Jy blaai in die argief vir 2010 November.

Nader aan jou Skepper

November 30, 2010 in Sonder kategorie

Geografiese agtergrond: Leh is 150 km vanaf die destydse Indië/Pakistan brandpunt, Kargil. Beide dorpe is in die Ladakh provinsie in die staat van Jammu en Kashmir, waarvan 1/3 aan Pakistan behoort en die groter gedeelte aan Indië, soos deur die Britte toegedeel na hulle onttrekking uit Indië.

 

 

Om in Leh te kom vanaf Delhi, is ‘n 1h15 reis per vliegtuig. Dis nou mits die weer daarna is sodat dit ‘n oop dag is by die bestemming op enige van die 4 dae van die week waar gereelde vlugte – 1 vlug/dag – destyds vertrek het soontoe. Dis nou sodat jy darem die Himalajas – wat ‘n kom vorm waarbinne die aanloopbaan geleë is – kan misvlieg.

 

Die moontlikheid om te land al dan nie, hang bloot af van die sig wat die vlieënier oor beskik terwyl die vliegtuig die Indus vallei indaal, ‘n ent stroom-af (wes) vlieg, en dan ‘n U-draai maak tussen die berghange deur en terugkom om opdraande te land.

 

Agv swak sig die vorige dag, is ons vlug gekanselleer en ons slaap die nag oor in ‘n hotel op die redery se onkoste. Vroeg die volgende oggend vervoer die taxi ons terug lughawe toe vir poging nommer twee.

 

Die prosedure is eenvoudig: Begin wag vanaf voor son-op, en hang rond in die vertreksaal totdat daar – moontlik – aangekondig word dat die vlug wel plaasvind. Dit kan ‘n hele aantal pogings duur, maar vandag was die bestemming wel oop.

 

Naas die weer, is die 2e probleem om aan boord die KORREKTE vliegtuig te gaan. Hoe dit moontlik was dat nadat 5 mense ons boordkaarte inspekteer het ons STEEDS op die verkeerde vliegtuig geklim het, en hoe die vlugpersoneel geweet het dat dit die twee wit gesigte tussen die 118 Indiese pasassiers was wat op verkeerde vlug was, weet ons tot vandag toe nie. Ons het redelik ver agter gesit, maar toe die lugwaardin daar van die deur af begin wink, toe weet Rudi en ek sy praat met ons. Hierdie keer word ons persoonlik BEGELEI na die regte vliegtuig.

 

Die 3e probleem is om ‘n lugwaardige Boeing 737 te vind op Delhi lughawe, bedryf deur Indian Airlines. Laat ek bietjie toelig re hierdie “beyond sell-by-date” vliegtuie:

 

Soos jy die vliegtuig binnestap, merk jy op dat daar eksterne herstelwerk aan die romp gedoen is. Dit val jou op, omdat die herstelwerk met ‘n kwas toegesmeer is eerder as met spuitverf. Binne, merk jy op dat hier en daar dele van die afwerking nie meer daar is nie, wat jou laat wonder of ander – meer belangrike items – nie dalk ook weg is nie.

 

Die 4e probleem is om die vliegtuig na opstyging, lugwaardig te HOU. Kort na opstyg, kon ons voel dat die enjin-krag terug gesny word na gelykvlug, en in ‘n wye draai vlieg ons terug aanloopbaan toe en land weer.

 

Klaarblyklik is ‘n groot voël deur een van die enjins ingesuig, en die besluit was toe om eerder dadelik weer te land en die enjin na te gaan vir moontlike skade. ‘n 737 se enjins hang nogal na aan die grond wanneer dit op die wiele staan, en die tegnikus spring sommer voor in nadat die turbines ophou loop het. Hy ondersoek nou die lemme vir skade.

 

Intussen het die meeste pasassiers ook uitgeklim, en kyk nou hoe die tegnikus foutspoor. Ek weet nou nie veel van vliegtuig-enjins af nie, maar te oordeel aan die aantal turbine-lemme (die meeste) wat al stukkies van die punte verloor het, is hierdie voëls-deur-die-enjin ‘n gereelde gebeurtenis. Vandag s’n was dus blote formaliteit, en die tegnikus verklaar die vliegtuig lugwaardig. Ek twyfel of sy naam ook op die pasassiers-lys was, maar ons klim toe maar weer almal terug, en styg op.

 

Na ‘n half-uur se vlug begin die Himalajas onder die vliegtuig deurseil. Nadat ek per geleentheid oor die Alpe tussen Duitsland en Italië gevlieg het, het ek gedink dat as ek ‘n lugredery vlieënier was in Europa, dit my gunsteling roete sou wees, aangesien dit onbeskryflik mooi was. Dit lyk net so perfek en onmoontlik om vervelig te raak, selfs as ‘n daaglikse pendel. Die Himalajas verhef hierdie sensasie net na nog ‘n hoër vlak.

 

Na die verpligte zig-zag stroom-af/stroom-op met die Indus vallei en die suksesvolle omseiling van ‘n opgeskote koppie wat sig na die aanloopbaan belemmer het, het ons darem toe sonder verdere voorval geland by Leh.

