vir hom, is sy C-klas Merc een van daardie modelle  wat die bagasiebak outomaties sluit as jy dit toemaak. Aangesien hulle die kar tweedehands gekoop het met net een sleutel, was hierdie toedrag van sake nou ‘n wesenlike probleem.

 

Maar eers gaan ons vir ‘n berg-rit deur die reservaat, op na Execution Rock. Dis nou in die hoop dat die natuur ons so inspireer dat ons kliploos die kar se oopkry kan uitvoer met ons terugkeer. Behalwe vir die karsleutel, is Lizette se handsak met die paspoorte ook in die bagasiebak. Dit móet dus soort van uit want ons ry môre terug deur die grenspos – hulle, rigting Ceres.

 

Terug in die kamp sien ons dit gaan baie moeilik wees om die kar heel te hou in die oopmaak proses aangesien die slot knoppies heeltemal in die deur terugtrek. Maar een van die locals by ontvangs reken hy kan dit dalk oopkry – hy benodig net ‘n nommerplaat.

 

Ek haal toe een van die ander motors se nommerplate af en gee dit vir hom, wat hy toe indruk tussen die buitekant van die bestuurder se ruit en die rubber. Darem geen skade nie – maar ook geen sukses.

 

Ons het later verneem daar is ‘n plaat binne ‘n Mercedes se deur wat hierdie triek verhoed – ons man het seker sy ambag geslyp op goedkoper karre.

 

‘n Slotmaker word toe op Mbabane opgespoor – onthou nou, dis Paas Sondag vandag – en hy onderneem om uit te kom en die kar oop te maak. Hy noem darem dat die moontlikheid bestaan dat hy dit nie kan oopkry nie, en daag toe daar op nes sommige van ons die kamp uitry vir ‘n 2e uitstappie.

 

Op pad kamp-uit sien ons ‘n oliestreep die pad af wat ons nie voorheen opgelet het nie, met wat lyk soos ‘n nageboorte, gestort net binne die hek. Ons draai om en bevestig toe dis die slotmaker se bakkie wat so mors, en dat daar nie veel olie in sy kar kan oor wees nie. Hy sal dit nagaan voor hy ry – maar hy het net voor die naweek sy kar laat diens – met gebruikte olie, as jy my vra.

 

Ons ry ons draai, en ontmoet onder andere die stigter van Swaziland se reservate – Ted Reilly – by die huis wat hy in grootgeword het en wat nou luukse akkommodasie is. Wat ‘n voorreg.

 

Toe ons die kamp weer binnery, is ons net betyds om te sien hoe Adriaan sy kar se agterlig met ‘n hamer uitslaan.

 

Terwyl ons weg was het hulle toe die voordeur oopgekry – met twee gevolglike duike in die dak waar die slotmaker sy skroewedraaiers gedruk het, rubber matjies ten spyt – maar die kar kom toe agter daar word ingebreek en die knoppie binne wat die bagasiebak oopsluit werk nie meer nie.

 

Die agterste nommerplaat en raampie word toe afgehaal om die metaal bloot te stel. Die slotmaker boor ‘n paar gate om met hakies die slot meganisme te probeer aktiveer, en haak in die proses die knipkabel los en breek die elektriese drade af.

 

Adriaan bel toe sy werktuigkundige in Worcester – dis steeds Paas Sondag – vanaf ‘n tiekieboks in die kampeerterrein – selfone werk nie – en die ou antwoord wragtag. Die advies is toe, breek die linker agterlig.

 

Nou ja, hy vis toe blindweg die sleutel asook die handsak met die paspoorte uit deur die gat waar daar onlangs nog ‘n agterlig in was. Omdat die slotbreker nou egter al die meganismes onklaar gemaak het, kan die bagasiebak nie meer oop nie, al het jy die sleutel.

 

Dié het intussen agtergekom dis sy oliefilter wat aan die laaste skroefdraadjie hang wat die lekkasie veroorsaak het en het dit teruggeskroef, maar die enjin is nou leeg. Adriaan neem hom toe na die naaste garage en bring hom terug met ‘n kan olie en betaal hom R500 vir die “werk”.

