Die reis, eerder as die vakansie

November 27, 2010 in Sonder kategorie

Met die aanmeld by die Bronberrik Vloot Basis ter bevestiging van die finale vervoer reëlings na my 3e diensplig kamp, word ek twee dae voor my vertrek meegedeel dat die kamp gekanselleer is.

Nadat ek onsuksesvol probeer het om myself in ‘n alternatiewe kamp in te redeneer (nee, regtig), druil ek erg teleurgesteld by die huis rond. Ek was immers nou voorbereid om ‘n maand lank weg te wees van die werk af, nou moet ek sowaar weer Maandag daar inklok.

“Kom ons gaan met vakansie” stel my vrou voor. “Ja!” stem ek saam. “Wat van Namibië? Ons ry Saterdag!”

Op ons 2e dag in Namibië, rol ek die Jetta op pad na Mukurob (die Vinger van God), wat toevallig – vermoedelik in simpatie – ook omgerol het die volgende jaar. Nadat die lekkende brandstofpyp herstel is, moes beide linkerwiele afgehaal word omdat die bande losgekom het van die vellings agv die sywaartse glyslag voordat die kar “ge-flip” het. Die los klippe moes eers uitgehaal word voordat dit weer gepomp kon word. Nie dat ons ’n pomp gehad het nie, maar dit sou my besig hou totdat hulp “opdaag”.

Die standaard wielsleutel – ‘n stuk pyp wat wat seskantig gevorm is voor – raak toe voordat die eerste moer eens kon loskom, ovaal. Toe pak ons maar ons nood-toerusing – ‘n rugsak met baadjies, waterbottel en ‘n rol toiletpapier – en val in die pad, in die rigting van ‘n plaashuis wat ons so ‘n entweg terug opgemerk het.

Na ‘n paar km se stap, kom 2 plaasarbeiders in ‘n antieke Landcruiser bakkie op ons af en bied hulp aan. Ons ry terug na die kar toe, en met behulp van ‘n swaar hamer en die kop van ‘n stukkende een as aambeeld, MOKER hulle die wielsleutel terug na nuut. Nadat die spaarwiel egter installeer is, skeur die pyp oop voor, en die tweede pap wiel kan nie losgemaak word nie.

Die plaaseienaar, wat intussen per radio ontbied is deur ons helpers, kom toe daar aan met sy kar se wielsleutel, wat toe pas. Een van die Jetta se pap bande is toe opgepomp met ‘n handpomp en weer teruggesit. Ons volg die konvooi en ry die plaaswerf binne met sononder, met beide die voor-en agterruite op die agtersitplek van die Jetta.

Daar word toe aan ons verduidelik hoe besonder gelukkig ons was om so gou – dieselfde dag – gevind te word. Dis nie nou skool-vakansie nie, dus is die verkeer maar skraps daar rond. Boonop is hierdie spesifieke plaas nou slegs ‘n veepos, en dus gewoonlik onbewoond.

Die enigste rede waarom daar mense is, is omdat die plaas verkoop is en die huidige eienaar besig was om “uit te klaar”. Ek het later uitgevind dat dit beteken dat soveel as moontlik van die wild – Springbokke – uitgeskiet word.

Na ‘n heerlike aandete, is ons slaapkamer aan ons toegewys.

Die volgende oggend, sit ons die reis voort. Windhoek is mos immers nader as die huis. Die Marie-beskuitjie spaarwiel is intussen weer vervang deur die oorspronklike (gepompte) wiel en ons kon darem nou teen meer as die aanbevole 80km/h vorder.

Op Mariental (seker ‘n tak van Pupkewitz & Sons) koop ons ‘n rol kleefband waarmee ons die voor-en agterruite beter mee kon vasplak, want dis al wat dit in posisie gehou het. Ons slaap die aand oor by Hardap.

Die kar het nog goed gery, en die enigste nadeel was die windlawaai en die ekstra poging om aan die stuurwiel te hang sodat dit reguit bly loop. Dan was daar ook die volgorde waarin die deure nou moes oop-en toegemaak word. Eers links agter, dan links voor. Klim voor in en maak toe, dan die agterdeur, en dan kon ek weer agter die stuurwiel inskuif. En daar gaan ons.

In Windhoek aangeland, vat ek die McGyver-tape Jetta na ‘n plaaslike paneelklopper in die hoop dat hulle dit binne ‘n paar dae kon herstel. Dit is immers nou eers dag 4 van ons vakansie, en ons het nog ver om te ry: Etosha, Khorixas, Swakopmund, Gobabeb, Windhoek en dan terug huistoe.

Die uitslag is egter verdoemend. Herstelwerk sou nie eens binne ‘n paar weke moontlik wees nie. Ek moes dit seker verwag het te oordeel aan die lyftaal van die stomgeslaande eienaar van die herstelwerf, toe hy sy kop so skeef hou en stadig (baie ….. stadig) om die kar stap.

Aanvanklik het ek gedink hy klik sy tong –Tsk, Tsk – maar ek besef toe later hy is besig om homself uit te druk in die plaaslike ekwivalent van Eishh!, oftewel !Xauk!, !Xauk!

Maar ons het ‘n vakansie om te voltooi en Plan B is toe om my broer, wat op daardie stadium diensplig in Windhoek doen, se kar te leen. PG bied toe ook sy Mazda 323 goedgunstiglik aan, aangesien hulle op daardie stadium besig was met ‘n forensiese ondersoek na ongemagtigde binnemuurse skiet-opleiding met ‘n Uzzi. Hy sou dus nie binnekort ‘n motor benodig nie.

Tydens ‘n vorige diensplig kamp het ek Johannes Henschel – deesdae Dr Joh Henschel – ‘n natuurbewaarder ontmoet. Hy was op pad na Gobabeb – ‘n navorsingstasie in die Kuiseb-rivier – en het my genooi om te kom kuier as ek ooit in die omgewing is.

Kommunikasie met Gobabeb was slegs moontlik via Walvisbaai Radio, wat ‘n see-na-land verbinding was. Dus het jy die radio-stasie per landlyn geskakel, en hulle kontak dan Gobabeb via radio. Alhoewel jy in ‘n telefoon handstuk gepraat het, moes jy al jou frases afsluit met “OVER”. Dan weet die operateur in die middel dat hy die Gobabeb kanaal na ontvangs toe moet skakel sodat jy kon hoor wat die ander party gesels, en vice versa.

Daar was daagliks ‘n 15 min tydgleuf in die oggend waarbinne alle oproepe moes plaasvind, en dis gemaak vanaf Natuurbewaring se Windhoek kantore. So bevind ons onsself toe in Kaizer Strasse, waar ons rondvra waar die Natuurbewaring gebou is.

Die aanwysing van ‘n verbyganger is toe: “Reg oorkant die straat van waar die Boesman in die venster staan”. Ons loop verder, op die uitkyk vir ‘n standbeeld van ‘n Boesman agter glas, maar kry nie so iets nie.

Gelukkig sien ons toe die Natuurbewaring gebou oorkant die straat van waar ‘n Nama op ‘n leer besig was om ‘n gebou se ruite te was.

3 antwoorde op Die reis, eerder as die vakansie

  1. TS het gesê op November 27, 2010

    lekker Saterdag oggend lees. Dankie

  2. jannel1 het gesê op November 28, 2010

    Lekker wereld daai! Maar nie die beste plek om karmoeilikheid te hê nie.

  3. Wel, 2 jaar later het ek die trotse eienaar van die symste Jetta geword, wat ek vir 10 jaar daarna nog gery het. Teen daardie tyd het sy harde eerste lewe begin tel op hom ….

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.