The Theory of Evolution (of building)

November 29, 2010 in Sonder kategorie

Many years ago, just about right after the coming into existence of man – as in Homo Sapiens – the requirements for survival were very basic. This was well summed up by Maslow (a while later) as depicted graphically below:

 

 

Back then, man was mucking about pretty much at the bottom of this hierarchy, slowly progressing to Level 2, where as part of Safety and Security, shelter became an important issue. Primarily from the elements, but also from wild animals and later – following Cain’s poor example – against the attack of other groups wanting his possessions. The last parameter had not changed much over time and we still have the same problem today.

 

Now, as the anthropologists have discovered, man at the time was a hunter/gatherer. The men hunted, the women gathered. He lived in a cave which gave good shelter against the elements, but was pretty much a sitting duck once trapped there by the Tsotsis of that time.

 

This was a major drawback, as he only became aware of any threat once it was upon him, and this was the main reason why a lifestyle change took place – moving into a more open environment.

 

Once he had cleared the area – so he could see sufficiently into the distance – man reasoned that seeing as he now has this piece of bare level ground, he may as well plant something there. This would reduce his risk in getting killed during a hunting expedition and also extend significantly the time he could sit in the shade of a tree and drink beer.

 

He started cultivating the soil, ploughing with some water buffalo which he captured and domesticated – still practised in India, to this day. Soon he was farming comfortably. Thus it came to be that all the activities on the lowest level of Maslow’s triangle had been accomplished, and it was now time to progress to the next level – SAFETY.

 

By this time he had gotten very tired of the sticks and grass construction abode that he had been living in as an interim measure while preparing his Buena Vista.

 

Not only was it not very solid, he suffered terrible hay-fever due to the dust trapped by the grass. The challenge was therefore to now design and put up a free-standing structure of some sort to provide a more permanent shelter, using alternative natural materials – what else? – in order to still blend in with the environment (today you pay architects lots of money to achieve the same).

 

This process in itself also being quite an evolution – lateral thinking, we would call it today.

 

So he planted some posts interconnected with an inner and outer lattice of green boughs, filling the cavity with rocks. This worked really well in summer, due to the excellent ventilation and flow-through of air promoted by the gaps between these rocks.

 

During winter however, it was a very different story. The wind came right through these same gaps, and man realized that he needed to update his design in order to eliminate this problem. What to do, what to do …..

 

Then it hit him. Cowpats. Just pick them up from behind the plough and plaster the gaps between the rocks shut. And it worked real fine. Bear in mind that this came way before the invention of the wheel, so rates as a major discovery.

 

Seeing as man had used mostly bull dung for this plastering purpose and that the word “house” did not exist yet – come to think of it, the vocabulary in general was rather limited at the time – he would at the end of a hard day’s ploughing announce: “Me go bulldung now”. Which meant that he was going home to have a beer.

 

Of course all this happened before man could even write, so this story was told around the fire, generation after generation, and inevitably, over time, the term “bulldung” had become somewhat corrupted.

 

This was mainly due to ancient man’s migration downwards through Africa, and the way the colloquial pronunciation varied the further south he went. This is a natural phenomenon and still the case today, e.g. in Gauteng (north) the second vowel of the alphabet is pronounced ê, and in the Western Cape (south) as è (by way of example, up north a spoon is called a leepel, and down south a lieppel). In the same way, “uh” changed to “ih”, and bulldung became bullding).

 

When the word was finally taken up in the dictionary, the tip of the feather dipped in the ink-well, hit an oily spot on the parchment exACTLY one-quarter of the way through the downstroke of the first “l” of bullding, thus creating a gap. The “l” therefore, mistakenly, had now become an “i”.

 

As editing had not yet been an established profession at the time – mainly because very few people could actually read – this mistake slipped through, and has been perpetuated over the years in every successive reprint/revision of dictionaries.

 

Which is why today, we refer to this type of construction as a Building.

Sosiale Kommentaar

November 28, 2010 in Sonder kategorie

My vriend Charl – die een wie se skape storm as hulle die bakkie sien – vertel dat hulle daar op Aberdeen in die verlede gereeld ‘n rugby jaar-eindfunksie gehou het. Dis nou dorpsklub rugby, en tipies een van daai Leon Schuster funksies waar die mammies die biere tel.

Die Maandag na afloop van die funksie, word die terrein dan nou weer skoongemaak deur die plaaslike munisipaliteit, aan wie die fasiliteit behoort.

Een van hierdie skoonmaak  aksies behels die versamel van al die leë bottels. By een van hierdie geleenthede, raak die werker op wie hierdie takie geval het, net meer verward – “Perplexed”, soos die Engelse sê – met elke sak bottels wat hy bymekaarmaak.

Toe hy darem nou die 3e swart sak bottels bymekaar het en steeds nie klaar is nie, kon hy himself nie langer beteuel nie, en raak die volgende kwyt:

“So baie glas, en NIKS bloed nie?”