 

Hulle bagasie is toe in Armas se sleepwa terug vervoer na die beskawing. Die kar is daarna in Johannesburg herstel – behalwe vir die duike in die dak – vir R9000.

 

My eie navrae in Pretoria het ‘n splinternuwe agterlig opgelewer vir R1140. Dit blyk dus (heelwat) goedkoper te wees om eerste ding sommer jou agterlig uit te slaan as hierdie senior oomblik jou tref. Ek is net nie seker waarom dit juis die LINKER agterlig moet wees nie.

 

Maar dit was steeds ‘n vreeslike lekker vakansie, dankie. Met ‘n storie.

?

Newton was verkeerd

Desember 8, 2010 in Sonder kategorie

Ja, einste Isaac, wat ons van geleer het op skool.

 

Ek kan nou nie onthou of dit hy, ‘n Amerikaanse president of dalk self Johnny Appleby was wat destyds aangekondig het: “Die appel val nie ver van die boom af nie”, maar hy het sekerlik baie observasies moes doen voordat hy sy 3 bewegingswette gepubliseer het.

 

En steeds was hy verkeerd. Hier volg my teorie.

 

Newton se eerste wet is F = ma. Dit beteken Krag (F) = Massa (m) x Versnelling (a). Die somme werk, dus het ek hiermee geen probleem nie.

 

Sy tweede wet het postuleer dat vir elke aksie daar ‘n gelyke en teenoorgestelde reaksie moet wees.

 

My Std 4 (ek dink) Wetenskap boek het so ‘n prentjie ingehad van ‘n vuurpyl wat opstyg. Tensy die stu-krag wat onder uitkom die effek van swaartekrag oorkom, gaan daardie vuurpyl nêrens nie. ‘n Treffende illustrasie, veral aangesien dit net omtrent die tyd was toe Apollo 13 suksesvol maan toe is.

 

Weereens: “Keine frage”.

 

Maar toe raak hy die kluts heel kwyt met sy 3e wet: Energie kan nie geskep of vernietig word nie, maar slegs van een vorm na ‘n ander omgesit word.

 

Wanneer iemand emosionele vertroosting nodig het, help ‘n drukkie in die meeste gevalle om die pyn/hartseer vir ‘n oomblik te verlig. Die gedrukte bedrukte ontvang dus energie vanaf die drukker. Lg moet dus nou moeger voel omdat daar volgens Newton, ‘n energie-verlies moes plaasvind.

 

Dalk is dit net ek, maar hoekom voel die vertrooster dan ook beter?

“Stella” Toekennings

Desember 7, 2010 in Sonder kategorie

Hopelik is hierdie insetsel oud genoeg om vars te wees. Dit onderskryf ‘n kommentaar op my vorige pos dat “fact is stranger than fiction”.

 

Bostaande  prys word jaarliks in die VSA toegeken vir die mees absurde hof-uitspraak itv ‘n publieke eis teen individue of besighede waar die klaer skade gelei het agv beweerde nalatigheid van die ander persoon of party. Onderstaande verduidelik die oorsprong hiervan.

 

In 1994, ken ‘n Nieu Meksiko jurie $2.9 miljoen in skadevergoeding toe aan die 81-jarige Stella Liebeck nav 3e-graadse brandwonde wat sy aan haar bene en skoot opgedoen het, nadat sy ‘n koppie McDonalds koffie daarop omgekeer het.

 

(Dis hoekom jy deesdae nie ‘n warm – soos in “piping hot” – koppie wegneem koffie by McDonalds kan kry nie. Hulle het hulle les geleer. 70°C word klaarblyklik as veilig – hofgeding vermybaar, in elk geval – beskou).

 

Na die aanvanklike toekenning het hierdie ‘n jaarlikse instelling geword, met die gevalle hieronder oorweeg vir meriete.

