Die Professionele Beswaarmaker

Oktober 28, 2010 in Sonder kategorie

Originally published in (severely) edited form under Your Opinion in the November 2010 issue of Leisure Wheels magazine.

 

Nav die inhoud van briewe deur lesers soos gepubliseer in tydskrifte – in reaksie op briewe/artikels van ander lesers – lyk dit my of daar ‘n nuwe sub-spesie aan die ontwikkel is genaamd humanis objectus.

 

Die aard van hulle kommentaar is anders as die van die gewone leser – humanis commentus – in die opsig dat dit uitsluitlik geskryf is om een of ander negatiewe aspek – soms verkeerdelik – uit te lig en dan daarop uit te brei in bv. die naam van veiligheid en omgewingsverwante aspekte.

 

Die professionele beswaarmaker voel himself dus moreel geregverdig (verplig?) om ‘n uitspraak te maak oor ander se aksies – sonder om die omstandighede te ken – gebaseer op sy eie – gewoonlik konserwatiewe – verwysingsraamwerk.

 

Onlangse voorbeelde hiervan was kommentare op briewe gepubliseer in die motortydskrif Leisure Wheels, wat die korrektheid/veiligheid bevraagteken van a) twee absoluut ekstatiese seuntjies wat agter die stampskerm van ‘n Landrover Defender sit terwyl hulle pa deur die water ry b) iemand wat onder “heilige” kremetarte kampeer c) iemand wat toelaat dat ‘n pasassier op ‘n kampstoel in sy voertuig se bagasiebak ry.

 

Uit die aard van die saak is daar wel gevalle waar sulke tipe kommentaar geldig is, en ook die opinie sou wees van die oorgrote meerderheid lesers. Dit sou bv gevalle wees waar kampeer afval agtergelaat word of waar meer as net fotos uit die natuur geneem word.

 

‘n Paar jaar gelede, terwyl my vrou met haar motor die erf uitry met my seun as passasier, probeer twee gewapende boewe haar kar afvat. Tydens die gepaardgaande verset – hulle wou eers haar handsak hê, maar sy ook – glip haar voet toe van die rem af en die outomatiese motor loop agteruit deur die hek met oop voordeure. Die hek was ongelukkig nie wyd genoeg om ‘n motor met OOP deure te akkommodeer nie, gevolglik was die deure toe mooi teruggevou teen die modderskerms teen die stadium dat die motor die pad inrol. (Moeilik om te glo, maar toe wil die kapers skielik nie meer die motor hê nie!) Ander dan erg bewerig en die opvolg berading, was my vrou en seun gelukkig fisies ongedeerd. Vir baie mense ontaard hierdie tipe gebeurlikheid in ‘n tragedie. Maar in hierdie geval het dit nie, en dis my eerste punt.

 

Die tweede punt: Toe my seun (dieselfde een hierbo wat die kaping deurgemaak het) klein was en op die gras speel terwyl ek onkruid uittrek, wys (want hy kon nog nie eintlik praat nie) hy my ‘n by wat deur die gras kruip. Ek verduidelik toe vir hom in my beste brabbel dat bye nie daarvan hou as iemand met hulle vingertjies daarop druk nie, en dat hy dalk gesteek kan word. Dus moet hy die by los en nie verder daarmee speel nie.

 

Op daardie stadium het ons nog nie geweet of hy dalk allergies was vir bysteke nie, maar ek het geredeneer dat indien hy sou wees: a) Ek het ‘n kar – in goeie lopende toestand, b) ek weet waar die hospitaal is en c) dis Sondag, dus sou daar nie eintlik verkeer wees indien ek hom moes vat nie.

 

Tien minute later realiseer alles hierbo toe tegelykertyd. Dis nou hier waar Hannibal Smith van A-team faam sou gereken het: ”I love it when a plan comes together!”.

 

Mens sou (en sommige het …) kon redeneer dat ek onverantwoordelik was in my optrede, maar hier is die uitkoms van die saak: Ons was nou bewus van sy allergie en kon hom op ‘n desensitiserings program plaas. Ons het ook geweet die byeswerm wat in die voëlnessie in die Witstinkhout ingetrek het, sal moet uit.

 

Beide aksies is suksesvol uitgevoer met die byvoordeel dat Jacobus tot op hede (nou 21) dit nog nooit weer naby ‘n by gewaag het nie. Hy eet ook nie heuning nie.

 

Behalwe vir die versekeringsmaatskappy wat die eerste gebeurtenis as ‘n “ongeluk” klassifiseer het, sou die meeste ander mense – insluitende die beswaarmakers – dit as ‘n “misdaad” herken. Die tweede gebeurtenis sou onder “mediese ongeval” resorteer. Mens sou dus kon vra wat die verband dan nou is tussen die twee.

 

Eenvoudig – beide het mense toegeval wat na aan my hart is.

 

Die punt (jammer ek kom nou eers hierby uit) wat ek wil maak is dus: Berekende risikobestuur het oor die algemeen ‘n baie beter uitkoms as lukrake gebeurtenisse wat nie voorspel of beheer kan word nie (soos uitkoms gebaseerde onderwys, bv) . Anders gestel: Laat die kopstampe toe – verhoed die skedelbreuke.

 

My advies aan die professionele beswaarmakers is dus: Indien daar holisties na gebeure/aksies gekyk word en die wyer prentjie raakgesien word, mag dit dalk net moontlik wees om (meer) voluit te leef (en te laat leef).

 

NS       Indien daar lesers is wat steeds nie die beginsel van ‘n professionele beswaarmaker verstaan nie, probeer bietjie toegangsbeheer in jou buurt implementeer.

2 antwoorde op Die Professionele Beswaarmaker

  1. Neander het gesê op Oktober 28, 2010

    Twee jonkers na mekaar.

  2. jjjonker het gesê op Oktober 28, 2010

    Jammer,

    Dit was nie doelbewus nie. Dis ook nou nie dat ons eers ‘n tweeling is en hierdie tipe ding telepaties aanvoel nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.