Die reis, eerder as die vakansie

November 27, 2010 in Sonder kategorie

Met die aanmeld by die Bronberrik Vloot Basis ter bevestiging van die finale vervoer reëlings na my 3e diensplig kamp, word ek twee dae voor my vertrek meegedeel dat die kamp gekanselleer is.

Nadat ek onsuksesvol probeer het om myself in ‘n alternatiewe kamp in te redeneer (nee, regtig), druil ek erg teleurgesteld by die huis rond. Ek was immers nou voorbereid om ‘n maand lank weg te wees van die werk af, nou moet ek sowaar weer Maandag daar inklok.

“Kom ons gaan met vakansie” stel my vrou voor. “Ja!” stem ek saam. “Wat van Namibië? Ons ry Saterdag!”

Op ons 2e dag in Namibië, rol ek die Jetta op pad na Mukurob (die Vinger van God), wat toevallig – vermoedelik in simpatie – ook omgerol het die volgende jaar. Nadat die lekkende brandstofpyp herstel is, moes beide linkerwiele afgehaal word omdat die bande losgekom het van die vellings agv die sywaartse glyslag voordat die kar “ge-flip” het. Die los klippe moes eers uitgehaal word voordat dit weer gepomp kon word. Nie dat ons ’n pomp gehad het nie, maar dit sou my besig hou totdat hulp “opdaag”.

Die standaard wielsleutel – ‘n stuk pyp wat wat seskantig gevorm is voor – raak toe voordat die eerste moer eens kon loskom, ovaal. Toe pak ons maar ons nood-toerusing – ‘n rugsak met baadjies, waterbottel en ‘n rol toiletpapier – en val in die pad, in die rigting van ‘n plaashuis wat ons so ‘n entweg terug opgemerk het.

Na ‘n paar km se stap, kom 2 plaasarbeiders in ‘n antieke Landcruiser bakkie op ons af en bied hulp aan. Ons ry terug na die kar toe, en met behulp van ‘n swaar hamer en die kop van ‘n stukkende een as aambeeld, MOKER hulle die wielsleutel terug na nuut. Nadat die spaarwiel egter installeer is, skeur die pyp oop voor, en die tweede pap wiel kan nie losgemaak word nie.

Die plaaseienaar, wat intussen per radio ontbied is deur ons helpers, kom toe daar aan met sy kar se wielsleutel, wat toe pas. Een van die Jetta se pap bande is toe opgepomp met ‘n handpomp en weer teruggesit. Ons volg die konvooi en ry die plaaswerf binne met sononder, met beide die voor-en agterruite op die agtersitplek van die Jetta.

Daar word toe aan ons verduidelik hoe besonder gelukkig ons was om so gou – dieselfde dag – gevind te word. Dis nie nou skool-vakansie nie, dus is die verkeer maar skraps daar rond. Boonop is hierdie spesifieke plaas nou slegs ‘n veepos, en dus gewoonlik onbewoond.

Die enigste rede waarom daar mense is, is omdat die plaas verkoop is en die huidige eienaar besig was om “uit te klaar”. Ek het later uitgevind dat dit beteken dat soveel as moontlik van die wild – Springbokke – uitgeskiet word.

Na ‘n heerlike aandete, is ons slaapkamer aan ons toegewys.

Die volgende oggend, sit ons die reis voort. Windhoek is mos immers nader as die huis. Die Marie-beskuitjie spaarwiel is intussen weer vervang deur die oorspronklike (gepompte) wiel en ons kon darem nou teen meer as die aanbevole 80km/h vorder.

Op Mariental (seker ‘n tak van Pupkewitz & Sons) koop ons ‘n rol kleefband waarmee ons die voor-en agterruite beter mee kon vasplak, want dis al wat dit in posisie gehou het. Ons slaap die aand oor by Hardap.

Die kar het nog goed gery, en die enigste nadeel was die windlawaai en die ekstra poging om aan die stuurwiel te hang sodat dit reguit bly loop. Dan was daar ook die volgorde waarin die deure nou moes oop-en toegemaak word. Eers links agter, dan links voor. Klim voor in en maak toe, dan die agterdeur, en dan kon ek weer agter die stuurwiel inskuif. En daar gaan ons.

In Windhoek aangeland, vat ek die McGyver-tape Jetta na ‘n plaaslike paneelklopper in die hoop dat hulle dit binne ‘n paar dae kon herstel. Dit is immers nou eers dag 4 van ons vakansie, en ons het nog ver om te ry: Etosha, Khorixas, Swakopmund, Gobabeb, Windhoek en dan terug huistoe.

Die uitslag is egter verdoemend. Herstelwerk sou nie eens binne ‘n paar weke moontlik wees nie. Ek moes dit seker verwag het te oordeel aan die lyftaal van die stomgeslaande eienaar van die herstelwerf, toe hy sy kop so skeef hou en stadig (baie ….. stadig) om die kar stap.

Aanvanklik het ek gedink hy klik sy tong –Tsk, Tsk – maar ek besef toe later hy is besig om homself uit te druk in die plaaslike ekwivalent van Eishh!, oftewel !Xauk!, !Xauk!