 

 

1. Kathleen Robertson het ‘n uitbetaling van $780,000 ontvang nadat sy haar enkel gebreek het toe sy oor ‘n kleuter geval het wat besig was om onbeheersd rond te hardloop in ‘n meubelwinkel.

 

Dis te verstane dat die eienaars van die winkel effe oorbluf was deur hierdie uitspraak, aangesien die kleuter mev Robertson se eie was.

 

 

2. Die 19-jarige Carl Truman het ‘n uitbetaling van $74,000 plus mediese onkostes ontvang nadat sy buurman oor sy hand gery het met sy Honda Accord.

 

Mnr Truman het klaarblyklik nie opgelet dat daar iemand agter die stuurwiel van die voertuig was toe hy probeer het om sy buurman se wieldop te steel nie.

 

 

3. Terrence Dickson wou die huis wat hy so pas beroof het, deur die motorhuis verlaat. Hy kon egter nie die garage deur oop kry nie omdat die deur se elektriese motor stukkend was.

 

Hy kon ook nie terug deur die huis nie, omdat die deur tussen-in self gesluit het toe hy dit agter hom toetrek.

 

Die inwoner en sy gesin was op daardie stadium met vakansie, en Mnr Dickson moes toe gevolglik die volgende 8 dae in die motorhuis deurbring. Hy het oorleef op ‘n kas Pepsi en ‘n groot sak droë hondekos.

 

Mnr Dickson het toe via die huiseienaar se versekering ‘n eis ingestel vir die buitengewone stres wat hy gedurende hierdie 8 dae moes verduur, en ‘n half-miljoen dollar vir sy moeite ontvang.

 

 

4. Jerry Williams het $14,500 plus mediese uitgawes ontvang nadat sy buurman se hond hom gebyt het.

 

Die hond was ten tyde van die voorval met ‘n ketting binne sy eienaar se omheinde erf vasgemaak. Mnr Williams was toevallig ook binne sy buurman se erf.

 

Die bedrag toegestaan was minder as ge-eis, aangesien die jurie gevoel het dat die hond dalk uitgelok is deur mnr Williams, wat op daardie stadium besig was om dit herhaaldelik met ‘n windbuks te skiet.

 

 

5. ‘n Restaurant in Philadelphia is beveel om Amber Carson $113,500 te betaal nadat sy gegly en geval het op ‘n koeldrankplas op die restaurant se vloer, en gevolglik haar stuitjie gebreek het.

 

Die koeldrank op die vloer was afkomstig vanaf mej Carson self, wat dit in haar kêrel se gesig gegooi het tydens ‘n argument 30 sekondes tevore.

 

 

6. Kara Walton het suksesvol ‘n nagklub gedagvaar nadat sy in die badkamer geval en haar voortande gebreek het.

 

Sy het op die vloer geval vanaf die toilet se vensterbank, waardeur sy besig was om in te klim van buite af om die $3.50 “cover charge” te ontduik. ‘n Bedrag van $12000 plus mediese uitgawes is aan haar toegeken.

 

 

7. Weliswaar slaag hierdie eise darem nie elke keer nie. Soos in die geval van Dorothy Johnson se mikrogolf oond.

 

Die jurie het gevoel dat die vervaardiger nie verantwoordelik gehou kon word vir die dood van mev Johnson se poedel, nadat sy dit gebad het en toe probeer droogmaak het in die mikrogolf oond: “net vir ‘n paar minute, op laag “. 

Storieboeke

Desember 5, 2010 in Sonder kategorie

Toe Steve Hofmeyer se sekskapades buite-egtelike kinders begin oplewer, noem hy in ‘n Huisgenoot artikel (jammer, ek het dit skelm gelees) dat dit baie moeilik is om hierdie situasies te hanteer.


“Sulke goed lees jy nie in boeke nie”, was sy eksakte woorde, as ek nou reg onthou. Steve het toe voortgegaan om nog sulke verhoudings aan te knoop, net om sy punt te bewys (no pun intended).


