As dit nie reg is nie….
Oktober 29, 2010 in Sonder kategorie
Jare gelede studeer my neef lugvaartkundige ingenieurswese op Stellenbosch. Dit was nogal moeilikerig, en nie so eenvoudig soos val uit ‘n boom nie.
Een van sy dosente was pedanties by uitnemendheid – ek dink elke student onthou so iemand uit sy/haar kursus – en een middag skryf hulle ‘n tutoriaaltoets in sy vak. Tutoriaaltoetse tel nou maar uit tien uit, en is eintlik maar ‘n manier van “roll-call”. Ipv om ‘n vel papier om te stuur sodat elke student dit (een keer, of meer) kan teken, verhoed hierdie metode dat studente afwesige vriende as teenwoordig kan merk. Dit maak dus seker dat studente wel middag-klasse eerder as slapies bybring.
Elk geval, die toetse word nagesien en uitgedeel en Dietmar sien hy het 0 uit 10 gekry. Nou dag hy maar dis vreemd, hy het mos darem seker die vraag reg gelees, en begin sy andwoordvel deurwerk. Dis ‘n hele bladsy vol berekenings vir hierdie 10 punte, en hy sien toe dat hy alles reg gedoen het, maar in die 3e-laaste reël die spoor effe byster geraak het, met die gevolg dat sy antwoord numeries verkeerd is.
Hy gaan sien toe die dosent en verduidelik die hele berekening en stel voor dat sy inset 8/10 werd is, maar dat hy sal skik vir ses.
Die dosent druk sy vinger op die antwoord onder aan die bladsy en sê: “Mnr W, is die antwoord reg?” “Nee professor”. “Wel, as dit nie REG is nie, dan is dit verKEERD”.
En dit was dit. Maar was die antwoord werklik verkeerd?
My jongste seun skryf nou matriek, en gisteraand epos my skoonsuster (dankie, Lilian!) vir hom ter opbeuring, ‘n paar voorbeelde van eksamenflaters, waarvan een hier onder aangeheg is. Diegene wat Pythagoras se stelling ken sal weet dat die antwoord 5 is, sonder om enige berekenings te doen.
Nou wonder ek of hierdie tipe antwoord darem nie ten minste helfte van die punte verdien ipv nul nie. Dis so of die skolier wat hierdie antwoord verskaf het dalk net meer op skool geleer het as sommiges van die wat numeries korrek was. Maw, iemand met so ‘n bietjie “attitude”.
Hopelik sien Professor H (of sy tipe) nie deesdae matriekvraestelle na nie.
Onlangse kommentare