Maar ons het ‘n vakansie om te voltooi en Plan B is toe om my broer, wat op daardie stadium diensplig in Windhoek doen, se kar te leen. PG bied toe ook sy Mazda 323 goedgunstiglik aan, aangesien hulle op daardie stadium besig was met ‘n forensiese ondersoek na ongemagtigde binnemuurse skiet-opleiding met ‘n Uzzi. Hy sou dus nie binnekort ‘n motor benodig nie.

Tydens ‘n vorige diensplig kamp het ek Johannes Henschel – deesdae Dr Joh Henschel – ‘n natuurbewaarder ontmoet. Hy was op pad na Gobabeb – ‘n navorsingstasie in die Kuiseb-rivier – en het my genooi om te kom kuier as ek ooit in die omgewing is.

Kommunikasie met Gobabeb was slegs moontlik via Walvisbaai Radio, wat ‘n see-na-land verbinding was. Dus het jy die radio-stasie per landlyn geskakel, en hulle kontak dan Gobabeb via radio. Alhoewel jy in ‘n telefoon handstuk gepraat het, moes jy al jou frases afsluit met “OVER”. Dan weet die operateur in die middel dat hy die Gobabeb kanaal na ontvangs toe moet skakel sodat jy kon hoor wat die ander party gesels, en vice versa.

Daar was daagliks ‘n 15 min tydgleuf in die oggend waarbinne alle oproepe moes plaasvind, en dis gemaak vanaf Natuurbewaring se Windhoek kantore. So bevind ons onsself toe in Kaizer Strasse, waar ons rondvra waar die Natuurbewaring gebou is.

Die aanwysing van ‘n verbyganger is toe: “Reg oorkant die straat van waar die Boesman in die venster staan”. Ons loop verder, op die uitkyk vir ‘n standbeeld van ‘n Boesman agter glas, maar kry nie so iets nie.

Gelukkig sien ons toe die Natuurbewaring gebou oorkant die straat van waar ‘n Nama op ‘n leer besig was om ‘n gebou se ruite te was.

Voet-in-Mond nie dieselfde as Tong-in-Kies

November 26, 2010 in Sonder kategorie

In die finale uitspeelwedstryde van die fliek Dodgeball, het die vervaardiger uit sy pad gegaan om die verbale diarrhea wat sport kommentators partykeer pleeg – die noem van die voor-die-hand-liggende asook paradoksale uitlatings wat hulle kwytraak – in die dialoog weer te gee.

 

Hierdie uitdrukkings en gesegdes is bloot onbeholpenheid/gebrek aan woordeskat/aangeleerde geykte uitdrukkings aan die kant van die omroepers.

 

Dit is dus heel anders as die “one-liners” wat helde in aksie-flieks kwytraak soos “I’ll be back”, wat baie berekend doelbewus in beplan word om spanning te verlig/snaaks te wees.

 

Hier volg ‘n paar uitlatings wat al lewendig uitgesaai is tydens kommentaarbeurte en onderhoude:

 

“Ek het nog nooit knie chirurgie op enige ander deel van my liggaam gehad nie”

 

“Die voorste motor is absoluut uniek, behalwe vir die tweede een, wat identies is”

 

“Ek is baie verskuldig aan my ouers, veral my pa en ma”

 

“Verseker kom daar beserings en selfs sterftes in boks voor, maar darem niks ernstigs nie”

 

“Die renbaan is so gelyk soos ‘n snoekerbal”

 

“As die geskiedenis ditself herhaal, dink ek ons kan weer dieselfde gebeurtenis verwag”

 

“Ek sou nie sover gaan om te sê dat hy die beste speler op die veld is nie, maar daar is defnitief niemand beter nie”

 

“Hy dribbel baie, en die teenstanders hou niks daarvan nie – jy kan dit op hulle gesigte sien”

 

“Hierdie deelnemer hou die 4 vinnigste 1500-meter tye ooit. En al hierdie tye is oor 1500m”

 

“Wel, enige span kan wen – of die wedstryd kan gelykop eindig”

 

“Eienaardig genoeg, as mens die video in stadige aksie terugspeel, lyk dit of die bal selfs langer in die lug hang”

 

“Wat gaan jy doen as jou sokker-loopbaan verby is? Gaan jy aanhou speel?

Let op jou K’s en L’s (soos in Mind your P’s and Q’s)

November 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek was op skool al baie geinteresseerd in elektronika en het allerhande stroombaantjies gebou. By geleentheid het ek tant Johanna Spamer se stoof ook reggemaak. Ek dink dit is met dié dat oom Koos Spamer my toe genoeg vertrou om my te vra om die ligte skakelaars in sy vleiswerk kamer te herbedraad.

 

Daar was net een skakelaar wat 4 plekke se ligte tegelykertyd aanskakel, en dis mos nou darem ‘n vermorsing as jy net wil sien wat in die garage aangaan en die hoeder- en varkhokke se ligte kom ook aan.