Die naweek gebeur daar toe iets met my wat ek nou weer gedink het jy lees net in storieboeke.


Ek parkeer Saterdag voor Makro, en net toe ek die onderdak stoepie betree, vra ‘n wildvreemde persoon my of ek nie dalk ‘n sleepstang soek vir my kar nie.


Ek is effe oorbluf, want gewoonlik vra wildvreemde mense my vir ‘n donasie, wil ‘n kookboek aan my verkoop, of nooi my vir die voorreg om ‘n gratis gym-lidmaatskap te wen indien ek net gou hulle vraelysie sou invul.


Nou wonder ek of die ou my dopgehou het, want hoe weet hy eens waarmee ek ry? Ek kyk gou terug. Dankie tog, die kar is nog daar – ek het al van sulke besig-hou sette gehoor.


Ja dankie, ek soek een, maar hoe is dit dat hy een het wat hy ontslae van wil raak? Ek bedoel, hoekom installeer hy dit nie op sy eie motor nie?


Nee, hy het presies so ‘n kar soos myne gehad, wat toe binne die eerste week van agter af gestamp word. Die versekering vervang toe die agterdeur, buffer en sommer ook die sleepstang, en toe hy die kar gaan haal na die herstel, gee die hersteller hom die oorspronklike – onbeskadigde – sleepstang saam.


My weldoener gee my sy besigheidskaartjie en elkeen gaan ons eie rigting in. Terug by die huis, wonder ek darem nou of ek die man moet bel.


Nou ja, my nuuskierigheid kry toe die oorhand, en om ‘n lang storie kort te maak: Ek het nou ‘n een week oue, nooit voorheen gebruikte sleepstang vir my kar. Gratis en verniet.


‘n “After-market” sleepstang kos R5000, en ek weet dat die oorspronklike motorfabrikaat modelle – wat hierdie een wel is – nog duurder is.


Maar dis nie die einde – of eerder, die begin – van die storie nie.


Laasweek besluit ons David gaan in Stellenbosch studeer volgende jaar. Nou moet ons sy bagasie daar onder kry en jy kan maar min vat op die vliegtuig. My vrou reken dalk moet ons as ons Desember afry soontoe vir vakansie sommer sy fiets ook saamvat, dan los ons dit daar vir volgende jaar.


Dis ‘n goue gedagte, maar die kar het nie ‘n sleepstang nie. Met my gevolglike rondbel, vind ek toe uit dat daar nie voorraad is nie, en dat die vroegste wat die verskaffer my sou kon help,  Februarie volgende jaar is.


Al wat ek van hierdie gebeure kan sê, is dat Kersfees inderdaad vroeg gekom het, en: Baie dankie Johan.

Vir Henry: Die “Long drop”

Desember 4, 2010 in Sonder kategorie

Oupa van Niekerk laat ‘n boorgat sink op Hoog-en-Droog, links af nes jy by die Boyne saagmeule verby is tussen Pietersburg en Tzaneen.


Ten spyte daarvan dat daar vér dieper geboor word as wat water verwag is, bly die gat droog. Omgewingsbewus soos oupa is, word die boorman aangesê om die gat toe te gooi.


Die boorman is glad nie lus hiervoor nie want die gat is beswaarlik 8” in deursnee, dus sal die grond graaf-vir-graaf daar ingegooi moet word. Hoe lank gaan dit nou nie vat nie? En hy moet aanskuif na die volgende plaas toe.


Hy dink so ‘n rukkie, en kom toe met die volgende voorstel: “Oom”, seg hy. “Jy ken mos die probleem van ‘n buite toilet. Die put raak weldra vol, dan moet jy ‘n nuwe put grawe, die sinke skuif en die ou gat toegooi”.


“Wat van oom skuif die – met permissie gesê – kakhuisie tot bo-oor die boorgat. Dan sal dit mos nou nie nodig wees om ooit in oom of die kinders se leeftyd weer ‘n put te grawe nie”.