 

Ek is natuurlik heel geneë om die takie aan te pak, siende dat my sakgeld ook sodoende aagevul kon word. Met behulp van my pa kry ons een van die ou tipe gietyster stroombreker kaste met die porseleinsekerings in die hande, en oom Koos koop die 4 skakelaars wat benodig word.

 

Die ligskakelaars is van die swart ronde bakeliet tipe wat jy op die oppervlak vasskroef. Die stroombreker is egter nogal iets spesiaal. Deesdae sien jy dit net in museums of in toekoms-flieks wat in verlate kragstasies geskiet word en waar die held dan die krag aanskakel met so ‘n oordrewe KLANGGG! eggo as hy die hefboom opdruk; ‘n aksie wat dan sommer ook die kas sluit. Nifty ontwerp vir daardie tyd.

 

Elke middag na skool is ek daar. Ek boor gate en skroef goed vas en bedraad na hartelus. Ná so twee weke is die projek voltooi, maar natuurlik is die werk nooit klaar voordat die papierwerk nie voltooi is nie.

 

Vir die wat nie weet nie, of al vergeet het, voor jy Brother etiket-drukkers gekry, het jy DYMO apparate gekry wat fisies die letters van agter af deur ‘n dikkerige plastiekfilm met ‘n gom onderkant gedruk het. Sodoende “rek” die materiaal dan, wat die plastiek wit verkleur. Dus kon jy enige kleur agtergrond kry, maar die letters was altyd wit. Dan plak jy nou jou etiket vas waar jy hom wil hê.

 

Die toestel het soos ‘n Scalectrix handgreep gelyk, met ‘n skyf wat jy roteer tot die regte letter in ‘n venstertjie verskyn. Dan druk jy die sneller, en daar sit die letter in die plastiek gevorm. Ek was nogal trots op my bedrewenheid en spoed met die DYMO. So maak ek die etikette om elke lig se funksie aan te dui. Soos in: “Agterplaas”, “Garage”, “Rookkamer” en “Hoenderhok”.

 

Nadat my pa, wat ‘n elektriese ingenieur is, die installasie kom inspekteer en veilig verklaar het, roep ek vir oom Koos om te kom kyk hoe als werk.

 

Oom Koos doen nou eers navraag oor die koste.   Nou ja, ek sukkel vandag nog steeds om ‘n prys te maak vir mense wat ek ken, maar ek maak my prys op R2. Dit het eintlik heel skaflik vergelyk met my 50c/per maand sakgeld van destyds. Nee, reken oom Koos, dis darem te min, en gee my R5. Ek voel natuurlik hoogs in my skik – dis amper soos ‘n tweede verjaarsdag in dieselfde jaar.

 

Nou inspekteer en toets oom Koos die installasie. Hy stuur sy seuns Kobie en Willie uit om te rapporteer of die regte skakelaar wel die regte lig aanskakel. Alles werk 100%. Die hoenderhok se skakelaar is laaste aan die beurt. Hier aarsel oom Koos. Hy druk met sy vinger op die etiket. Nee, hier is nie so ‘n plek op sy werf nie, reken hy met ‘n ondeunde glimlag.

 

“Hoe bedoel oom dan nou?” Ek is vinnig daar om te sien wat die fout is. Ek sien wat die fout is. Dis nogals bietjie van ‘n verleentheid – veral in die lig gesien van die feit dat my pa se bynaam boonop “Priester” was. Ek bied aan om gou die foutjie reg te maak, maar Oom Koos reken hy hou eintlik van die etikettering soos dit is; dit moet net so bly.

 

Jare na oom Koos se dood het Willie verdere verbouings aan die buitegeboue gedoen. Toe eers is my installasie vervang, met die een etiket wat toe nog steeds lees: HoenderHOL.

Koshuis

November 24, 2010 in Sonder kategorie

Alhoewel hy reeds toelating tot ‘n kursus het, hoor David toe eergister hy het dit darem gemaak met die 2e rondte keuring vir plek in ‘n koshuis volgende jaar op Stellenbosch.

Die onseker gewag nou verby, is die nuus steeds met gemengde gevoelens ontvang. In ‘n sekere opsig wil mens hom naby die huis hou sodat jy hom nog kan bystaan as daar moeilikheid kom – en omdat jy sy spontane gelag en kameraderie met sy ouer broer gaan mis.

In die ander opsig besef jy dat jy hom een of ander tyd moet laat gaan sodat hy solank kan oefen om na homself om te sien. Ons is immers sy ouers, nie sy eienaars nie.

Alhoewel ons as ouers altwee beide emosies ervaar, neig sy ma meer na eersgenoemde kant en sy pa na die ander kant toe.

David is baie ingenome, want hy wil graag Stellenbosch toe gaan. Daar woon en studeer familie, dus is dit darem nie heeltemal vreemd nie. Aangesien ek die een is wat reken hy moet bietjie uit die huis kom, behoort ek net so tevrede te wees met die toedrag van sake.

Nou hoekom is ek dan nou skielik benoud?

Die Ongevoeligheid van Ingenieurs – Feit of Versinsel?

November 23, 2010 in Sonder kategorie

Ek dink ingenieurs word dikwels verkeerd verstaan. Ons wil altyd ‘n logies werkbare oplossing verskaf om (eina!) selfs emosionele probleme op te los. Noem dit aangeleerde gedrag as jy wil, maar die aanbieding van ‘n gedetaileerde proses wat stap-vir-stap die pad weer gelyk sal maak is gewoonlik ongevraagd, aangesien al wat jou vrou wou hoor was: “Ag shame!”.

 

Ter illustrasie van hierdie probleem, en om sodoende begrip aan te wakker daarvoor, onderstaande:

 

Deesdae kan jy ‘n “country member” van ‘n gholf-klub word. Dus kan jy deur ‘n eenmalige fooi te betaal, gratis speel by ‘n boeket van bane deur die land. Bv, sou jy in Pretoria bly, sluit jy aan by ‘n plaaslike gholfklub en kry dan ook “speelreg” by een waar jy tipies gaan vakansie hou, sê Amanzimtoti of Hermanus.

 

So kom dit toe dat vier wildvreemde gholfers by so ‘n vakansie-baan opdaag een Desember. Hulle loop mekaar toevallig in die parkeer-area raak en omdat hulle niemand anders ken nie, raak hulle aan die gesels en besluit om saam ‘n 4-bal aan te pak.

 

Hulle betree die eerste bof en merk op dat die gholfbaan bykans verlate is. Die enigste ander spelers is doenig by die 4e putjie, en hulle voel heel tevrede met hulleself dat hulle dit so gelukkig getref het dat hulle sou kon deurspeel sonder ander spelers wat hulle vertraag.

 

So speel hulle voort tot by die 4e putjie, waar die groep wat hulle netnou gesien het, steeds besig is. En die ouens speel absoluut treurig. Die bal trek die hele baan vol.

 

Nadat hulle ‘n rukkie hierdie aktiwiteit dopgehou het sonder om enige vordering te bespeur, begin die nuutgestigte groep nou effe geirriteerd raak, en hulle stap na ‘n nie-speler wat amper lyk of hy in ‘n toesighoudende hoedanigheid daar is, en lug hulle klagte.

 

Hulle word toe meegedeel dat ‘n paar jaar gelede, ‘n brand in die gholfklub se kombuis uitgebreek het, en wel van so ‘n aard dat die brandweer ontbied moes word om dit onder beheer te bring. Net toe die brandbestryders die kombuis binnestorm, ontplof een van die gassilinders, en tref baie van die stukke glas wat toe daar rondvlieg, die bestryders in die gesig, soveel so dat hulle na afloop van die episode bykans blind is.

 

Die gholfklub het toe onderneem dat vir hulle onselfsugtige dapperheid, hulle een dag in die jaar die baan vir hulleself sou hê, en dis nou vandag daardie dag. Die plaaslike inwoners weet dit natuurlik, dis hoekom ons 4 vriende die enigste ander spelers daar is.

 

Nou voel die vier nogal sleg dat hulle so ongeduldig was, en die pastoor bied aan om ‘n biddag vir die brandmanne te hou by sy kerk, asook ’n deurkollekte.

 

Die dokter sê dat alhoewel hy slegs ‘n algemene praktisyn is en nie ‘n oogspesialis nie, ken hy gelukkig eksperts in daardie veld, en hy sal uitvind of daar nie dalk intussen nuwe mediese prosedures ontwikkel is wat moontlik die brandmanne se gesig kan herstel of darem verbeter nie.

 

Die prokureur bied aan om die rekords van die saak – want daar moes ‘n hofsaak gewees het – na te gaan en te bevestig dat die brandmanne darem hulle regmatige deel gekry het uit hulle versekering. Partymaal trek slagoffers van sulke rampe maar aan die kortste ent.

 

Die ingenieur sê niks. Hy dink duidelik diep. Die stilte begin nou effe ongemaklik raak soos die ander 3 afwagtend na hom kyk om met ‘n oplossing vorendag te kom.

 

Sy gesig verhelder opeens: “Nou hoekom speel hulle dan nie in die nag nie?”

Helder

November 22, 2010 in Sonder kategorie

Jan Twak noem in ‘n kommentaar antwoord op sy “Vriendskap met Vuil Onderbroeke” storie, dat die insident nogal “helder in sy kop vassteek”.

 

Ek dink die meeste mense het (een of meer) “helder” ervaring(s) wat hulle van tyd tot tyd stil maak. Dis dalk hoekom hierdie goed jou oorkom, sodat wanneer jy effe af is en dink dit gaan darem nou sleg met jou, jy kan besef dat dit al by tye erger kon gewees het. Dit kon dalk GLAD nie gegaan het nie.

 

Hier’s (een van) my storie(s).

 

Ek het al heelwat ouens gevat vir vlugte in my mikroligte vliegtuig. Dis ‘n Windlass Trike – die soort met die delta vlerk en die skroef wat agter sit. As jy van motorfiets-ry hou, is hierdie tydverdryf nog beter, want dis drie-dimensioneel. Baie van my passasiers word onmiddelik deur die gogga gebyt en begin kort daarna self met vlieg-opleiding. Van hulle het ook al daarna opgradeer na vaste vlerk (PPL) en giro-kopters.