Nou ja, redelike mens wat hy was, raak oupa Van Niekerk so aangegryp deur hierdie vooruitsig, dat hy die boorman bedank vir sy goeie idée. Hy was teen hierdie tyd redelik umm… gatvol vir hierdie ou takie. ‘n Ware wen-wen situasie.


Die boorman pak sy goed en hulle groet, en oupa se seuns word aangesê om die geboutjie te skuif. Voor sononder, is die installasie operasioneel.


Die volgende oggend net na brekfis, raak ouma Van Niekerk weg. Aanvanklik het almal gedink sy is maar iewers met iets besig, maar toe 10-uur kom en die koffie en beskuit word nie soos gewoonlik bedien op die stoep nie, toe begin die huismense – naas honger – ook bekommerd raak.


Eers soek hulle al om die huis, maar brei dit weldra wyer uit na die hoenderhokke. Nog later af rivier toe, maar ouma het werklikwaar spoorloos verdwyn.


‘n Uur of wat later klink daar ‘n histeriese gegil van agter die huis op. Oupa haas hom soontoe – hulle het ouma gekry – sy is binne die nuwe toilet.


Oupa loer in by die deur, en ja, daar sit sy. Potblou lippe, morsdood versmoor.


Oupa staan so ‘n rukkie lank doodstil, amper ingedagte, toe draai hy om en kyk sy seuns elkeen om die beurt stip aan, so asof wat hy nou gaan sê, die belangrikste ding is wat hy nog met hulle gedeel het.


“Ja”, seg hy. “Ek het julle ma gewaarsku dat hierdie gewoonte wat sy het om haar asem op te hou totdat sy die drol hoor val, nog haar dood gaan beteken”.

Toilet Humor

Desember 3, 2010 in Sonder kategorie

“Kattekwaad” in die ou dae het nogal baie verander met tyd. In ons jongdae was dit vrugte steel.

 

Ongelukkig was daar nie vrugtebome in die omgewing waar ek groot geword het nie – in elk geval nie van die soort wat ek van gehou het nie – dus moes ek maar tevrede wees om net daaroor te kon lees in die Trompie boeke.

Of wag, daar was daai keer toe ons in die koshuis skielik onhoudbaar lus geraak het vir druiwe, en met kussingslope gewapen op is in Merrimanlaan, links ingedraai het by Uniepark tot bo teen die grensdraad, waar daar nog wingerd was. Die teleurstelling was diep toe ons besef dat dit nie druiwe-seisoen was nie.

Alhoewel jy dit seker nie volgens die letter van die wet “onskuldig” sou kon noem nie, was hierdie tipe aktiwiteit wel skadeloos. Dit het nie die vandalisme-trant van lugdrade en ruitveërs van karre afbreek, verf krap met spykers, tuinmeubels/charka in iemand se swembad gooi, ens gehad nie. Dalk omdat daar nie alkohol betrokke by was nie.

Rol nou 80 jaar terug, toe my ouma-hulle dieselfde ouderdom was. Daar gaan regtig nie veel in die dorp aan om hulself mee te vermaak nie – naas vrugte steel – waarvoor hulle nou al moeg is.

Behalwe….

Dit was voor die dae van spoeltoilette, en ‘n emmerstelsel is in die dorp bedryf. Vroeg-oggend – net na middernag eintlik – word dit met die nagwa leeggemaak. Die oom skrik nie meer as jy vir hom BOE! skree deur die gat in die toilet se sitplank nes hy die deurtjie agter oopmaak om die emmer uit te haal nie. Hy het julle boonop laaskeer by julle pa gaan verkla en die eindresultaat was nie na wense nie. Hier word dus ‘n ander – meer geheimsinnige – plan benodig.

Aha! Die vol emmer word mos nou met ‘n leë vervang, en die “evidence” weggery agterop die oop donkie-wa.

Reg maats, sakke vol klippe, almal. Dan in daai groot boom op wat oor die pad hang by die dorps-uitgang. Mooi mik, dan gooi ons die klippe PLONS! in die vol emmers as oompie onderdeur ry.