 

Net so wil my vriend Kord Rothkegel ook saam gaan vlieg. Daar val egter gedurig iets voor wat maak dat ons net nie by Bapsfontein se vliegveld kan uitkom nie. Die een dag toe ons wel daarin slaag, wil Kord se 4-jarige seuntjie Mark, egter skielik glad nie sy pa los nie.

 

Die vliegtuig is al buite, voorvlug-inspeksie afgehandel en reg vir inklim. Kord wil baie graag vlieg, maar hy is eers Pa en dan kom die ander goed, dus stoot ons maar weer die trike terug die loods in. Ek kan al nie verstaan hoekom Markie skielik so klouerig geword het nie, maar weet darem nou dat hy nie volgende keer kon saamkom nie.

 

Een Vrydag oggend voor werk kry ons dit darem toe reg om by die vliegveld op te daag. Dis ‘n pragtige oggend, en ek weet sommer dit gaan lekker stil wees in die lug. Ons styg op, en dit is ook so – stabiel soos dit maar kan wees.

 

Baie mense wat vir die eerste keer in een van hierdie draadkarre vlieg, is maar skepties oor die goed se veiligheid. Of dalk eerder – hulle is eintlik bekommerd oor hulle EIE veiligheid.

 

My uitgangspunt – nadat ek na ‘n paar struktuursomme gekyk het en ook gesien het hoe stukkend ‘n mikroligte vliegtuig kan wees na ‘n ongeluk waar die insittendes dit steeds oorleef – is dat dit verseker veiliger is as ‘n “blik-aerie”. Hierdie is gewoonlik geneig om aan die brand te slaan op impak en dit help dus nie eintlik om die slag te oorleef nie.

 

In ‘n meer ligte luim as die somber prentjie hierbo, verduidelik ek dus altyd aan my passasiers hoe veilig die vliegtuigies is. As ek sien hulle is gespanne, doen ons eers ‘n kringvlug – opstyg en landing – net sodat die passasier darem kan sien dis moontlik (vir my?) om die trike weer in een stuk op die grond te kry. Dan ontspan hulle gewoonlik.

 

Nou is ek besig om vir Kord te verduidelik dat hierdie grassnyers nogal goed sweef, al gaan staan die enjin. Ek sny dus die krag na luierspoed toe en ons sweef te lekker – presies nes ek verduidelik het. Kord reken, ja al wat ons nou nog moet kry, is ‘n plek om te land. Ek dink, waarom nie, en antwoord terug: “Ja, sommer NET hier”. En ek draai skerp in na ‘n pad tussen twee mielielande regs van ons. Ek het geen plan om te land nie – alhoewel ons sou kon, omdat sulke noodgevalle ingeoefen word tydens vliegopleiding – ek wil net die beginsel demonstreer.

 

Wat ek egter vergeet het, was dat die laaste paar keer wat ek gevlieg het, ek alleen was, en die daaltempo van die trike dan aansienlik minder steil is – ek weeg maar min. Toe ek myself weer kom kry, is ons die paadjie heeltemal kwyt en ooghoogte met die bokant van die grastoppe, mis rakelings ‘n paar MOERSE erdvarkgate en begin voel hoe die kontoere periodiek teen die onderkant van die vliegtuig begin stamp. Die onderstel vou toe op – die een agterwiel sit langs die voorwiel – en met dié slaan die skroef die grond raak.

 

Die vliegtuig word toe opgewip deur die skroefslag en land onderstebo op die vertikale pyp (kingpost) wat so ‘n meter bokant die vlerk uitsteek en waaraan die agterste rand van die vlerk aan vas is. Die karretjie se boonste hegpunt breek toe los van die raam en val – met ons steeds daarbinne – deur die vlerk, wat toe die impak baie mooi demp.

 

Ons klim bykans ongedeerd uit die wrak uit – Kord moes later gaan vir ‘n paar fisio-behandelings en ek moes ‘n spalk vir ‘n gekraakte beentjie in my pinkie kry – en stap na die huis van my vriend Bossie wat tamaties geboer het op ‘n plot so ‘n km weg.

 

Ek bel huistoe – na sulke amper-insidente het ek al gevind jy is in ‘n absoluut berekende bui, alle aksies is meganisties – en vra my vrou om nie die kamera te vergeet nie. Na sy daar aangekom het gaan haal ons ‘n sleepwa by die aanloopbaan en ry die wrakstukke terug vliegveld toe. Dit het maar min plek gevat – ‘n hopie lap en pype teen die voorste afskorting van die loods.

 

Nadat my vrou haar “little cry” gehad het toe sy die flenters trike sien met Kord en myself ongeskonde – en BAIE tevrede met onsself met hierdie “prestasie” – het sy my later in ‘n stiller oomblik vertel dat sy dit nog sou kon hanteer as ek die ongeluk nie oorleef het nie, ten spyte van ons twee klein kindertjies by die huis. Maar as ek Kord doodgemaak het – wat 3 klein kindertjies by die huis het – sou dit onhoudbaar wees.

 

Die stukkende skroef – heelwat verkort na die aanwending as ploeg – het ek aan Kord gegee as aandenking ter herinnering aan ons noue ontkoming. Elke nou en dan loop ons mekaar raak, dan vertel hy my hy onthou daardie dag as die dag wat sy lewe begin het.

 

En ek wonder of Markie ‘n voorgevoel gehad het.

 

 

Die son, sê jy?

November 21, 2010 in Sonder kategorie

Partykeer is iets nie noodwendig humoristies is nie, maar eerder snaaks agv die absurditeit daarvan. Die volgende was vir my een van hierdie gevalle.

Behalwe vir Oslo en Bergen, is Noorweegse dorpies maar klein, aangesien daar destyds slegs 3.5miljoen inwoners landswyd was. Al is die land bykans vier keer kleiner as Suid-Afrika, is dit nog steeds ‘n besonder lae bevolkingsdigtheid. Die land is egter lank en dun, wat mooi illustreer word indien jy ‘n speld deur Oslo druk en dan ‘n papier uitknipsel van die kaart roteer rondom die speld en besef dat die bo-punt van Noorweë nou min of meer gelyk is met die onderkant van Italië.


Om voldoende akkommodasie aan die atlete, media en toeskouers te kon verskaf, moes die aanbieding van die 1994 Winter Olimpiese Spele dus oor ‘n paar dorpe versprei word. Suidelikste is Hamar, waar die snel-en figuurskaats aangebied is. Volgende Gjövik, waar ‘n berg ondergronds uitgehol is om yshokkie in aan te bied en dan die hoofdorp Lillehammer, waar hoofsaaklik die ski-spronge, moguls, tweekamp en ook die openings- en sluitingseremonies aangebied is. So ‘n uur-en-‘n-half (rustige) busrit tussen die uiterstes.


Dis Februarie-maand – wanneer oor die algemeen die meeste sneeu in Europa val – en alhoewel koelerig, is die temperatuur heel aangenaam gedurende die dag. As die son skyn is dit ‘n gawe 5 grade, en aangesien almal wat daar werk deur die organiseerders uitgerus is met die nodige termiese klere, word dit gemaklik hanteer.


As jy lekker warm gebad en dik aangetrek die oggend uitstap op die bevrore Hamar meer, is selfs die -17 grade draaglik, alhoewel jy gou lyk soos ‘n lid van die SANAE span. Sien hieronder.

Sodra die son egter sak, is dit ‘n ander storie. Teen daardie tyd is jou sokkies al klam van die sweet en het jy basies 20 sekondes om bv ‘n foto te neem, want dis hoe lank daar gevoel in jou vingers is sonder handskoene.


Natuurlik is daar wonderlike tegnologiese foefies wat te koop aangebied word om hierdie probleem te verlig. Lillehammer se strate was vir verkeer gesluit tydens die spele, met die hoofstraat vol stalletjies wat aandenkings en allerlei ander snuisterye verkoop.


Een van die “gadgets” is ‘n plastieksakkie met twee chemiese stowwe in. Sodra jy die membraan tussen die twee helftes breek en die chemikalieë meng, dan vind daar ‘n eksotermiese reaksie plaas wat hitte afgee vir ‘n paar uur. Die idée is dus om hierdie sakkies te aktiveer en dan in jou stewels te gooi voordat jy dit aantrek, sodat jy weer jou tone kan voel. Of in jou broeksakke te sit as handverwarmers wanneer daar sonder handskoene buite gewerk word.


Ek weet nie of dit nog so is nie, maar by die Randse Paasskou was daar altyd stalletjies waar magnetiese vensterwas apparate, groente slicer/dicer me-gafters en ‘n verskeidenheid borsels wat die mees uitheemse goed uit ‘n mat kon lig, te koop aangebied het. Hoe daai goed in die eerste plek tuis in jou mat sou inkom, is nog nie vir my mooi duidelik nie.


Die sukses van die bemarkingspoging het eintlik niks met die nuttigheid/oulikheid van die produk te doen nie. Dit gaan absoluut om die persoonlikhede van die aanbieders en hulle sêgoed. Jy vra nie sommer so ‘n ou vas of praat hom in ‘n hoek in nie.


Nou in presies dieselfde trant, beman een van die plaaslike inwoners – die dorpsmense het almal opleiding ontvang oor hoe om nice te wees met die toeriste – so ‘n stalletjie. Dis ‘n koue, triestige dag, swaar bewolk – die ideale geleentheid vir hom om hierdie “handwarmers” te bemark.


Van ons span ouens daar, is ek al een wat darem ‘n sonnige klimaat gewoond is – die ander is almal vanaf Engeland, wat toe ons daar weg is 2 weke tevore, absolute vrot weer beleef het.


Nou vra die bemarker sommer so in die algemeen of enige iemand daar in hulle land ook iets het waarmee jy die koue kan verdryf. “Yes” bied die een Engelsman aan. ”We have the sun”.